×
Skakel na Engels

Hoe om jou kinders soggens uit die bed te kry

Saans kan jy hulle nie IN die kooi kry nie en soggens kan julle nie UIT die bed kry nie. Sug! Wek só jou klein Rip van Winkel
kinders uit die bed

Jy’s op ’n missie. Jy stap by jou kinders se kamers in en sê: “Dis tyd om op te staan!”, maar wanneer jy 10 minute later terugkom, het niks behalwe die horlosie se wyser nog geroer nie.

 

Verbreek só die kringloop en kry hulle betyds uit die bed uit:

1. Wees konsekwent

“Om ’n gereelde opstaantyd te hê is net so belangrik soos om ’n vaste slaaptyd te hê,” sê Mandy Gurney, die medeskrywer van Teach Your Child to Sleep (Hamlyn). “Jy hoef nie militaristies daaroor te wees nie – hulle kan maar naweke ’n bietjie later slaap. Maar as jy jou kind op ’n Saterdagoggend ure lank laat sluimer, sal dit ’n nagmerrie wees om hom/haar Maandagoggend uit die bed te kry.Gaan slaap jou kinders te laat? Dié nuttige tabel sal jou dalk verbaas!

2. Bederf hulle ’n bietjie

Soggens se gewoel is geneig om jou in ’n drilsersant te verander, maar ’n geskreeu (jy) en ’n gesloer (hulle) is nié hoe ’n mens die dag moet begin nie. Dink eerder aan aangename maniere om hulle aan die gang te help kry. Gurney bring elke oggend vir haar tienerdogter ’n glas melk. “Sy hou daarvan, maar dit dwing haar ook om regop te sit!” Dr. Marie Masterson, ’n kinderontwikkelingskenner en die medeskrywer van Enjoying the Parenting Roller Coaster (Gryphon House), gee vir haar tieners ’n warm gesiglappie om hulle te help om geleidelik wakker te word. Dis veral aangenaam vir ouer kinders, wie se liggaam volgens navorsing geprogrammeer is om heelwat later te gaan slaap en op te staan as wat skooltye in die algemeen toelaat. Vir laerskoolkinders kan die belofte van 10 minute op ’n iPad – sodra hulle aangetrek en geëet het, natuurlik – wondere verrig.

3. Laat hulle dit self doen

“Ons werk as ouers is om verantwoordelikheid aan die kind oor te dra,” sê Masterson. “Hoe vroeër jy begin, hoe beter.” Hoewel dit dalk klink soos ’n resep vir laat kom, weet dít: Kinders so jonk as vier of vyf is baie trots daarop wanneer hulle self hul wekker kan gebruik as hulle geleer is hoe om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar, beloof Masterson. Probeer dit net. En omdat lig noodsaaklik is om ons wakker te kry, oorweeg ’n wekker wat gloei of tree self in en maak die blindings oop of skakel ’n lig aan sodra die wekker afgegaan het. (PS: As jy nooit weer wil laat wees nie, volg dan dié drie goue reëls.)

As jy skaars jouself uit die bed kan kry, wat nog te sê jou kinders, sal dié wenke jou help om op te hou om daardie sluimerknoppie te druk.

Foto: iStock/Lisa5201

Lees ook

Hoe om jou kinders sover te kry om in hul eie beddens te slaap

Verander jou kinders se slegte gedrag in ’n week

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Waar om te begin as jou kind ’n alternatiewe instrument wil bespeel

Wanneer jy in ’n musiekwinkel inloop, is dit duidelik dat instrumente soos klawerborde en kitare baie gewild is, maar wat...

Close