×
Skakel na Engels

Hoe om jou kinders se speelgoed minder te maak

Die dramalose pad na ’n meer georganiseerde huis. Deur Sophie Hines
kinders se speelgoed

Enige ouer sal vir jou sê: As jy gedink het jou huis is onnet voordat jy kinders gehad het, wag net totdat hulle opdaag.

Behalwe vir die onafwendbare babagoed, kinderklere, stootwaentjies en fietse, is jou huis skielik vol kinderspeelgoed wat vriende en familie goedbedoeld vir jou kroos gee – om nie eens te praat van dié wat jy self vir hulle gekoop het nie.

Dis dalk ingewikkeld om van jou eie goed ontslae te raak en dit wat oorbly netjies te hou, maar wanneer dit by jou kinders se speelgoed kom, is daar ander uitdagings, soos sentimentele verknogtheid, hoe om te weet watter goed om vir jou jonger kinders te bêre, en, natuurlik, hoe om ’n tranedal te vermy as jou kinders uitvind hul besitting is aan die plaaslike liefdadigheidswinkel geskenk.

Hoe kan jy dus jou kinders se speelgoed uitdun sonder om drama te veroorsaak? Good Housekeeping in Brittanje het met die Britse professionele toporganiseerders gepraat om uit te vind …

Hoekom is dit so moeilik om van speelgoed ontslae te raak?

Speelgoed is in baie huise die vyand as jy dinge probeer organiseer. Vicky Silverthorn, die voormalige persoonlike assistent van die Britse sangeres en liedjieskrywer Lily Allen, skat dat sowat 80% van haar kliënte speelgoed as ’n bron van chaos noem waarmee hulle konstant sukkel.

“Dis ‘n groot probleem, want wanneer kinders heeltemal te veel speelgoed het, kan hulle nie elke item sien en waardeer nie. Dis vir hulle oorweldigend, net soos ’n oorvol klerekas vir volwassenes oorweldigend is,” sê Vicky.

Ouers se sentimentaliteit speel egter ’n groot rol in ons onvermoë om van speelgoed ontslae te raak. Helen Sanderson, wat persoonlike organiseringsdienste in die suidooste van Brittanje lewer, sê ouers assosieer speelgoed met kosbare herinneringe van hul kinders se grootwordproses en daarom is dit moeilik om dit te laat gaan.

Daar is ook die kwessie dat die kinders ontsteld sal wees as hulle besef ’n spesifieke speelding is nie meer beskikbaar nie – en die moontlikheid van ’n vreeslike vloermoer is iets waarvoor geen ouer lus is nie.

Lees: 8 stappe om van sentimentele, maar onnodige items ontslae te raak

Hoe kies jy van watter items om ontslae te raak?

Helen se praktiese reël is “as hulle dit ontgroei het, gee dit vir ’n jonger kind; as dit afgeleef is, herwin dit; en as dit nie gebruik word nie, te veel plek in beslag neem of jy meer as een daarvan het, skenk dit”.

Kate Ibbotson van A Tidy Mind in Yorkshire in Brittanje beveel aan dat jy jou kinders dophou terwyl hulle speel om te kyk met watter speelgoed hulle dit geniet om te speel, en nie aan te neem jy moet ’n spesifieke speelding vir ’n jonger broer of suster hou omdat ’n ouer kind verknog daaraan was nie.

“Net omdat ’n ouer kind op ’n sekere manier gespeel het, beteken dit nie ’n jonger broer of suster sal nie,” sê sy. “Moenie ’n speelding hou omdat jy op een of ander manier voel jy moet nie. Dis beter om die speelding vir ’n kind te gee vir wie dit vreugde sal verskaf.”

Kate sê ook jy moet mooi dink oor hoe geskik elke speelding vir ’n spesifieke ouderdom is. “As jou kind met iets speel wat eintlik vir jonger kinders ontwerp is, sal dit nie jou kind aanmoedig om te leer nie. As die speelding te gevorderd vir hom is, kan dit frustrasie veroorsaak en sal dit dalk nie goed vir sy selfvertroue wees nie,” sê sy.

