×
Skakel na Engels

Hoe om die verandering in jou hare ná 40 te hanteer

Sorg dat jou kroon sy glans behou
verandering in jou hare ná 40

Namate ons ouer word, moet ons ons skoonheids- en haarsorgroetines verander om by die onafwendbare veranderinge aan te pas wat ons lyf ondergaan. Hier is ’n paar maniere waarop jou hare verander en hoe om dit te behandel sodat jou kroon op sy beste lyk.

Droogheid

Een van die algemeenste haarkwessies wat vroue bo 40 raak, is dat hare growwer en droër word. Die beteken dat jy meer aandag aan jou opknap-regime moet gee en in sulfaatvrye handelsname van ’n hoë gehalte moet belê wat spesifiek vir volwasse hare gemaak is.

Ons stel ook voor dat jy ’n aanbly-opknapper gebruik om jou hare tussen wasse gehidreer te hou, en elke paar weke ’n oornagmasker aanwend vir ’n gesonde voorkoms.

Haarverlies

Alhoewel haarverlies iets is wat meer mans as vroue raak, ervaar ons dit ook namate ons ouer word. Presies hoeveel jy verloor, hang van jou gene af, maar daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om dit tot die minimum te beperk, soos om dit so dikwels moontlik los te dra om spanning te verminder, jou hare nie te borsel terwyl dit nat is nie, en produkte te gebruik wat minoksidiel bevat, ’n middel wat haargroei bevorder.

Lees ook: Voorkom só haarverlies

Verswakking

Ná 40 is ons hare ongelukkig nie so sterk soos in ons 20’s nie. Dit beteken dat jy jou hare soos ragfyn sy moet begin hanteer – baie sagkens. Doen dit deur alle verhittingsprodukte op ’n laer temperatuur te stel en vooraf ’n beskermende haarsproei aan te spuit om die skade te verminder wat deur stileertoestelle veroorsaak word.

Stadiger groei

Met verloop van tyd groei ons hare nie meer so vlytig soos toe ons jonger was nie, en teen ons middeljare neem haargroei baie af. Dit beteken dat jou hare waarskynlik nie so lank soos in jou jong dae sal groei nie, maar gelukkig is daar heelwat korter haarstyle wat ouer vroue pas en jou selfs jonger kan laat lyk. En dis iets wat ons almal wil hê, nie waar nie?

Lees ook: Wetenskaplikes ontdek die geen vir grys hare

Verminderde glans

Verbeel jy jou net, of het jou hare dowwer geword? Dit is net nog een van die newe-effekte van ouer (en wyser!) word. Ons hare verloor vetsure en proteïen namate ons ouer word, en dit laat dit nie net leweloos lyk nie, maar maak dit ook meer vatbaar vir skade. Buiten om ’n goeie opknapper met elke was aan te wend, kan ’n haarolie ook help om jou hare te bevogtig, en dit meer glansend laat lyk.

FOTO: iStock/FatCamera

LEES OOK:

3 topwenke vir lieflike lokke

Haarkleurskakerings wat jou jonger sal laat lyk

Vier haarstyle wat die jare sal laat waai

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Opknapwas: Wat is dit en is dit goed vir jou hare?

'n Sjampoelose was? Dis dalk presies wat jou hare nodig het.

Close