×
Skakel na Engels

Dokters deel 5 maniere om jou risiko vir demensie te verlaag

Hierdie leefstylveranderinge sal jou brein gesond hou namate jy ouer word. Deur Dr Roger Henderson
alzheimers

Demensie is deesdae pal in die nuus en dis duidelik dat daar al hoe meer mense is wat aan dié toestand ly namate die persentasie bejaardes in die bevolking geleidelik toeneem. Hoewel dit beslis algemener raak namate ons ouer word, het vier uit elke vyf mense van 80 jaar of ouer egter geen beduidende geheueprobleme nie. Daar is dus hoop!

Sowat die helfte van mense wat demensie ontwikkel, het alzheimer se siekte. Dit kom voor wanneer die aantal senuvesels in die brein afneem namate die brein krimp en “klonte” proteïen in die brein begin ophoop wat dan ’n uitwerking het op hoe senu-impulse deur die breinselle beweeg.

Lees: ’n Blokraai per dag kan jou brein 10 jaar jonger maak

Dit kan oorerflik wees, maar jy kan ook demensie kry sonder dat daar enige duidelike risikofaktore was. In die meeste gevalle kan ’n leefstylverandering egter jou risiko verlaag of vertraag.

Naas alzheimers heet die tweede algemeenste vorm van demensie vaskulêre demensie – dit kom voor wanneer die klein bloedvate in die brein oor ’n lang periode verstop word en nie meer suustof na die brein kan vervoer nie. Dié soort demensie kan deur ’n paar eenvoudige leefstylveranderinge voorkom of vertraag word.

Volg hierdie wenke om jou risiko vir demensie te help verlaag:

1. Bly aktief

Oefen vir minstens 30 minute, vyf keer per week. Dit maak nie saak wat jy doen om aktief te bly nie, solank jy iets doen wat jy geniet, hetsy dit swem, draf, fietsry of ’n gimklas is. Doen dit teen ’n tempo wat jou effens uitasem maak sodat jy wéét jy benut die voordele!

2. Moenie rook nie

Dis ’n belangrike een! As jy reeds rook, hou op, want rook verhoog jou risiko vir demensie. As jy sukkel om op te hou, praat met jou dokter. Hulle kan jou nuttige raad en hulp bied.

3. Laat jou brein daagliks oefen

Lees, vul ’n blokkiesraaisel of sudoku in, speel kaart, of leer iets nuuts soos ’n nuwe taal. As jy jou verstand aktief hou, sal jy waarskynlik jou risiko vir demensie kan verlaag. Interessant: Koffie (tot vier koppies per dag) kan dalk ook jou risiko verlaag. Geniet dus jou daaglikse koppie boeretroos!

4. Handhaaf ’n gesonde dieet

Volg ’n dieet wat uit baie olierige vis, vrugte, groente, onverfynde ontbytgrane en olyfolie bestaan, en min rooivleis en suiker bevat. Eet ook minder koek, koekies, suikerryke lekkergoed en kaas. Om minder sout in te neem, sal ook ’n groot verskil maak – moenie vergeet dat baie van die sout wat ons eet in verwerkte kosse “versteek” is nie! Lees dus kosetikette deeglik, want te veel sout verhoog jou bloeddruk wat jou risiko vir ’n beroerte verhoog.

5. Maak ’n draai by jou dokter  

Gaan vir ’n gesondheidsondersoek. Die dokter sal jou bloeddruk, gewig en cholesterolvlakke meet en dis alles dinge wat met demensie verband hou, asook toestande wat sterk risikofaktore vir demensie is, soos hartsiektes, beroertes en diabetes. As jy ouer as 60 is, moet jy waarskynlik in elk geval jou bloeddruk minstens een keer per jaar laat toets.

Ons het dalk nog nie al die antwoorde op demensie of selfs ’n kuur daarvoor nie, maar ’n gesonde leefstyl kan ons risiko vir hierdie toenemend algemene toestand verlaag.

Bron: Good Housekeeping UK

Foto: iStock/AlexRaths

LEES OOK:

7 minder bekende simptome van demensie

Hoe om beter met iemand met demensie te kommunikeer

10 feite oor hartaanvalle waarvan elke vrou moet weet

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Blokraai per dag kan jou brein 10 jaar jonger maak

As jy al jou kleinkinders se verjaardae wil onthou ... Deur Tania Herrera

Close