×
Skakel na Engels

Hoe om dapper te wees

Die tweemalige Suid-Afrikaanse Paralimpiese en Springbok-atleet Emily Gray het baie dinge oorkom. Toe sy 11 was, is beenkanker by haar gediagnoseer en moes haar een been geamputeer word. Sy het besluit om dapper en positief oor haar lewe te wees. Hier deel sy haar vyf wenke oor hoe om dapper te wees

 

 

1.    Volharding

“Ek dink dit is een van die moeilikste take om aan te pak omdat dit makliker is om op te gee as om deur te druk. Dis moeilik om jouself te motiveer om deur die uitdaging te veg, maar jy moet in jouself glo en jouself oortuig dat jy dit kan doen. Dit is iets waaraan jy bewustelik en konstant moet werk.”

 

2.    Aanvaarding en begrip

“Wanneer jy bevraagteken en analiseer hoekom ’n ontbering op jou pad gekom het, kan dit jou daarvan weerhou om dit te aanvaar en daardeur te werk. Verstaan dat daar ’n rede vir dié uitdaging is en dat dit deel van ’n groter prentjie is.”

 

3.    Vra hulp

“Hoewel jy sterk genoeg kan wees om jou omstandighede sonder ander se hulp te takel hoef jy nie te voel jy móét dit alleen doen nie. Ek was baie gelukkig en geseën om my familie se ondersteuning te hê, en die liefde wat hulle gebied het, was ontsaglik en integraal om my te laat besef dis nie ’n stryd wat ek alleen hoef te stry nie.”

 

4.    Glo in ’n groter saak

“Hoewel dit moeilik is om te aanvaar of verstaan, is ’n smartlike gebeurtenis jou noodlot en dis deel van jou reis. As ek nou terugkyk, sou ek nie verander waardeur ek is nie. Dit was moeilik, maar dit het my die mens gemaak wat ek vandag is en ek is oor niks spyt nie. As dit nie met my gebeur het nie, sou ek waarskynlik nie die mens gewees het wat ek vandag is nie en sou ek waarskynlik nie bereik het wat ek het nie. Ek is dankbaar, want ek voel dit het my gedwing om baie ander hindernisse in my lewe te oorkom.”

 

5.    Beweeg vorentoe

“Die beste raad wat ek jou kan gee, is om aan te beweeg en aanhoudend vorentoe te kyk. Moenie jouself bejammer nie, aanvaar wat gebeur het en verbind jou daartoe om dit te oorkom. Moet nooit vergeet dat daar mense is wat erger daaraan toe is as jy nie en dat almal hul eie stryd stry. Soms kan dit jou help om dapper te wees as jy sien watter moeilike situasies en omstandighede ander mense baasgeraak het.”

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Op reis met Embeth

‘Ek wil júlle lewe hê,’ het die winkelbestuurder gesê. Ek kon begryp wat sy dink terwyl sy twee middeljarige toeriste...

Close