Om buite te kom en die son op jou lyf te voel is een van die hoogtepunte van die somer. En alhoewel almal weet dat te veel blootstelling aan UV-strale sleg is vir ons vel, besef almal nie dat ons hare ook daaronder ly nie. Só kan jy die meeste van die somer maak sonder dat jou kroon te laat les opsê.
Pin hierdie artikel vir later. Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.
Wag dalk voor jy kleur
Die grootste gevaar wat die son vir jou hare inhou, is uitdroging. Dieselfde geld haarkleur. As jou hare te veel chemiese prosesse ondergaan het, sal blootstelling aan die son dit net nog droër en brosser maak. Ons beveel aan dat jy jou hare voor die somervakansie kleur of jou kleurafspraak tot ná die somer uitstel.
Lees: 7 wonderlike produkte vir natuurlike krulhare
Gebruik ’n topgehalte-opknapper
Opknapper gaan hierdie somer jou hare se beste vriend wees, want dit gaan help om vog in jou hare terug te plaas. Maak seker dat jy ’n produk kies wat by jou haartipe pas. Om in ’n aanlosopknapper te belê is ook ’n slim idee, of om jou gewone opknapper vir ’n haarmasker te verruil vir ekstra bevogtiging.
Verander van sjampoe
Ons sweet meer as dit warmer is, wat beteken dat baie van ons ons hare meer gereeld moet was om te voorkom dat dit toutjiesrig en vetterig lyk. Ongelukkig is sjampoes ook geneig om hare uit te droog. Daarom stel ons voor dat jy’n sagte sjampoe sonder sulfate kies as jy jou hare meer gereeld gaan was.
Swem slim
Die chemikalieë in swembadwater sowel as seesout laat hare ook uitdroog. Dit beteken dat jy nie jou hare moet was voordat jy gaan swem nie, want sjampoe stroop dit van die natuurlike olies wat dit bevogtig en gesond hou. ’n Swempet is eintlik ideaal. Dis dalk nie veel van ’n modestelling nie, maar jy sal jou hare ’n reuse-guns bewys!
Lees: 6 belangrike feite vir wanneer jy hare was
Laat dit natuurlik droog word
Ons almal weet dat die gebruik van warm stileertoestelle baie skadelik vir ons hare is. Daarom is dit nou die ideale tyd om voordeel uit die warmer weer te put en jou hare so dikwels moontlik natuurlik te laat droog word. As jy vir ’n tyd lank van jou stryk- of krultang kan afsien, volpunte vir jou.
Pas jou kleur mooi op
As jy ’n nuwe, glansende haarkleur het, behoort jy in haarsorgmiddels te belê wat geformuleer is om dit te beskerm. Die son is berug vir sy manier om haarkleur baie vinniger te laat verdof. Daar is egter sjampoes en opknappers wat jou hare lewendig sal laat lyk, sowel as sproeie wat dit teen UV-strale beskerm.
Dra ’n hoed
’n Wonderlike wenk om jou hare én gesig teen skadelike sonstrale te beskerm, is om ’n hoed te dra. Daar is heelwat stylvolle opsies beskikbaar wat jou sjiek langs die swembad sal laat lyk terwyl dit jou hare veilig en gesond sal hou.
FOTO: iStock/monkeybusinessimages
LEES OOK:
Dié nuwe haarkleurtegniek sal jou slanker laat lyk!