×
Skakel na Engels

“Ek het maandstondebroekies gebruik en die resultaat het my werklik verbaas”

Die GH-skrywer Helen Walace het maandstondebroekies op die proef gestel, en dís wat sy daaroor te sê het
maandstondebroekies

Tot onlangs toe as iemand die woorde “maandstonde” en “broekie” in een sin gebruik het, het ek in my geestesoog iets gesien soos daardie onvleiende vrouebroekie in Bridget Jones’ Diary – ’n groot, praktiese broekie wat vroue in dáái tyd van die maand vir ekstra gerief en beskerming uit die laai pluk. 

via GIPHY

Maar nou beteken maandstondebroekies vir my iets heel anders.

Broekies vir daardie tyd van die maand

Maandstondebroekies is al geruime tyd groot nuus aanlyn, maar dit was vir lank nie in SA beskikbaar nie. Dit is egter nou op eie bodem beskikbaar en ek het ’n paar van Feel Good & Co ontvang om op die proef te stel.

Ek moet bieg – ek was ’n bietjie skrikkerig. Hoewel my vloei redelik matig is, het ek steeds nie gedink ’n broekie gaan alles kan absorbeer nie. En selfs al kon dit, hoe sou ek heeldag vars en skoon kon voel? Ek het ook verwag dat dit nie baie mooi broekies gaan wees nie. Groot was my verbasing egter toe ek die pakkie oopmaak en dít daarin kry …

period panties

Hierdie is van die Australiese handelsnaam Modibodi, en dis fraai genoeg om ’n plekkie in my onderklerelaai te verdien. Dit kom in verskillende kleure en snitte – daar’s dus iets vir elkeen. 

Hoe werk dit?

Dis beskikbaar vir mense met ’n ligte, matige en swaar vloei en kan of as ’n ekstra beskermingslaag vir mense met ’n baie swaar vloei gebruik word, of jy kan dit in die plek van ander vroueprodukte soos doekies of tampons gebruik. Die swaarvloei-opsie kan tot twee tampons se hoeveelheid bloed absorbeer! Dis werklik superabsorberend, vlekbestand, lekbestand en vogwerend – hulle het regtig aan alles gedink! 

Die proeflopie

Hoewel my vloei matig is, het ek die swaarvloei-opsie gekies, bloot omdat ek skrikkerig was. Kan hierdie broekies werklik al my bloed absorbeer en nie ’n enkele druppel op my kantoorstoel mors nie?! Ek sou binnekort uitvind.

Behalwe vir die kruis van dié broekies wat ooglopend opgestop is, was die eerste ding wat ek opgelet het toe ek dit aantrek dat dit supergemaklik is. Dit sit so sag! Die grootste uitdaging vir my was in my kop – ek het kort-kort badkamer toe gehardloop wanneer ek iets voel “uitloop”, maar alles was elke keer piekfyn. En selfs nadat ek dit heeldag gedra het, het dit glad nie onaangenaam geruik nie, niks was klam nie, en niks het gelek nie. Ek was verstom!

Sal ek dit weer gebruik?

Hoewel ek eintlik menstruasiekoppies verkies en dikwels enige vrou wat oor my pad kom wil oorreed om dit ook te gebruik, gaan my Modibodi-broekies beslis ’n staatmaker in my onderklerelaai bly, veral op dae wanneer my vloei lig is. Daar is iets aan die gevoel van my maandstonde vrylik laat vloei soos Moeder Natuur wil hê dit moet, wat maak dat ek feministiese liedere wil sing!

Hetsy jy ekstra beskerming nodig het wanneer jy ’n doekie, tampon of menstruasiekoppie dra, en of jy vrylik wil bloei sonder om ’n plassie op jou kantoorstoel te maak, maandstondebroekies bied werklik iets vir almal. Ek sê julle – dit gaan nog groot nuus raak!

 

Hoe was jy maandstondebroekies?

Helen stel voor jy spoel dit eers uit en gooi dit dan in die wasmasjien. So maklik soos dit!

 

Hooffoto: iStock/PeopleImages

Van: Marie Claire SA

LEES OOK:

Maandstonde-bestande onderklere is hier

Daar is ’n rede waarom jy ekstra moeg is gedurende jou maandstonde

Maandstonde-verlof kan dalk ’n werklikheid word

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wat verklap jou naels van jou gesondheid?

Laat jou vingers die praatwerk doen

Close