×
Skakel na Engels

“Ek het 4 weke lank BODYTEC® gedoen, en dít was die resultaat”

Lees verder om uit te vind of dit gewerk het

Ashanté Dlamini-Mthembu, ’n skrywer van Goeie Huishouding, deel haar vier weke lange BODYTEC® EMS-oefenervaring. As deel van my Nuwejaarsvoornemens het ek besluit om weer ernstig te begin oefen in die hoop om ’n paar kilo’s voor my 24ste verjaarsdag af te skud.

Nadat ek aanvanklik vier keer ’n week gim toe gegaan het, het ek besef dat ek ’n ekstra dag se oefening nodig het, maar iets wat nie te veel tyd in beslag sou neem nie. BODYTEC® se ESS-oefeninge (elektrospierstimulasie-oefeninge) het ideaal geklink. ESS word al dekades lank gebruik, maar hoofsaaklik in professionele sport-opsette en rehabilitasie. 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Voor my eerste sessie by BODYTEC® was ek ’n bietjie skepties oor die idee dat een sessie van 20 minute per week genoeg sou wees vir kragoefening. Ek was onder die indruk dat ESS-oefening op individue gemik is wat wil spiere bou, of op professionele atlete, maar navorsing toon dat weerstandsoefening van groot spiergroepe die doeltreffendste manier is om die gewenste verandering in liggaamsamestelling te verkry.

Die doeltreffendheid word toegeskryf aan die herhaalde, gelyktydige sametrekking van al die vernaamste spiergroepe wat tot ’n tydbesparende, maar intense oefensessie lei. Die grootste verskil tussen ESS-oefening en gewone kragoefening is dat jy danksy die tegnologie (wat tot 90% van al jou spiere op een slag betrek) jou kragoefening in slegs 20 minute per week kan inpas.

Dit was ook bemoedigend om te weet dat ek nie voor my eerste BODYTEC®-sessie enige ander afrigting/oefening nodig gehad het nie. Al wat ek moes onthou, was om genoeg water te drink en voor die tyd iets te eet.

Week een

My eerste gedagte met my eerste sessie was dat dit vreeslik oorweldigend was, en ek het net gehoop dat my bene nie onder my sou meegee nie. Die ateljee waar ek die volgende vier weke sou oefen, was klein, met net twee ESS-toestelle in die oefenarea. Dit het my ’n bietjie minder senuweeagtig laat voel, want ek sterf eerder voordat ek iets nuuts probeer terwyl ’n skare belangstellendes toekyk. Die feit dat net twee mense op een slag kan oefen, het my beter laat voel.

My afrigter, Rossouw, het mooi aan my verduidelik hoe ESS-oefening werk en wat my liggaam gedurende die volgende vier weke sou beleef. Die eerste stap sou wees om die gespesialiseerde hemp en spanbroek (wat hulle voorsien) aan te trek waarvan die materiale vir optimale spierstimulering geformuleer is. Dié is gevolg deur die ESS-onderbaadjie en -bande, wat eers met warm water klam gemaak word. Die onderbaadjie en bande is direk aan die ESS-toestel gekoppel wat die stimulasie direk na die geteikende spierarea oordra.

Vir die eerste sessie moes ek 15 minute voor my afspraak daar wees aangesien my ESS-vlakke op die toestel ingestel en aan my kaart gekoppel moes word. Hierdie vlakke word bepaal deur die hoeveelheid stimulus wat ’n mens op ’n slag kan hanteer. Die vlakke tel uit 100 en op die eerste sessie lê die meeste mense by ongeveer 65 tot 75.

Nadat my vlakke ingestel is, was ek gereed vir aksie en my heel eerste 20 minute van ESS-oefening het begin. Tot my verbasing was daar niks oorweldigend daaraan nie. Die toestel het 10 sekondes afgetel en my afrigter het my telkens aangesê watter oefening om te doen. Dit het oefeninge soos been-optelle, bisepkrulle, staande maagoefenge en hurke behels. Dit het vir ’n volle 20 minute aangehou, sonder lang breke. Tussen elke oefening kon ek vir vyf sekondes asem skep, maar andersins het ons die volle 20 minute van die sessie benut. 

Na my eerste sessie het ek wonderlik gevoel. Die sweet het my afgestroom, wat ’n wonderlike teken was! Ek was verstom oor hoe moeg ek ná net 20 minute se oefening in ’n spasie van een vierkante meter was. Ek het eers twee dae later die effek van my eerste sessie gevoel, en genade, dit was verskriklik. Ek kon duidelik voel dat my hele lyf deur elke liewe stimulus geteiken is. Ek het pyn in spiere gevoel wat ek nie eens geweet het bestaan nie, wat net kan beteken dat ek dit lank nie gebruik het nie. Om die ergste seer af te skud het Rossouw voorgestel dat ek minstens twee maal ’n week ná my BODYTEC®-sessie ligte kardio-oefensessies van 45 minute elk doen. 

Week twee

Aangesien ’n BODYTEC®-sessie altyd per afspraak is, hoef ’n mens nooit te wag nie, en dit word altyd onder toesig van ’n gekwalifiseerde persoonlike afrigter gedoen, wat optimale resultate in die kortste tyd verseker. Ek het my tweede afspraak vir die daaropvolgende Maandag gemaak – presies ’n week na my eerste sessie. 

Met my eerste sessie agter die rug het ek met groter selfvertroue by die ateljee opgedaag. Ek was binne 10 minute in my oefenpakkie en aan die ESS-toestel gekoppel, en ons het dadelik aan die werk gespring.

