×
Skakel na Engels

“Ek het 10 verskillende SA winkels se nr. 12-jeans aangepas. Dís hoe dit gelyk het”

Dis ’n plesier!
nr. 12-jeans

Om jeans te koop was vir my – en amper elke vrou wat ek ken – nog altyd ’n minder aangename uitstappie. Ongeag die gesukkel wat so ’n soektog afgee, is ek dol oor daardie oomblik (ofskoon dit nie gereeld gebeur nie) wanneer ek ’n paar jeans aanpas en dit knus om my bobene sit, my boude lig, aan die vloer raak én my fantasties laat voel.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

My afmetings: Ek is 1,8 m lank (dis vyf voet 11), met ’n middel en heupe van onderskeidelik 77 cm en 100 cm. Volgens Woolworths se webwerf maak dit my ’n heel gemiddelde nr. 12, dus het ek besluit om met dié grootte te werk.

In die naam van navorsing – en om jou inkopie-ervaring soveel makliker te maak! – het ek 10 verskillende plaaslike winkels ingevaar om te sien hoe hul nr. 12 jeans aan my sit. In die winkels waar groottes anders aangedui word, het ek die assistent vir die ekwivalent van ’n nr. 12 gevra. Dis wat ek in die winkels kon kry – en hoe die jeans in die aanpaskamer gelyk het:

Woolworths: David Jones

Styl: David Jones Classic Collection, noupassend, nr. 12

Prys: R350

Hierdie jeans het goed gepas, en die donker kleur het ’n verslankende effek. Die pype raak nie aan die vloer nie (maar ek’s gewoond daaraan), dus sal ek dit as ’n enkelbroek dra. Wat afmetings betref, sit dit gemaklik om my bene en dye, maar bietjie knap om die heupe. Die broek behoor ná ʼn rukkie se dra effens te rek, dus sal ek by hierdie grootte bly, want die heupe sal dan ook losser sit.

MRP

Styl: RT-noupypjeans met ’n hoë middel, nr. 36

Prys: R160

Ek was aangenaam verras deur hierdie jeans, wat boonop die bekostigbaarste van die spulletjie was. Die helder kleur is treffend en die uitgerafelde soom is iets anders, maar ek hou nogal daarvan. Die hoë middel is my gunsteling want dit pas mooi en is super-gemaklik – met geen muffinmagie nie! ’n Definitiewe ja.

Edgars: Kelso

Style: Kelso Authentic Denim, noupassend, nr. 12

Prys: R250

Kelso was nog altyd my staatmaker-handelsnaam omdat hulle ’n opsie vir langer bene het – wat ek vandag nie in die hande kon kry nie. Hoe dit ook al sy, hierdie fieterjasielose broek kwyt hom heel goed van sy taak. (En op hierdie stadium is sy pype die naaste aan die vloer). Die broek pas mooi knus om my bene en die neutrale denim laat ruimte vir ’n verskeidenheid voorkomste.

Woolworths: RE:

Styl: RE: F.I.T-noupassende kêreljeans, nr. 12

Prys: R650

Volgende aan die beurt is jeans uit die RE:-versameling. Ek is mal oor die omgeslaande pype, en die kleur werk goed by my velkleur. Die omgeslaande soom is modieus en skep ’n sorgelose voorkoms. Hoe ouer ek word, hoe meer hou ek van ’n ligter denim, en hierdie jeans is beslis in die kol. Die hele snit werk vir my en ek moet sê, dit lyk nie sleg van agter nie. Ek sê dit selde, en daarom sê dit baie! Op die ou end val dit in my drie top-jeans van die dag, dalk omdat dit so lekker pas is. Verder is dit gemaklik vir sit en kan ek my bene maklik kruis, ensovoorts.

H&M

Styl: H&M Conscious-noupassende enkeljeans met ’n lae middel, Europese nr. 42

Prys: R429

Ondanks die feit dat dit middel as “laag” beskryf word, was dit een van die jeans wat die mooiste gesit het. (Op die ou end was dit my gunsteling-paar.) Die middel is in werklikheid glad nie laag nie en sit baie gemaklik om my heupe. Ek sou maklik sonder ’n gewik-en-weeg en met hope selfvertroue daar kom uitloop, en doodgelukkig met my nuutste kopie wees. Wat ’n nuwe gevoel vir my sou wees, want wanneer dit by inkopies kom, kan ek taamlik besluiteloos kan wees. Die onafgewerkte soom is ’n oulike detail en die ligter denim is ’n gunsteling. ’n Verdere bonus – en dalk is dit waarom ek so baie van hierdie jeans hou! – is die pragtige aanttrekkamers by die H&M Canal Walk-winkel. Die beligting is vleiend, die hokkies is ruim en jy kan jouself uit elke hoek bekyk. (Nie noodwendig lekker nie, maar dit beteken dat jy regtig kan oordeel hoe jy lyk.)

