×
Skakel na Engels

Hier is alles wat jy van vroeë menopouse moet weet

Een uit 100 vroue sal hul menopouse voor hul veertigste verjaarsdag bereik. Deur dr. Sara Kayat
menopouse

Dit is doodnatuurlik dat vroue besorg is oor hul vrugbaarheid en vermoë om kinders te hê, en vir baie raak dit ʼn saak van dringendheid wanneer hulle hul 30’s bereik. Gedurende die afgelope 40 jaar het veranderinge in die samelewing, insluitend die sukses van vroue in die werkplek, beteken dat baie kies om in hulle laat 30’s en selfs 40’s met ʼn gesin te begin.

Maar ongelukkig word sommige van hierdie vroue se planne deur ʼn vroeë menopouse verydel – as jy daaroor bekommerd is, sal jy die volgende inligting nuttig vind.

Ons eierstokke produseer estrogeen en progesteroon, die hormone wat nodig is om ons maandstonde te reguleer en die ontwikkeling en inplanting van ʼn gesonde eier te verseker. Die meerderheid vroue se menopouse breek op 51-jarige ouderdom aan wanneer daar nie meer eiervorming in die eierstokke plaasvind nie.

Wat is vroeë menopouse en hoeveel vroue word daardeur geaffekteer?

By vroeë menopouse hou die eierstokke op om normale estrogeenvlakke te produseer. Daar is verskeie verklarings hiervoor, naamlik ʼn kleiner hoeveelheid follikels by geboorte, ʼn vinniger tempo waarteen hierdie follikels vernietig word, of aangesien hulle eenvoudig nie goed genoeg funksioneer nie.

Dit kom meer algemeen voor as wat ʼn mens sou verwag en beïnvloed ongeveer een uit 100 vroue onder 40 en een uit 20 vroue onder die ouderdom van 45. Gedurende jou eie navorsing mag jy die terme premature menopouse of primêre ovariële versaking teëkom, maar albei kan basies uitruilbaar met die term vroeë menopouse gebruik word.

Hoe weet jy as jy ʼn vroeë menopouse bereik het?

Die meeste vroue sal ʼn verandering aan hulle menstruele siklus bemerk, met óf minder óf geen maandstonde nie. Maar baie sal ook ander simptome wat met ʼn normale menopouse gepaard gaan, ervaar, insluitend warm gloede, nagsweet, gemoedskommelings, ʼn verandering in libido en vaginale droogheid.

Indien jy enige van hierdie simptome ervaar, kan jy ʼn bloedtoets laat doen om uit te vind of jy ʼn vroeë menopouse beleef. Lae vlakke van die hormoon estradiol (estrogeen) sal ʼn aanduiding van ʼn vroeë menopouse wees, en jou dokter sal ook na die vlakke van die Follikel-stimulerende hormoon (FSH) oplet.

FSH verhoog gedurende vroeë menopouse wanneer die pituïtêre klier in jou brein groter hoeveelhede van hierdie hormoon vrystel ten einde jou eierstokke te stimuleer om meer estradiol te produseer. Hierdie toetse moet op sekere tye gedurende jou siklus gedoen word, en minstens 4 weke later herhaal word om die diagnose te bevestig.

Wat is die rede vir vroeë menopouse?

Dit kan die gevolg van chemoterapie en bestraling wees, of geaktiveer word wanneer die eierstokke gedurende ʼn operasie verwyder word. Soms is dit ʼn gevolg van chromosomale of genetiese probleme, of weens outo-immuunskietes soos diabetes of skildkliersiekte.

Indien jy met vroeë menopouse gediagnoseer word, sal verdere bloedtoetse gedoen word om onderliggende oorsake te ondersoek. Chromosomale toetse word egter slegs gedoen indien jy onder 35 is.

Hoe word dit behandel?

Vroeë menopouse kan nie omgekeer word nie, maar jy kan die simptome behandel en probeer om jouself teen die langtermynkomplikasies wat daarmee geassosieer word, te beskerm. Alhoewel die voorbehoedpil as behandeling gebruik kan word by vroue wat nie wil swanger raak nie, bestaan daar vrae oor die langtermynrisiko’s van die pil en die effektiwiteit daarvan teen osteoporose.

Hormoonvervangingsterapie (HVT) sal nie net die simptome verlig nie, maar ook die gevaar van osteoporose en kardiovaskulêre siektes verminder. Kenners is dit eens dat dieet- en leefstylveranderings ook noodsaaklik is ten einde risiko’s vir kardiovaskulêre siektes en osteoporose te verlaag.

Die risiko vir borskanker wat HVT inhou, is gelukkig nie van toepassing op vroue onder die ouderdom van 50 nie. ʼn Vrou wat HVT vroeë menopouse ondergaan, behoort haar egter op die gemiddelde ouderdom van ʼn normale menopouse weer te laat ondersoek aangesien die risiko-/voordeelverhouding op hierdie punt verander.

Dit kan swaar wees om met ʼn vroeë menopouse saam te leef. Dit het nie net ʼn fisieke impak nie; beraders en terapeute is daar om met die angstigheid of neerslagtigheid te help wat baie vroue ervaar. Laastens is daar ook ondersteuningsgroepe; dit kan van onskatbare waarde wees om met ander vroue te praat wat dieselfde deurmaak.

Bron: NetDoctor UK

FOTO: iStock/Portra

LEES OOK:

6 kosse om te vermy wanneer jy probeer swanger raak  

Dís dalk die rede waarom vroue makliker gewig aansit as mans 

Dís wat jy moet weet wanneer jy besluit om die pil te los

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 topwenke vir oefening tydens swangerskap

Dit is belangrik om te oefen en fiks te bly terwyl jy verwag

Close