×
Skakel na Engels

Gesonde eetgewoontes by die huis

Om gesond by die huis te eet hoef nie te beteken dat jy ’n klomp streng reëls volg of jou gunsteling-kosse opgee nie. Dit gaan daaroor om verstandige keuses te doen waaroor jy hier meer kan leer. Kyk uit na meer maniere om 2 kg te verloor

1. Detoks jou kombuis

 

Verwyder kos wat jy weet jou in die moeilikheid gaan bring uit jou kaste, yskas en vrieskas. Maak dit eerder vol gesonde, smaaklike opsies wat jy en jou gesin sal geniet. Doen jou eie interne smaaktoetse – vra jou gesin om betrokke te raak, probeer nuwe laerkilojoule-resepte en nuwe kosse en kry ’n nuwe (en gesonde!) perspektief op gewigverlies.

 

 

2. Doen dit slimmer

 

Vervang bestanddele in alledaagse geregte deur gesonder opsies! Hier is ’n paar wenke oor hoe om oordadige vet en kilojoules uit jou tuisgemaakte maaltye te sny:

  • Kies maer vleissnitte en sny alle sigbare vet af voordat jy dit gaarmaak. Verwyder die vel van pluimvee voor- of nadat jy dit gaargemaak het.
  • Rooster vleis op ’n rak sodat die vet kan afdrup en weggegooi word.
  • Kies laekilojoules-vis en -skulpvis en gebruik ’n gesonde gaarmaakmetode soos bak, rooster, stowe of roerbraai. (Pictured: Gingery Salmon Bake.)
  • Berei soppe en bredies vooruit en verkoel dit oornag sodat jy die verharde vet van die oppervlak kan afskep.
  • Wees suinig met vet. Gebruik kleefvrye potte en panne of kooksproei vir jou gewone potte en panne.
  • Eksperimenteer met vetvrye geurmiddels – geur bredies of vleis met lemoen- of suurlemoensap; voeg sitrusskil, sojasous, vars gemmer, brandrissies, kruie of tamatiesous by jou gunsteling-resep.
  • Spuit olyfoliesproei oor vis of hoender voordat jy dit geur en rooster dit om vet te beperk. Gee geur met kruie en speserye. Spruit olie op groente (eerder as om dit oor te borsel) om vet te besnoei.
  • Kies laevet- en vetvrye melk, suurroom en kaas met ’n verminderde vetinhoud en vetvrye jogurt vir resepte.

 

 

3. Gebruik kleiner eetgerei

 

Gebruik kleiner borde, bakke en glase vir daaglikse etes. Volgens ‘n studie aan die Cornell-universiteit in die VSA is mense geneig om 30% meer kos in te skep wanneer hulle groot bakke en lepels het. En in navorsing van die kos-en-handelsmerk-laboratorium aan die Universiteit van Illinois in die VSA is bevind mense wat kort, wye glase gebruik het 76% meer koeldrank, melk of sap ingegooi het as wanneer hulle lang, smal glase gebruik het. Dis nie nodig om nuwe goed te koop nie – verruil bloot jou grootbord vir ’n slaaibord, ’n sopbakkie vir ’n beker of ’n gewone glas vir ’n sapglas. Of as jy oorgroot bakke en glase het, gebruik maatkoppies om jouself vertroud te maak met kilojoule-beheerde porsies en hou dié navorsing in gedagte wanneer jy kos inskep.

 

 

4. Beheer kosdrange

 

Of dit nou sjokolade of tjips, roomys of geklopte room is, die kos waarna mense hunker, het een ding gemeen: Dit bevat baie kilojoules, volgens ’n onlangse studie aan die Tufts-universiteit in die VSA. Maar in dié studie het die navorsers ook opgemerk dat hoewel feitlik almal kosdrange het, die diëters in die groep wat suksesvol gewig verloor het of dit nie weer opgetel het nie, toegegee het aan hul drange – net minder gereeld. Pleks van nie aan jou kosdrang toe te gee nie en jou later aan jou gunstelingkos te ooreet, “aanvaar dat kosdrange normaal is, en hanteer dit”, sê dr. Susan Roberts, ’n professor in voeding en psigiatrie aan Tufts. “Soms kan jy toegee en soms moet jy jou tande borsel en wag dat die begeerte verbygaan.”

 

 

5. Gee aandag

 

’n Onlangse studie het getoon dat Amerikaners eksterne prikkels gebruik, soos om te wag dat hul TV-program verby is, om op te hou eet, anders as die Franse wat nie vet word nie omdat hulle op interne boodskappe reageer, soos dat hulle versadig voel. Ons is ook ontvanklik vir sosiale invloede. “Baie van ons hou aan eet totdat amper almal aan tafel klaar geëet het,” sê dr. Brian Wansink, ’n voedingkenner aan die Cornell-universiteit en die skrywer van Mindless Eating (Bantam). As jy geneig is om voor jou gesin klaar te maak stel hy voor: “Hou die slaaibak of groente voor jou”, eerder as om aan die macaroni-en-kaas te peusel. Nog beter: Vra jouself af of jy regtig nog honger is. Tensy die antwoord regtig ja is, sit jou vurk neer.

 

Hierdie artikel is oorspronklik op Goodhousekeeping.com gepubliseer.  

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 verfrissende somerdrankies wat jy móét probeer!

Les jou gaste se dors (en joune) met dié heerlik verfrissende en verspot maklike drankies

Close