×
Skakel na Engels

Hoe om jou hande jonger te laat lyk

Dermatologiese raad vir jou hande. Deur Sophie Hines
hande jonger

Van plooie tot lewervlekke, ons hande is een van die eerste plekke waar ons tekens van veroudering begin sien. En hoewel daar niks mee fout is om ouer te word nie, is dit nie lekker as ons hande ouer lyk as wat ons voel nie. Hoe kan jy dit jonger laat lyk?

Ons het met dr. Sharon Wong, ’n konsultant-dermatoloog, gesels om uit te vind wat hande verouder en wat jy kan doen om dit beter te laat lyk as jy wil.

Wat is die grootste oorsake van veroudering in die hande?

Die vel aan die agterkant van ons hande is van nature dun en dis een van die eerste plekke waar veroudering wys. Die belangrikste eksterne faktor in veroudering van die hande is oormatige sonblootstelling, wat vlekke en pigmentasie veroorsaak en kollageen en elastien in die vel vernietig. Dit is die twee belangrikste steierproteïene wat die plompheid en elastisiteit aan ’n jeugdige vel verskaf.

Interne oorsake is grootliks weens genetiese faktore, maar die verlies aan estrogeen gedurende die menopouse veroorsaak verdere verlies aan kollageen in ’n vrou se vel.

Lees: Sonskermmiddels: Moenie hierdie 4 plekke vergeet nie!

Teen watter ouderdom begin vroue raaksien dat hul hande ouer lyk?

Die meeste vroue begin in hul 40’s sien dat hul hande verouder, maar as hulle vroeër reeds minder versigtig met sonbeskerming was, kan die tekens van velveroudering heelwat vroeër sigbaar raak.

Hoe kan jy plooie en ouderdomsvlekke op jou hande verminder?

Dis nooit te laat om daagliks ’n hoëfaktor-breëspektrum-sonskermmiddel te begin gebruik nie – en onthou om dit deur die dag weer aan te wend. Wend sonskerm aan jou hande wanneer jy bestuur, en selfs op ’n bewolkte dag, want studies toon dat 80% van UV-strale van die son deur wolke kan dring.

’n Droë, gedehidreerde vel laat fyn lyntjies en plooie opsigteliker lyk. Maak dus seker jy wend gedurende die dag bevogtigende middels aan. Daar is bewys dat rome wat retinol (samestellings met ’n vitamien A-basis) bevat kollageenproduksie aanmoedig en mettertyd kan help om pigmentasie, kolle en vlekke te laat vervaag.

As jy bereid is om ’n meer indringende behandeling te ondergaan, kan dermatiese vullers met naaldtegnieke gekombineer word om plooie en fyn lyntjies op jou hande uit te stryk en jou vel weer plomp te maak.

Vlekke en pigmentasie kan met chemiese afskilfering en sekere soorte laser doeltreffend behandel word.

Lees: Hoe om van donker vlekke op jou vel ontslae te raak

Wat van jou vingernaels?

Jou vingernaels is geneig om stadiger te groei en dunner en brosser te raak wanneer jy ouer word. Daarom is dit ook meer geneig om te splits. Die kleur van naels kan ook mettertyd verander en dof, grys of geel raak.

Hoewel die meganismes nie heeltemal verstaan word nie, is dit moontlik dat verswakte sirkulasie na die vingers en kumulatiewe UV-blootstelling ’n rol kan speel.

Ek beveel gereelde bevogtiging en massering van die vingerpunte en rondom die naels aan, en om skade aan die naels te beperk deur handskoene te dra wanneer jy met chemikalieë werk. Beperk ook manikure en die gebruik van naellak tot die minimum.

Van: goodhousekeeping.co.uk

FOTO: iStock/guvendemir

LEES OOK:

3 handerome wat die tekens van veroudering beveg

Laat jou hande jonger lyk

5 slegte gewoontes wat jou hande verouder

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hier is alles wat jy van vroeë menopouse moet weet

Een uit 100 vroue sal hul menopouse voor hul veertigste verjaarsdag bereik. Deur dr. Sara Kayat

Close