×
Skakel na Engels

“Ek wens ek het dié 5 dinge geweet voordat ek my wenkbroue laat mikrolem het”

’n GH-spanlid deel haar ervaring
mikrolem

Een van ons GH-spanlede het verlede jaar mikrolemwerk ondergaan en het besluit om ’n paar nuttige feite met almal te deel wat hierdie toenemend gewilde prosedure oorweeg.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

“Ek het nog altyd met my wenkbroue gesukkel. Hulle het nog nooit dieselfde vorm of lengte gehad nie en as student het ek hulle heeltemal te veel uitgedun. Ná jare was ek moeg om hulle elke oggend in te vul.

Op ’n dag het ek ’n vriendin met haar volmaakte wenkbroue gekomplimenteer toe sy haar geheim met my deel: mikrolemwerk. Ek het nie eens die moeite gedoen om haar oor die koste, pynvlakke, ensovoorts uit te vra nie. Haar perfekte wenkbroue was genoeg om my te oortuig en ek het dadelik vir haar skoonheidsterapeut se nommer gevra om ’n afspraak te maak.

Teen hierdie tyd het die meeste van julle waarskynlik al van hierdie vorm van semipermanente grimering gehoor (wat behels dat fyn snitte met ’n lemmetjie aangebring word en dan met pigment gevul word). Maar ek het dit goed gedink om ’n paar dinge te deel wat ek wens ek my vriendin voor die tyd gevra het. 

1. Dis nie seer nie, maar dis ook nie gemaklik nie

Dis moeilik om presies te sê hoe seer mikrolemwerk is, want mense se pyndrempels verskil. Vir my persoonlik was dit minder seer as ’n bikiniwaks, maar seerder as om gaatjies in my ore te laat skiet. Ek sal dit eerder as ’n ongemaklike of onaangename gevoel as seer beskryf. Die terapeut sal ook ’n verdowingsroom aansmeer wat die area minder gevoelig maak.

2. Jy kan nie ’n sweetjie uitslaan nie!

Die sleutel tot die sukses van mikrolemwerk lê daarin dat die klein seertjies rofies moet vorm en heeltemal genees. Dit kan nie gebeur as die seertjies aanhoudend nat word nie – of dit nou van water of sweet is. Laat staan dus jou oefenroetine vir ’n week of dra ’n sweetband as jy eenvoudig jou stappie móét inkry. En maak seker dat jy die afspraak nie ’n week voor daardie halfmarathon maak nie! 

3. Jy gaan aanvanklik dalk bietjie soos ’n hanswors lyk

Ek onthou my kêrel se gesig toe hy my ná die prosedure kom oplaai het. Hy het gesê dit lyk asof iemand my wenkbroue met ’n merkpen opgeteken het. Dit was 1) omdat die ink op die eerste dag vanselfsprekend die donkerste is (amper soos wanneer jy jou hare laat kleur) en 2) as gevolg van die glansende salf wat die terapeut ná die behandeling aangewend het.

Ná die naweek het van my kollegas en vriende my met my mooi wenkbroue gekomplimenteer – wat beteken dat hulle opgelet het dat dit anders lyk – maar genadiglik het niemand dieselfde uitdrukking as my kêrel gehad nie! Ek stel voor dat jy jou sosiale kalender vir so dag of twee ná die prosedure oophou.

4. Dit jeuk – baie!

Soos reeds genoem, behels mikrolemwerk dat fyn snitte in jou vel gemaak word en die snytjies dan met pigment gevul word. Die snytjies sal rofies vorm en die rofies sal afkom en weer rofies vorm. Dit sal ’n paar maal gedurende die genesingsproses gebeur en soos almal weet, kan so ’n proses ’n groot gejeuk afgee. Die feit dat jy nie aan jou wenkbroue mag karring nie (om onder andere infeksie te voorkom en die herstelproses te versnel) kan jou moontlik teen die mure uitdryf. Vra jou terapeut vir salf om die jeukery te verlig.

5. Jy moet teruggaan

’n Opvolgsessie is ononderhandelbaar. Mikrolemwerk is ’n tweedelige proses en die opvolgbesoek vind normaalweg vier tot ses weke ná die eerste sessie plaas. Die rede hiervoor is dat namate jou vel en letsels genees, die nuwe kleur gewoonlik merkbaar verdof. Gedurende die tweede sessie sal die terapeut die strepies oorgaan en indien nodig, aan die kleur en vorm verander. Mikrolemwerk kan duur wees – met sessies wat by R1 000 tot R1 500 begin. Onthou dus om te vra of die tweede sessie by die prys ingesluit is.

Laaste maar nie die minste nie

Ter afsluiting nog ’n paar gedagtes: Neem in ag dat jy jou gesig vir minstens ’n week ná die prosedure nie mag was of natmaak nie. As jy normaalweg nie veel grimering dra nie, gaan dit jou nie baie affekteer nie. Maar my werk vereis dat ek ten minste liggies grimeer, dus was dit ’n taamlik onaangename verrassing tydens my inligtingsessie voor die prosedure. Dank die hemel vir gesiglappies! Ek het my wenkbroue met kleefplastiek en ’n baie groot stortkep waterdig gehou wanneer ek daardie eerste week gestort het.

Onthou ook dat mikrolemwerk semipermanent is – dit is veronderstel om tussen een tot drie jaar te hou, afhangende van veltipe, ouderdom, hoe jy die letsels versorg, ensovoorts. Ná ’n jaar lyk my wenkbroue nog goed, maar ek oorweeg dit om binne die volgende jaar vir ’n opknapbehandeling te gaan. En laastens: Doen jou navorsing – nie noodwendig vir die beste prys nie, maar vir die beste resultate.”

FOTO: iStock/miljko

LEES OOK:

Moet daar van vroue verwag word om grimering werk toe te dra?

Ons ontbloot agt algemene mites oor grimering en velsorg

Die grootste grimeringfout wat die meeste vroue maak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Skoonheidswenk: Hoe om tatoes met grimering te verbloem

Jou geheim is veilig by ons ;)

Close