Levi’s

Styl: Levi’s Original Fit 501, toeknoopgulp & afgewerkte pype, nr. 32-middel, binne-soom 26

Prys: R1 499

Hierdie Levi’s (nes ek verwag het, die duurste paar van die dag) is ’n geleentheid om speels met die mode om te gaan. Die kleurvolle blompatrone pas perfek by die los snit om die heupe en skep ’n informele voorkoms. Dit is ’n welkome verandering van die super-noupassende snitte wat ek tot dusver aangepas het. Ondanks die prys is dit ideaal as ’n driekwartbroek, en een wat ek sal onthou. Ek het ook wonderlike diens ontvang – ek is daarvan oortuig dat hulle my sou kon help om die geskikte grootte en snit vir my lyf te kry.

Queenspark

Styl: Regafpyp-denim, nr. 12

Prys: R699

Met die bling-detail aan die voorkant is hierdie jeans gemaak vir ’n aandjie uit. Met die aantrek het dit soos ’n kombinasie van ’n noupassende en regafpyp-jeans gevoel – wat goed is as jy iets meer noupassend om die middel en heupe wil hê, maar losser om die knieë. Die snit het om my bene gewerk, maar het taamlik styf om my heupe gesit. Dit was ook nie baie gemaklik vir sit nie – ek sou dalk ’n groter nommer kies as ek heeldag daarin moes sit. Die omsoomde pype het dit ook baie duidelik gemaak dat hierdie jeans te kort vir my was.

PnP Clothing

Styl: Cherokee Destroyed-geskeurde jeans met ’n mediumhoë middel, nr. 12

Prys: R299

Hierdie jeans, met sy noupassende snit en geskeurde detail aan die voorkant, het wonderlik gepas en ek hou nogal van die lengte. Die paar leen hom tot ’n somer- én wintervoorkoms, afhangende daarvan of jy ’n paar oop skoene of stewels daarby dra. (Laasgenoemde sal maklik bo-oor die noupassende broekspyp aanglip.) Die heup- en boud-area bied wonderlike ondersteuning en die nodige “lig” om my selfvertroue ’n hupstoot te gee. Ek dink ’n mediumhoë middel is ’n wonderlike opsie wanneer dit by gemak kom. Boonop help dit om ’n effense magie in toom te hou – ek het regtig gevoel dat dit daardie area vlei. (NS. Soos jy uit my foto kan aflei, is dit ’n piepklein aanpashokkie!)

Cotton On

Styl: Mediumstyfpassende regafpypjeans, Europese nr. 42

Prys: R599

Die gevreesde wit jeans – ek moes minstens een paar insluit om te sien of dit regtig so skrikwekkend is … Dié paar het inderdaad al die bultjies en rolletjies beklemtoon wat ek so hard probeer wegsteek. Alhoewel dit minder erg was as wat ek verwag het, is dit snit te styf en is die jeans nie gemaklik nie. Ek sal jou beslis afraai om hurksitte daarin te doen! Ek gaan nie eens voorgee nie – dit was ’n gestoei om die knoop vas te kry. Die regafpype en die effens hoër middel is sy beste eienskappe.

Guess

Styl: Power Curvy- noupassende donker denim, nr. 31 “regular”

Prys: R799

Ek was nog nooit een vir groot handelsname nie, maar het verbasend baie van hierdie paar gehou. Daar is beslis niks fout met donker en verslankend nie! Alhoewel die lengte nie ideaal is nie, is dit doenbaar, en die minimale handelsmerkgewing op die jeans is ’n welkome eienskap. Die algehele snit is gemaklik en die eenvoudige voorkoms maak dit ’n wonderlike basis vir enige soort uitrusting. Ek kan dit nie waarborg nie, maar ek kry die gevoel dat die jeans sy vorm regdeur die dag gaan hou – geen sakkerige knieë nie, ensovoorts. Die denim is van ’n goeie gehalte en as jy die geld het, kan jy dit beslis aan hierdie paar bestee.

Miladys

Styl: WonderFit-noupypdenim, nr. 12

Prys: R359

’n Paar jeans wat aan die vloer raak – en nie daar ophou nie! Dit gebeur amper nooit met my nie! Die hoë middel is ongelooflik en ek is mal oor die gevoel van hierdie jeans – van ’n muffinmagie is daar nie sprake nie! Die jeans is op ’n manier gesny wat dit ’n heerlike knus gevoel gee. Dis regtig ’n wonderlike opsie, en maak ook my top drie. Daar is niks negatief wat ek op die oomblik van hierdie donker en verslankende (ek is mal oor die rekbaarheid!) jeans kan sê nie. Sprakeloos! Hierdie Wonderfit-jeans gaan tot ’n nr. 50, wat beteken dat almal in die vreugde kan deel. 🙂

FOTO: iStock/GoodLifeStudio

LEES OOK:

Dít is waarvoor die metaalknoppies op jou jeans eintlik is

Die 4 liggaamsvorms en die klere wat dit vlei

8 wasgoedfoute wat jou klere verrinneweer

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Nuttige wenke om jou gunsteling-denimklere langer nuut te laat lyk

Almal het jeans van goeie gehalte in hul klerekas nodig

Close