×
Skakel na Engels

Hierdie SA ma se blogplasing oor haar seuntjie se verdrinking is hartverskeurend

Op 30 Desember 2016 het die Kaapstadse ma Jane Fraser ’n perfekte dag saam met haar tweejarige seun deurgebring. Maar binne ’n paar kort minute het alles verander. Die aangrypende blogplasing wat sy oor haar dierbare peuter, Natey, se verdrinking geskryf het, het soos ’n veldbrand op die internet versprei.
Jane Fraser

Die foto van Natey is deur sy ma op die strand geneem ’n paar uur voor sy dood. FOTO: Versksaf deur die familie

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se webwerf verdrink sowat 600* kinders elke jaar in Suid-Afrika. Tien keer soveel kinders oorleef ’n amperverdrinking, maar sal nooit heeltemal herstel nie. Hoewel elke storie oor ’n verdrinking op ’n strand of in ’n plaaslike swembad tragies is, laat hierdie ma se aangrypende weergawe van die dag waarop haar seun einde verlede jaar verdrink het ’n mens net weer besef hoe vinnig so ’n tragedie kan gebeur.

Jane se blog gee die besonderhede oor die dag se gebeure en wat tot die tragiese voorval gelei het.

“Natey is ewe vrolik na die junior afdeling by die gim, en toe ek hom vra of gaan bly om te speel het hy weer ja gesê. Ek het gesê: “Baai, sien jou later”, en hy het vrolik vir my gewuif. ’n Uur later het ek hom sweterig en gloeiend ná ’n goeie oefensessie gaan haal, waar hy steeds heerlik gespeel het.” – Jane se blog

Jane en haar seun het ’n vrolike dag by die World of Birds deurgebring, gevolg deur ’n stranduitstappie, voordat hulle huis toe is. Wat daarna gebeur het, is elke ma se ergste nagmerrie.

“Natey was nie by sy tafel nie. Ek het onmiddellik gedink: ‘O, hy het seker na die hondekos toe gegaan.’ Ek was op pad om deur die kombuis na die agterdeur te loop om by die trappe af te kyk toe my instink vir my gesê het om ‘by die swembad te gaan kyk’. Iets wat ek altyd gedoen het. Elke keer wanneer ek nie seker is waar ’n kind is nie, kyk ek altyd eerste by die swembad. By verstek en as ’n roetine. Ek het glad nie gedink hy is naby die swembad nie. Ek het geweet hy is nie. Ek het amper omgedraai en laf gevoel … En toe sien ek die hond sit op die dek. Ek het nie regtig daaroor gedink nie. Maar hoe het hy buite gekom? Wat het hy daar gedoen? Hoekom het hy daar gesit, vreemd stil, en net die verte ingestaar? Daarom het ek op die dek uitgeloop, na die swembad gekyk en niks gesien nie. Ek het amper weer teruggedraai. Dié keer het ek Natey se naam geroep … Ek dink my onderbewussyn het besef as hy by die hondekos was, sou die hond saam met hom gewees het, of hoe … ? Ek het nog twee treë vorentoe gegee tot waar ek in die swembad kon inkyk, en in afgryse gesien Natey lê op die bodem van die swembad.” – Jane se blog 

Die tydlyn wat Jane deel, wys hy was net ’n paar minute onder haar oë uit. Dit was moedig van Jane om haar hartverskeurende verhaal te deel. Hopelik kan haar storie soortgelyke tragedies verhinder. In ’n volgende plasing praat Jane oor die oorweldigende reaksie wat sy gekry het nadat sy die storie van Nathaniel se dood aanlyn gedeel het:

“Ek moet egter glo dat, danksy jou [Nathaniel] soveel mense waaksamer, meer bewus, dankbaarder en MEER is.” – Jane se blog

Die familie het gevra dat enige iemand wat deur hierdie storie aangeraak is en graag ’n verskil in ander kinders se lewe wil maak ’n skenking aan die Rooi Kruis-kinderhospitaal via die Kinderhospitaal-trust in Nathaniel se naam maak (Nathaniel het ’n opehartoperasie gehad toe hy 10 maande oud was). Sedert 23 Januarie 2017 is R34 000 in die naam van Nathaniel Leonidas Thor Canter ontvang. Die familie het ’n brief van die trustkoördineerder van die Kinderhospitaal-trust ontvang om te sê hulle is oorweldig met skenkings ter nagedagtenis aan Nathaniel, en het beklemtoon watter positiewe uitwerking die skenkings op die lewe van die hospitaal se pasiënte sal hê: “Elke sent van hierdie erfenisskenking word belê om aan die klein pasiëntjies in die hospitaal hul kinderlewe terug te gee. Hul toekoms word gevorm deur die behandeling wat hulle nou ontvang, en eendag sal hulle verstaan dat daar mense soos jy was wat genoeg omgegee het om hulle ’n kans te gee om groot te word en hul plek in die wêreld in te neem.”

As jy ’n skenking wil maak, kliek hier.

Om Jane se volledige blogplasing te lees, kliek hier.

*Hierdie statistieke hou net met NSRI-reddings verband en is nie ’n weerspieëling van totale nasionale syfers wat ander reddingsdienste insluit nie.

Hierdie aangepaste artikel is met die goedkeuring van Jane Fraser gepubliseer.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om jou swembroek langer te laat hou

Swemdrag is nie goedkoop nie. En om die perfekte swembroek te vind kan omtrent ’n uitdaging wees. Kry meer waarde...

Close