×

Hoe om die laaste week van “Janu-worrie” te oorleef

Is jy platsak ná Desember? Moenie stres nie! Ons het vir jou vyf praktiese wenke oor hoe om die laaste paar dae van hierdie skynbaar eindelose maand te oorleef
einde van die maand

Die feestyd ruk ons almal se sak en omdat baie van ons in Desember vroeër betaal word, voel die tyd tot Januarie se betaaldag nog langer as wat dit regtig is. Maar daar is lig aan die einde van die tonnel – betaaldag is (eindelik!) nog net ’n paar slapies weg en ons het vir jou ’n paar slim wenke om jou te help om jou rande te rek.

Oorleef ’n platsak-Januarie só:

1. Pak jou eie middagete in 

As jy gewoonlik vir middagete gaan uiteet of by die naaste geriefswinkel iets koop, is dit nou ’n goeie tyd om te bespaar deur jou eie middagete werk toe te neem. En daar is niks fout met ’n goeie ou toebie nie!

LEES: 4 sakpas wenke vir kosblikke

2. Hou op rook

Sukkel jy om by jou Nuwejaarsvoorneme te hou om op te hou rook? Miskien is die huidige stand van jou geldsake net die motivering wat jy nodig het, veral as jy by die winkel tussen ’n pakkie sigarette en ’n brood moet kies!

LEES: Hou op rook in 10 stappe

3. Verkoop dit!

As jy ongebruikte items (of ongewenste Kerspresente!) verkoop, kan dit jou ’n bietjie meer kontant in die hand gee. Probeer een van Suid-Afrika se top aanlyn snuffelgidse, soos Gumtree of OLX.

LEES: 4 webtuistes wat jou kan help om van wit olifante ontslae te raak

4. Gebruik kontant pleks van kaarte

Dis moeiliker om tred te hou van jou besteding wanneer jy krediet- of debietkaarte gebruik, want jy sien nie hoe die geld fisiek uit jou beursie verdwyn nie. Los dus die kaarte by die huis! Gaan jou saldo na, trek enige debietorders of ander uitgawes af en trek ’n spesifieke bedrag kontant vir die oorblywende dae. Dit sal help keer dat jy onnodig geld uitgee.

LEES: 4 wenke wat jou in 2017 ryk(er) sal maak

5. Benut wat jy het ten beste

Probeer om te gebruik wat jy reeds het, of dit nou is wanneer jy vir jou gesin kosmaak of wanneer jy maniere probeer kry om die laaste naweek voor betaaldag te vul. Kyk in die vrieskas en spens en probeer ’n paar nuwe kombinasies. Pleks van uiteet of prettige (dog duur) gesinsaktiwiteite, bring die naweek by die huis deur en braai, speel bordspeletjies of verkoop selfs goed (daardie ongewenste presente!) op ’n mark.

LEES: 12 gratis doendinge vir die vakansie

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 maniere om ekstra geld met jou huis te verdien

Deborah Herd vertel hoe jy jou huis in 2017 vir jou kan laat werk

Close