×
Skakel na Engels

Getoetste Produkte: Sakpas Slimfone

Daar is deesdae min swak fone.

Alle slimfone kan die basiese dinge goed doen, van foto’s en Facebook tot musiek, maar die beste sakpas fone, soos dié wat ons getoets het, bied ekstra waarde danksy goeie vakmanskap en puik kenmerke.

TOPKANDIDAAT

Redmi_2-02

Xiaomi Redmi 2 Pro R2 000, mia.africa.com/za

Dié suksesvolle Chinese handelsnaam het die voorloper in slimfoonvernuwing geword en bied aantreklike, stewige fone teen winskooppryse. Van al die getoetste fone bied dié een die meeste waarde – dit het ’n helder 4,7-duim-skerm, 2 GB RAM om jou apps blitsvinnig te laat werk, en ’n beursievriendelike prys. Die kamera is niks spesiaals nie, maar dit het HDR om ingewikkelde beligting te balanseer.

KENMERKE:

  • 4G LTE
  • 8 MP-kamera agter en 2 MP-kamera voor
  • 16 GB stoorplek
  • Vingerafdruksensor
  • Android

STAATMAKER

LG-K10-(1)

LG K10 R2 999, www.lg.com/za

LG het ’n welverdiende reputasie as die vervaardiger van konserwatiewe hardwerkende en duursame middelvlakfone. En dis presies wat dié foon is, met sy 5,3-duim-skerm en getekstureerde agterkant wat jou ’n stewige greep gee. Ons hou van LG se kenmerkende styl om die knoppies aan die kante na ’n gekombineerde tuimelskakelaar aan die agterkant te skuif. Selfies word nou met ’n flits van die foon se skerm verlig en jy kan dit in sarsies neem.

KENMERKE:

  • 4G LTE
  • 13 MP-kamera agter en 5 MP-kamera voor
  • 2 GB RAM
  • 16 GB stoorplek
  • Android

TAAI KALANT

Alcatel-GoPlay-(2)

Alcatel Go Play R3 500, www.alcatel-mobile.com

Hierdie gerespekteerde handelsnaam bied ’n reeks fantastiese sakpas fone vir ampertieners, maar dié model het ’n interessante kombinasie kenmerke. Dis so taai soos ’n ratel, kan ’n harde hou hanteer en is behoorlik waterdig tot op een meter diep. (Jy kan selfs onderwaterfoto’s neem!) Dis perfek vir sosiale media, maar minder geskik vir ernstige speletjies. Jongmense sal veral van die kleurryke glyvaste detail op die agterkant hou.

KENMERKE:

  • 4G LTE
  • 5-duim-skerm
  • 8 MP-kamera agter en 5 MP-kamera voor
  • 1 GB RAM
  • 8 GB stoorplek
  • IP67
  • Android

BESTE VIR BESIGHEID

Huawei-G8-02

Huawei G8 R5 500, consumer.huawei.com/za

As jy pas jou luukse foon gebreek het, sal jy op soek wees na ’n waardige plaasvervanger wat nie ’n fortuin kos nie, maar steeds soos jou spoggerige foon lyk en voel. Met sy sjiek lyne, metaalomhulsel, tamaai HD-skerm en allemintige 3 GB RAM is die G8 ’n goeie kandidaat. Twee antennas verseker jou van ’n puik verbinding vir oproepe en data, en die groot battery hou baie lank.

KENMERKE:

  • 4G LTE
  • 5,5-duim-skerm
  • 13 MP-kamera agter en 5 MP-kamera voor
  • HDR
  • Optiese beeldstabilisering (OIS)
  • 32 GB stoorplek
  • Vingerafdruksensor
  • Android

EENVOUDIGE OPLOSSING

eezifone-packaging_1

Eezifone R550, www.eezifone.com

Hierdie innoverende toestel is die eenvoudigste foon tot nog toe en werk op ’n unieke manier. Jy kan tot 12 nommers deur die Eezifone-webwerf daarop programmeer. Die gebruiker druk bloot 1 om vir Ma te bel, 2 om vir Pa te bel, ensovoorts. Of jy druk en hou die knoppie in om ’n “Please call me” te stuur. Dis feitlik onvernielbaar en die battery hou vir weke. Dis perfek as ’n noodgevalfoon of vir ’n jong kind.

KENMERKE:

  • Ingeboude SIM
  • 7 mm dik
  • 40 g

ALTYD APPLE

iPhoneSE-4ColorLineUp-PR_US-EN-PRINT slimfone

iPhone SE R8 500, www.myistore.co.za

Apple vaar steeds goed op al die gebiede wat saak maak: gebruikersvriendelikheid, foto’s en batterylewe. Die vier jaar oue ontwerp laat nou wel nie meer die koppe draai nie en die skerm is ’n skrale vier duim, maar die kamerategnologie en hoofmikroskyfies is dieselfde as dié van die uitstekende iPhone 6S. Dis verreweg die goedkoopste iPhone.

KENMERKE:

  • 4G LTE
  • 12 MP-kamera agter en 1,2 MP-kamera voor
  • 16 GB stoorplek
  • Vingerafdruksensor
  • iOS10

Lees: Slimfoonverslawing

KOOP WENKE

STOORRUIMTE

Kry ’n minimum van 16 GB datastoorplek. Apps is deesdae baie groter en baie van hulle kan nie die verwyderbare mikroSDgeheuekaart gebruik nie. Fone met slegs 8 GB stoorplek is ’n bron van groot frustrasie.

SPOED

Willekeurige toeganggeheue (RAM) is die kenmerk wat jou foon “vinnig” laat voel wanneer verskeie groot apps gelyktydig oop is. Mik vir meer as 1 GB RAM; 2 GB is die minimum vir speletjies.

OMHULSELS

Metaalfone is nie noodwendig duursamer as plastiekfone nie en dit kan jou opvangs belemmer, maar metaalafwerkings dui wel op beter gehalte in die algemeen.

KAMERAS

Foonkameras met ’n hoë dinamiese omvang (HDR) neem baie beter foto’s in ingewikkelde situasies met ’n kombinasie van ligte en donker dele. Dis egter nog ’n skaars kenmerk in goedkoper fone.

RAAKTEGNOLOGIE

Vingerafdruksensors raak al hoe algemener op goedkoper fone. Dis gerieflik wanneer jy jou foon vinnig wil ontsluit en jy sal dit binnekort ook vir veilige betalings van jou slimfoon af kan gebruik.

SKERMS

’n Beskermende laag vir jou skerm is meestal onnodig. Dit word van plastiek gemaak wat baie makliker krap as die chemies verharde glas op jou foonskerm, wat teen krapmerke van sleutels en kleingeld in jou sak bestand is.

KRAG

Kragbanke (power banks) word in milliampère per uur (mAh) gemeet net soos jou slimfoon se battery. Jou kragbank moet groter as jou foonbattery wees omdat 20% van die krag in die laaiproses verlore gaan.

FOTO: iStock/Cecilie_Arcurs

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Getoetste Produkte: Skottelgoedwassers

Skottelgoedwassers spaar jou tyd en ook geld omdat dit die helfte minder water gebruik as wanneer jy skottelgoed met die...

Close