×
Skakel na Engels

Hier is die 20 gewildste hondename

Dalk is jou hond se naam ook op die lys? Of miskien kry jy ’n idee vir jul nuwe babahondjie. Deur Caroline Picard en Amy Elliott
hondename

 

Toptienname vir reuntjies

Die volgende hondename het die toets van tyd deurstaan en sal altyd klassiek bly. Is jy op soek na iets meer ongewoon vir jou hondjie? Hierdie unieke keuses sal jou nuwe vierportige vriend ekstrabesonders maak. 

Max

Die naam Max beteken “grootste,” en is vanselfsprekend perfek vir jóú beste vriend. Ons hou daarvan, want dis ongeërg en sonder fieterjasies, maar dit het ook ’n bietjie oemf.

Charlie

Die gewildheid van dié Duitse naam gaan al die pad terug na Charlemagne, ook bekend as Karel die Grote. Jou woef sal nou éérs dink hy behoort soos ’n koninklike behandel te word!

Cooper

Dié Britse van beteken letterlik “vatmaker” – gelukkig weet jou dierekind dit nie, anders mag hy dalk dink jy meen hy’s soos ’n vaatjie gebou! 

Buddy

Honde is die mens se beste vriend, wat beteken dat hierdie keuse vir enige jong hondjie sal werk. 

Jack

Hierdie klassieke naam pas by ’n sterk en lojale hond, maar verklap ook ’n seunsagtige sjarme en ondeundheid. Hou hom maar weg van die dames!

Rocky

Jou gedagtes spring dalk dadelik na ’n rolprent oor ’n bokser – en juis daarom is Rocky die ideale naam vir daai regte breker of ek-het-harde-bene-gekou-maar-ek’t-’n-hart-van-goud. Dit is ook die vanselfsprekende keuse as jou nuwe hond ’n bokser is.

Oliver

Ons is dol oor hierdie klassieke naam vir klein rasse, want dit laat mens onwillekeurig aan ’n oulike klein mannetjie dink, wat ideaal is vir wanneer hulle ouer is. En jy kan die outjie “Ollie” noem terwyl hy nog ’n kleinman is.

Bear

Hierdie een is taamlik voor die hand liggend, veral as jy dit vir ’n Newfoundlander, Chinese keeshond, Tibettaanse bulbyter of ander groot honderas kies. As jy dol oor die idee is, maar jou nuwe hond is ’n tefie, kan jy Ursula oorweeg wat “klein beertjie” in Russies beteken.

Duke

Letterlik: “Leier.” Figuurlik: “Ek’s baas van die park. Maak plek.”

Tucker

Dié Oudengelse van klink sommer net pret. Dit is ideaal vir ’n lewendige, lieftallige woef wat altyd in ’n goeie bui is (selfs al raas jy met hom omdat hy kos gesteel het).

 

Toptienname vir tefies

Wat die meisies betref, is honde-eienaars lief vir name wat op ’n -ie of -a eindig. Hierdie keuses is op die oomblik die gunstelinge, en is hulle nie oulik nie?! 

Bella

As sy ’n strokiesprentkarakter was, sou sy strikke in haar hare en lang, verleidelike wimpers gehad het. Ja, Bella beteken “pragtig,” maar hierdie naam sal vir enige brakkie werk as sy ’n lieftallige, mooi persoonlikheid het.

Lucy

Dié Engelse naam is kort vir Lucia, wat uit die Middeleeue dateer. Dis gepas vir ’n dierbare, lawwe meisiehond – of vir enige Beatle-behepte eienaar.

Daisy

Die blommetjies self simboliseer onskuld, reinheid en vrolikheid. In ’n neutedop: Dit is ’n naam wat geluk inspireer. 

Luna

Dis danksy Chrissy Teigen en J.K. Rowling dat hierdie naam so gewild is. In die Romeinse mitologie was Luna die maangodin. 

Lola

Lola is eintlik die verkleiningsvorm van Dolores, maar klink baie lewendiger laasgenoemde. Sy kry boonop outomaties haar eie aansteeklike liedjie danksy die Kinks. 

Sadie

Jip, dis ’n oulike woord, maar wat maak dat dié naam so aanloklik is? Dink aan al die rympies wat jy vir haar kan opmaak. Iets soos: “Sadie is ’n lady!”

Molly

Enige hond met die naam Molly kan net ’n liefie wees. 

Maggie

Dié naam, ’n verkleiningsvorm van die naam Margaret, pas by enige vriendelike, lewendige skaaphond.

Bailey

Dié uniseksnaam wat “knap” beteken, het ’n gekombineerde Engelse, Ierse en Ou Franse oorsprong. Die prentjie wat by ons opkom as ons die naam Bailey hoor, is ’n dierbare, inskiklike hondjie wat graag in die son lê, styf teen haar baas nestel, en ’n uiltjie knip.

Sophie

Feit: Sommige honde is slimmer as ander. Hierdie naam, wat “wysheid” beteken, is ideaal vierpotige Einsteins soos skaaphonde, kollies, poedels, Duitse herdershonde en golden retrievers.

Foto: iStock/Byrdyak

Van: Good Housekeeping US

Lees ook: 

15 tekens dat jou hond siek is

10 ontbytplekke in Kaapstad waar jou hondevriend ook welkom is!

10 opleidingswenke van die Dog Whisperer vir honde

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
15 tekens dat jou hond siek is

Jou hond se oë kan baie oor sy gesondheid verklap. Deur Caroline Picard

Close