As jy nie seker is hoe verknog jou kind aan ’n spesifieke speelding is nie, probeer om dit vir ’n rukkie te bêre en te kyk of hy of sy daarvoor vra of bloot heeltemal daarvan vergeet. Dit sal jou ’n goeie aanduideing gee of hy of sy daardie speelding sal mis as dit aan ’n liefdadigheidswinkel geskenk word.

Nadat jy die eerste uitdunningsrondte gedoen en van enige ongeliefde, oorgroot of ouderdomsongeskikte speelgoed ontslae geraak het, kan jy saam met jou kind ’n tweede rondte doen sodat hy of sy betrokke by die proses voel.

Wat is die beste manier om jou kinders in die opruimingsproses in te sluit?

Baie ouers is verras oor hoe maklik hul kinders van items ontslae raak, sê Vicky. “Die ma of pa sal lugtig wees om spesifieke speelgoed weg te gee omdat hulle dink hul kind sal ontsteld wees, maar wanneer hulle die kind vra, is hy of sy heeltemal tevrede om dit na ’n nuwe huis te laat aanbeweeg,” sê Vicky. “Toe ek met kinders gewerk het, het hulle die organisering van speelgoed geniet, want dit laat hulle belangrik en verantwoordelik voel.”

Ontrommeling kan nie net ’n positiewe uitwerking hê omdat dit ekstra plek skep nie, maar dit kan kinders ook laat besef dat “goeters” veranderlik is en hulle leer om empaties te wees. “Betrek hulle by die skenkingsproses aan ’n liefdadigheidswinkel,” sê Kate. “Praat met hulle oor hoekom ander kinders hul speelgoed nodig het. Deur speelgoed vir iemand anders te gee sal jy hulle bemagtig en goed oor hulself laat voel en ’n belangrike boodskap oordra. Dit is goed gedokumenteer dat dit ons op lang termyn gelukkiger maak om iets vir ander te doen, en dis nooit te vroeg om te begin nie.”

Hoe gereeld moet jy speelgoed uitdun? Vicky sê minstens twee keer per jaar, soos voor Kersfees en verjaardae, wanneer hulle waarskynlik nuwe speelgoed sal kry. “Ek het so baie ouers wat voor Kersfees en verjaardae gestres is omdat hulle wonder wat hulle met al die nuwe goed gaan doen. Wanneer jy speelgoed vooraf skenk of herbenut, sal dit van daardie druk wegneem.”

Lees: 8 kreatiewe maniere om geskenke toe te draai

Hoe moet jy die speelgoed organiseer wat oorbly?

Uit die oog is uit die hart wanneer dit by speelgoed kom, en al die opruimers met wie ons gepraat het, het gesê dis nie raadsaam om speelgoed op plekke te hê waar kinders dit nie kan sien of bykom nie.

“Om kleiener mandjies en houers vir speelgoed te hê wys jou kinders dat daar beperkte plek is en maak dit makliker om te besluit wanneer ’n ruimte vol is en opgeruim moet word,” sê Sally.

Helen beveel aan dat speelgoed in kategorieë gesorteer word om dit vir kinders minder oorweldigend te maak. “Daar is hope nuttige bêre-eenhede, laaiverdelers en mandjies wat jou kan help om speelgoed te subkategoriseer.”

Wat as jou kinders uit die huis is en jy vind dit moeilik om van hul ou speelgoed ontslae te raak?

Sentimentele waarde kan veroorsaak dat ouers speelgoed hou lank nadat hul kinders uit die huis is, maar kom ons wees eerlik: Jy kan jou solder waarskynlik heelwat beter benut as jy dapper is en van onnodige goed ontslae raak.

Helen stel voor dat jy “net een item kies en dit in ’n aandenkingsboks hou, en dan ander in ’n kreatiewe projek omskep en foto’s neem van enige iets waarvan jy beplan om ontslae te raak sodat jy steeds ’n sigbare aandenking het”.

Van: goodhousekeeping.com

Foto: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

Stap vir stap: Hoe om uit kratte rakke vir jou kinders se speelgoed te maak

Die ideale ouderdomsgaping tussen kinders

Lees dít voordat jy vir jou kind hierdie “speelding” koop

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief