×

Haarkleurskakerings wat jou jonger sal laat lyk

Watter kleur jy vir jou hare kies, kan jou van vaal in verruklik verander. Watter een is reg vir jou?
haarkleur

Die regte haarstyl kan jou jare jonger laat lyk, maar het jy geweet dieselfde geld jou haarkleur? Hier is ’n paar skakerings wat jou voorkoms oombliklik kan vernuwe.

As jy ’n ligte vel het

Die beste kleurkeuses vir hierdie gelaatskleur is blond in verskillende ondertone of ’n natuurlike, klassieke rooi. Dit is omdat ons selle nie so vinnig vernuwe wanneer ons ouer word as toe ons jonger was nie. Ons gelaatskleur kan dus dowwer raak, en ’n helder, lewendige kleur kan jou stralender laat lyk. Warm, botterige skakerings kan ook ’n hoekige gesig sagter laat lyk, en dit is ’n goeie ding, want ons gesig verloor vet namate ons ouer word.

As jy ’n medium veltoon  het

Kleurkeuses wat vir hierdie gelaatskleur werk, is ’n koel, glansende swart, asook ryk, medium bruine. Swart kan jou vel en hare vars en jeugdig laat lyk, terwyl warm bruine, gekombineer met effens donkerder wenkbroue, natuurlike skadu’s in die oogarea skep wat jou jonger kan help lyk. As jy fyn hare het, kan ligstrepies help om dimensie aan jou hare te verleen en die illusie van meer volume te skep.

As jy ’n donker veltoon het

Bruin in verskillende ondertone, karamelkleurige punte en ’n ryk sjokoladekleur kan iemand met ’n donker veltoon jonger laat lyk. Dit sal nie net grys hare bedek nie, maar ook gesigstrekke versag en meer velprobleme verbloem as ’n fel, gitswart kleur. Ligter punte is ook ’n prettige, speelse manier om ’n jeugdige voorkoms te verkry. Die wonderlike ding van hierdie skakerings is dat dit maklik is om in stand te hou.

Topwenk

Laat jou kleur vir langer ryk lyk deur jou hare so min as moontlik te was – net wanneer absoluut noodsaaklik – en belê in ’n sjampoe wat vir kleurbehandelde hare geformuleer is.

Foto: iStock/martin-dm

 

LEES OOK:
Laat jou hare jou ouer lyk?
Vier haarstyle wat die jare sal laat waai
Wetenskaplikes ontdek die geen vir grys hare

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
31 uiters sjiek dog bekostigbare warmgoed vir die winter

Moenie dat die koue jou afsit nie!

Close