×
Skakel na Engels

Hoe om (beter) met jou tiener te praat

Hoe gemaak met jou tiener se stilstuipe? Hier is wenke om jul (karige) kommunikasie ’n hupstoot te gee

“Wanneer kinders tussen 12 en 15 jaar oud word, begin hulle van hul ouers af wegbeweeg – hulle word hul eie mense, begin op hul vriende staatmaak vir emosionele steun en gaan minder na Ma en Pa vir raad,” sê Lynn Schlesinger, ’n gesinsterapeut. Dit beteken dat ouers hul strategie moet verander.

1. Gebruik die sydeur

Wanneer jy met jou tiener kommunikeer, sal ’n tromp-op-benadering jou moontlik in ’n baksteenmuur laat vasloop. As jou kind ’n indringende vraag sien aankom, gaan hy of sy dit afweer. “Jy probeer dalk uitvind wat is die naam van jou kind se nuwe vriend. Moenie sê: ‘Wie is daardie kind vir wie jy die afgelope tyd so SMS’e stuur nie?’,” aldus dr. Robin Haight, ’n kliniese sielkundige wat in adolessente spesialiseer. “Vra eerder alledaagse vrae soos: ‘Watter PlayStation-speletjie speel jy?’ ‘Het jy ’n hoë telling gekry?’ Jou seun sal dalk oor die speletjie begin gesels en dalk noem dat ‘Brian’ beter punte as hy kry.”

2. Bring ysbrekers

Gesprekke verloop dikwels gemak-liker wanneer dit deur iets tasbaars aan die gang gesit is. Dit is iets wat vervaardigers van dokumentêre rolprente en onderhoudvoerders op TV goed weet, aldus Ricki Stern, ’n ma van drie asook ’n vervaardiger van dokumentêre rolprente. “As jy iets met hulle doen, soos om in ’n motor te ry of te kook of deur iets in hul hande te sit, sal hulle meer geredelik oor die onderwerp begin praat. Voor jy weet, dwaal hulle af na ’n raakpunt oor iets wat meer inligting verklap.” Bring dus daardie stapel DVD’s huis toe – dit kan dalk net ’n gesprek aan die gang sit. Stap die huis binne met ’n sak kruideniersware en jy sal nie vir lank alleen wees nie.

3. Laat staan daardie emosie

Wanneer julle gesels, “Moenie aan hulle terug-eggo wat hul pas gesê het bloot om te bewys dat jy geluister het nie. ’n Tipiese tiener sal antwoord, ‘Duh, ek het mos nou net so gesê’,” sê Haight. “Beskryf eerder die emosie wat hulle weergegee het.” As jou seun byvoorbeeld ’n meetkundetoets huis toe bring waarvoor hy ’n D gekry het en hy sê: “Ek is hopeloos in wiskunde,” toon empatie deur te sê, “Dis erg om te voel ’n mens kry nie iets reg nie.” Jy stuur dus ’n sein uit wat by die emosie aansluit, en vertel hom nie hy is verkeerd nie (“Jy’s nie dom nie!”) of gaan nie oor in maak-dit-reg-modus nie (“Ons sal ’n onderwyser kry”). En moenie altyd probeer om die gemoed te lig wanneer jou kind ongelukkig huis toe kom nie; jy kan só ’n gesprek beëindig nog voor dit begin het.

4. Wees die student

Om te spog met al jou ervaring en vaardighede, kan ’n tiener laat toeslaan. “As jy nederig is en jou eie kennis op die agtergrond hou, gee jy jou kind kans om belangrik te voel,” sê Ayers. Probeer byvoorbeeld ’n nuus-invalshoek, soos, “Ek lees die nagklubs gaan strenger raak met die na-gaan van ID’s. Nie baie seuns in jou klas gaan na klubs nie, of gaan hulle?” Of “Vertel my bietjie, wat is so wonderlik omtrent Glee?”, stel Amber Madison voor, skrywer van Talking Sex With Your Kids: Keeping Them Safe And You Sane – By Knowing What They’re Really Thinking (Adams Media). Jy kry insigte oor jou kind deur bloot te luister hoe sy oor die karakters praat.

5. Mik laer

“Moenie dit persoonlik opneem as jou kind nie baie praat nie,” sê Haight. “ ’n Deel van kind grootmaak behels dat jy verstaan dat hulle ’n aparte lewe het, en dat hulle besluite sal neem wat nie noodwendig op jou reflekteer nie.” Ayers sê: “As jy genoeg by jou kinders se lewe betrokke is – deur hulle na plekke te neem, aandete saam te ge-niet – hoor en sien jy genoeg om moei-likheid te sien aankom. Net omdat kinders nie praat nie, sê nie noodwendig daar is ’n probleem nie. Dis ’n feit dat tieners swak kommunikeer. Stel jou verwagtinge laer, en lig hulle hoër soos die tyd verbygaan.”

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 redes hoekom jy ’n ouer moet wees, nie ’n tjommie nie

Dis lekker as jou kroos jou as een van hulle sien, maar kinders voel veilig (en gedra hulle beter) as...

Close