Gedurende hierdie volgende sessie het my afrigter gevra watter areas ek wou teiken noudat ek geweet het wat die nawerking van die oefening sou wees. Dit het my soveel beter laat voel omdat ek myself op die teerheid van daardie areas kon voorberei en my oefeninge vir die volgende dag kon beplan. Ek het besluit om op my abdominale area en bene te fokus. Aangesien my bene reeds stewig en gespierd is, het my afrigter die intensiteit met vyf verhoog om te verseker dat die stimulus die dieper spierlae sou bereik vir die beste resultate. 

Soos die vorige keer het my afrigter die oefeninge verduidelik en daarna het ek dit uitgevoer. Hierdie proses het 20 minute geduur en teen die einde was ek weer sopnat gesweet en gereed om net daar inmekaar te sak.

Aangesien ek nog altyd gim toe gegaan of aan buitelug-aktiwiteite deelgeneem het, het ek verwag dat hierdie sessie makliker as die vorige sou wees, maar ek was verkeerd. Trouens, ek het my tweede sessie moeiliker gevind in die sin dat my afrigter my behoorlik gedril het. Waar hy kon sien dat die oefening ’n bietjie te maklik gelyk het, sou hy die intensiteit verhoog om my weerstand te toets. Op die ou end is dit egter ’n wonderlike vorm van oefening aangesien dit my gehelp het om meer in te sit as wat ek aanvanklik sou.

Aangesien ek geweet het dat dit belangrik was om ná my ESS-oefening my twee ligte kardio-sessies te doen, was my herstel nie so intens soos in die vorige week nie. Gedurende my herstelperiode het ek soggens voor my stort ook ’n paar strekoefeninge ingewerk. Dit het baie gehelp, want ek het nie nodig gehad om soos ’n drenkeling aan elke reling vas te hou wanneer ek by trappe afklim nie. 

Week drie

Teen die derde week het ek gedink dat ek my roetines voor en ná oefensessies onder die knie gehad het. Ek was gereed vir enige nuwe vlakke waarmee my afrigter vorendag sou kom.

Tydens my derde sessie het ons weer my hele lyf onder hande geneem en nie net op sekere areas gefokus nie. Ek het nie omgegee nie, want ek sou daardie areas op my “af” dae by die gim teiken. Soos die vorige kere het dit ná 20 minute gevoel asof ek ’n 10 km-wedloop afgelê het.

Om die spanning op my lyf te verlig het ek na my ESS-sessie gim toe gegaan en vir 15 tot 20 minute in die stoomkamer gesit. Daar het ek met behulp van emmers vol sweet van die gifstowwe in my lyf ontslae geraak (en sommer ook my vel gereinig!).

Week vier

My laaste sessie was die heel moeilikste. My afrigter het al my vlakke met 10 opgestoot om my weerstand te verhoog. Die eerste paar oefeninge was ongelooflik swaar, maar na ’n rukkie het ek op dreef gekom.

Danksy die selfvertroue wat ek gedurende my ESS-ervaring opgebou het, het ek dit goed gedink om my lyf te toets en die dag na my laaste sessie vyf kilometer te gaan draf. Dit was ’n groot fout. My lyf het nog nie herstel nie en die gevolg was dat ek die hele Sondag ná my ambisieuse drafsessie met ’n baie seer lyf in die bed gebly het. 

Dit het my geleer om na my afrigter te luister en nie te vinnig te veel van my lyf te verwag nie. Dis definitief ’n slegte idee om jou lyf die dag ná ’n ESS-sessie aan hoë-intensiteit oefeninge te onderwerp. Ek moes my lyf minstens 72 uur laat rus het voordat ek so iets aangepak het. 

Die resultate

1. Al het ek net vir vier weke ESS-oefening gedoen, kon ek regtig voel dat my lyf sterker as voorheen was. Ek het ook heelwat ligter en meer in beheer van my lyf gevoel. 

2. Ek het 6 cm om my maag en 4 cm om my bobene verloor. Dit was my grootste probleemareas en ek was in die wolke oor die resultate. 

3. ESS-sessies is nie ’n plaasvervanger vir oefening nie. Dit is noodsaaklik om met kardio- en ander oefeninge voort te gaan om die beste resultate te verkry. 

4. Soos met enige oefening, is ’n gebalanseerde dieet wat uit proteïene, maer vleis en baie groente en water bestaan, baie waardevol wanneer dit by resultate kom.

5. Ek sal ESS-oefeninge beslis aanbeveel. Dit was ’n wonderlike manier om my hele lyf te oefen, veral op dae wanneer ek net 30 minute daaraan kon afstaan. 

6. Hidrasie is noodsaaklik. Ek het baie meer gesweet as wat ek verwag het. Deur voor en ná my sessies water te drink kon ek voorkom dat ek swak en bewerig voel. 

7. Daar is twee soorte BODYTEC®-lidmaatskapkontrakte beskikbaar. Vir ’n ses-maande-kontrak teen R975 per maand kan jy vir ’n tydperk van 6 maande een sessie per week (26 sessies) doen. ’n Twaalf-maande-kontrak teen R1 170 bied jou een sessie per week (52 weke) oor ’n tydperk van 12 maande.

8. Eenmalige sessies word nie aangebied of aangemoedig nie, aangesien BODYTEC® ESS-oefeninge die beste resultate lewer indien dit oor ’n langer tydperk gedoen word. Maar wanneer jy die einde van jou kontrak nader of binne die volgende ses maande verhuis, bied BODYTEC® bestaande lede ’n “booster”-sessie teen R670 per sessie. 

LEES OOK:

Die beste oefening vir jou liggaamsvorm

Tuis-oefenprogram vir paartjies

10 oefenmites ontbloot!

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief