×
Skakel na Engels

Gee jou werklewe ’n oormaaksessie

Begin jou nuwe werk, week of dag met woema. Deur Lisa Whitmore
werklewe

Dit klink dalk waansinnig, maar ’n dag op kantoor kan baie soos ’n dag by ’n welstandsentrum wees – as jy hierdie raad volg.

PAS FIKSHEID IN

BEWEEG VIR 2 MINUTE. Nie net kan jy “kantoorboude” kry as jy heeldag voor die rekenaar sit nie, maar dit kan ook jare van jou lewe wegneem. Heng! Die goeie nuus is dat daar ’n maklike oplossing is: Staan elke uur op en loop vir twee minute rond. ’n Onlangse ontleding in die Clinical Journal of the American Society of Nephrology dui daarop dat dié klein bietjies oefening aan ’n langer lewensduur gekoppel word.

STAAN MEER. Nog ’n voordeel van minder sit is dat ’n werkstasie wat jou toelaat om te sit én staan jou bui kan verbeter en stres kan verminder. ’n Studie in Texas (wat op kinders uitgevoer is) het getoon dat staanlessenaars die deelnemers se konsentrasievermoë met 12% verbeter het.

OEFEN IN JOU ETENSUUR. As oefening vroeg in die oggend net so aangenaam soos ’n babelaas klink, pas ’n matige oefensessie in jou etensuur in. Probeer ’n 20-minute-oefenroetine; dit laat genoeg tyd om jou toebroodjie te geniet sonder om dit te verslind. As daar nie ’n gim naby jou werk is nie, hou tekkies by jou lessenaar en gaan vir ’n vinnige stappie.

OEFEN JOU HOUDING

BRING TYD SAAM MET OPGEWEKTE MENSE DEUR. Stap na jou gunsteling-kollega se lessenaar en vermy die neulende groepie wat in die kombuis staan en skinder. As jy tyd saam met vrolike mense deurbring, sal jy ook die glas as halfvol beskou, toon navorsing in die joernaal The BMJ.

HERLAAI MET VINNIGE ASEMTEUE. Probeer hierdie maklike variasie van Bhastrika, ’n asemhalingsoefening wat in joga beoefen word en jou vinniger as ’n wegneemkoffie sal opkikker. Jy kan dit by jou lessenaar doen (laat hulle jou maar aangaap!), in ’n badkamerhokkie of in jou motor. Laat eers jou arms slap langs jou sye hang, met jou hande in los vuiste. Asem deur jou neus in terwyl jy jou arms tot reguit bo jou kop lig en jou handpalms oop maak. Asem dan uit en laat sak jou arms, met jou hande weer in vuiste, tot skouerhoogte. Herhaal 15 keer. Voel hoe die energie deur jou are bruis!

SLUIT AF MET ’N GLIMLAG. Voordat jy huis toe gaan, skryf alles neer wat jou die afgelope agt uur goed of dankbaar laat voel het. Jy sal by die deur uitstap met die gevoel dat jy iets behaal het en jou gedagtes toelaat om op jou persoonlike lewe eerder as op foute te fokus. “As jy besluit om op goedvoeltake te fokus sal jy baie energie hê om dit aan te pak,” sê dr. Jacob Teitelbaum, die skrywer van From Fatigued to Fantastic! (Avery Publishing Group).

WEES MEER PRODUKTIEF

IGNOREER JOU E-POS en kry meer uitgerig. ’n Opname van bykans ’n duisend bestuurders in Brittanje en die VSA het getoon dat onproduktiewe rekenaarwerk – spesifiek e-posse lees – gemiddeld 15 uur per week gemors het. Skakel dus daardie kennisgewings af en sit elke dan en wan ’n halfuur opsy om op e-posse te reageer.

HOU ’N DINKSKRUM TYDENS DIE 14:00-INSINKING. Mense vaar beter met kreatiewe take wanneer hulle ’n bietjie moeg eerder as wawyd wakker is. ’n Vae fokus verlaag jou inhibisies, wat dit makliker maak om buite die boks te dink, sê navorsers aan die Albion College en die Michigan State University, albei in die VSA.

Lees ook:

3 maniere om oefening by die werk in te pas

10 maniere om jou werkruimte te organiseer

Ons 8 topkeuses vir werkdrag

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 redes hoekom jy nie in die nuwe jaar moet detoks nie

En wat jy in plaas daarvan kan doen ... Deur Laura William, fiksheidskenner

Close