×
Skakel na Engels

Getoetste produkte: Ketels

Belê dus in een van dié gehalte-modelle pleks daarvan om joune elke twee jaar te vervang
Ketels

Klassieke ontwerp

De’Longhi Icona Vintage KBOV 2001, R1 745

Hierdie handelsmerk is bekend vir styl en betroubaarheid. Die Icona Vintage-reeks het ’n rustieke vorm en gevoel, en kom in funky kleure. As jy die deksel oplig, sal jy egter ’n blink en moderne vlekvryestaalbinnekant sien. Die ketel voel stewig en duursaam en is waarskynlik die ekstra koste werd.

KENMERKE: 2 000 W, 1,7 ℓ

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Bekostigbare gehalte

Philips HD9322, R699

Hoewel dit seker een van die beste modelle in die intreevlak-prysklas is, word Philips nie as ’n markleier vir ketels gereken nie. Tog het dié handelsmerk ’n lojale aanhang, en teen hierdie aanloklike prys sal jy nie ’n fout maak met ’n vlekvryestaalkan en ’n tweejaarwaarborg nie.

KENMERKE: 2 200 W, 1,7 ℓ

Funky en stylvol

Morphy Richards Accents 102010, R1 800

Dié treffende, elegante ketel is ’n sjiek beleggingskopie van hierdie tophandelsnaam. Dis stewig en spog met kenmerke soos ’n pragtige geverfde vlekvryestaalkan, ’n watervlakmeter en deksel wat heeltemal kan afhaal. Dit kom ook met ’n tweejaarwaarborg.

KENMERKE: 2 200 W, 1,5 ℓ

Lees: Knap jou kombuis en sitkamer op vir ’n nuwe jy

Vir teedrinkers

Bosch Styline TWK8613P, R1 499

Dié ketel is spesifiek ontwerp om nié jou water te kook nie. Dis reg: Baie groen en eksotiese tees moet teen ’n laer temperatuur gebrou word. Die TemperatureControlfunksie – ’n eenvoudige skuifskakelaar – laat jou dus toe om die water op 70, 80 of 90 °C (of kookpunt) te stel. Die Keep-Warm-funksie hou water warm sodat jy dit nie weer hoef te verhit nie.

KENMERKE: 2 400 W, 1,5 ℓ

Kitskoker

Defy Inox WK630, R650

Wat intreevlakprysketels betref, bied dié mooi een ’n unieke kenmerk wat ernstige ketelgebruikers sal oorhaal. Dit het die kragtigste verhittingselement (3 000 W) van al die getoetste ketels wat kosbare minute van jou wagtyd kan sny. Ons hou ook van die stewige aan/af-skakelaar, hoewel die deksel se skarnier ’n bietjie swak voel.

KENMERKE: 3 000 W, 1,7 ℓ

Meneer veelsydig

Bosch ComfortLine TWK6A813, R1 199

’n Tuit wat aan ’n ketel vasgeheg is, is ’n berugte swak plek wat tot ’n gedrup op jou toonbank lei elke keer wanneer jy water skink. Dié model se tuit en kan is alles uit een stuk metaal gevorm, wat beteken daar’s geen swak plek nie. Dié ketel kook ook sagter. Die deksel maak heeltemal oop, wat dit makliker maak om binne-in skoon te maak.

KENMERKE: 2 400 W, 1,7 ℓ

Beste sakpas kopie

Mellerware Vision 22400C, R400

Glasketels lyk vir seker stylvol en modern. Dis goedkoper as vlekvryestaalketels en jy kan die watervlak met een oogopslag sien, maar jy moet dit gereeld afvee omdat dit maklik vuiligheid wys. En vul dit versigtig, anders sal jy die rand kap. Dié model kom met ’n dramatiese rooi of blou lig wat van onder af skyn.

KENMERKE: 2 200 W, 1,7 ℓ

Koop wenke

Kookwarm

Byna alle ketels het ’n soortgelyke kapasiteit, tussen 1,5 ℓ en 1,8 ℓ, en baie soortgelyke elemente, wat tussen 2 000 W en 2 400 W wissel. Om water vinniger te kook het minder met wattverbruik te make en meer met die regte hoeveelheid water. Maak dus seker die watervlak is altyd duidelik sigbaar.

Oppas vir plastiek

Plastiekketels is vinnig besig om te verdwyn weens wetenskaplike bewyse dat hitte veroorsaak dat die plastiek jou water besoedel. Glasketels raak ook minder gewild omdat dit as foefierig en soms van swak gehalte beskou word. Vlekvrye staal is die nuwe standaard waar die element volledig deur ’n interne metaalplaat bedek word.

Dink oor deksels

Die meeste ketels se deksels spring nou gerieflik met die druk van ’n knoppie oop. Hierdie meganismes is egter soms swak. Jy sal dus dalk ’n deksel verkies wat heeltemal afhaal, wat dit ook makliker maak om jou ketel binne-in skoon te kry.

Koebaai, kalk

Omdat moderne ketels se element deur ’n metaalplaat bedek word, kom kalkaanpaksels baie minder voor. Die meeste goeie ketels het ’n gaasfilter in die tuit wat keer dat stukkies kalk in jou drinkgoed beland.

Gewigte storie

Stoofplaatketels kan op ’n gasstoof of op metaal- of glasbedekte stoofplate gebruik word. Die beste modelle het swaarder metaal in die bodem van die ketel as in die kangedeelte. Kyk dat die bodem magneties is as jy dit op ’n induksieplaat wil gebruik.

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

10 kombuisgoed vir minder as R250 wat jy VANDAG nog sal wil koop

Mini-metroteëls: Die nuwe kombuis- en badkamerneiging waarvan jy móét weet

Orden jou kombuis in net 5 stappe

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Getoetste produkte: Skootrekenaars

Skootrekenaars kos deesdae omtrent dieselfde as ’n groot staanrekenaar en daarom het mobiele rekenaartoestelle die norm geword

Close