×
Skakel na Engels

Hoe om ingroeihare te verwyder

Raak ontslae van ingroeihare en die pyn wat daarmee gepaardgaan!
exfoliate

Skeer, die mees praktiese en ekonomiese opsie wanneer dit by die verwydering van liggaamshare kom, is iets wat die meeste van ons óf gereeld óf van tyd tot tyd doen. Een van die grootste nadele van haarverwydering is die moontlikheid van ingroeihare, ʼn pynlike affêre wat kan ontsteek indien dit nie reg behandel of verwyder word nie. Hoewel ingroeihare dikwels ʼn probleem vir mense met growwer hare is, kan enigiemand dit kry wanneer hare nie reguit uitgroei nie, maar weer onder die vel ingroei. Gelukkig is dit makliker om te voorkom en te verwyder as wat baie mense dink. Volg hierdie stappe:

Stap 1 

Dit klink dalk logies, maar gooi jou stomp lemmetjie weg en gebruik ʼn nuwe een. Stomp lemme maak dat jy ʼn paar maal oor dieselfde area moet skeer om van die hare ontslae te raak. Dit veroorsaak skawing wat weer tot ingroeihare kan lei.

Stap 2 

Begin met ʼn afskilferingsroetine om te voorkom dat dooie velselle jou porieë verstop en irritasie veroorsaak. As jy ʼn ingroeihaar het, kan jy die area afskilfer om die betrokke haartjie na die oppervlak te help kom sodat jy van die probleem kan ontslae raak.

Stap 3 

Hitte is goed vir die verligting van pyn en ongemak. Bedek die geaffekteerde area vir 10 minute met ʼn warm lappie om die vel te versag en jou porieë oop te maak sodat die haar makliker kan uitkom. 

Stap 4 

Gebruik ʼn skerp haartangetjie wat met alkohol gesteriliseer is. Maak seker dat daar genoeg van die haar bo die veloppervlak is om ʼn goeie houvas te kry sodat ʼn gedeelte nie agterbly nie. 

Stap 5 

Wanneer die haar verwyder is, kan jy ontsteking verlig deur ys op die area te plaas en die vel met teeboomolie of aalwyn te behandel. Dit sal jou vel streel en enige bakterieë doodmaak sodat die area kan genees.

 

Foto: iStock/Deagreez

LEES OOK:

5 skeerfoute wat jy waarskynlik maak 
7 goed wat jou bikiniwaks-terapeut wil hê jy moet ophou doen 
Hoe om jou skeermes langer te laat hou 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dít is hoekom vroue hul haarstyl ná ’n mislukte verhouding verander

’n Sielkundige verduidelik. Deur Sophia Hindes

Close