×
Skakel na Engels

Dít is hoekom ons verloofringe dra

Dis nie baie romanties nie – maar die rede waarom ons dit aan ons linkerhand dra, is wel
engagement ring

 

Verloofringe word dalk beskou as so oud soos die huweliksinstelling self, maar nie te lank gelede nie was daar ander blyke van liefde wat die huweliksbelofte gesimboliseer het.

Gedurende die 1800’s het sommige mans byvoorbeeld ’n vingerhoedjie gegee, en ná die troue sou die vingerhoedjie se punt afgeknip word om ’n ring te skep. ’n Ander gebruik het behels dat die paartjie ’n stuk goud of silwer in twee verdeel het, waarvan elkeen een gehou het, en dan ’n glas wyn gedrink het om die verlowing te formaliseer.

Ons kan verloofringe terugvoer na die 13de-eeuse Rome, toe Christene die tradisie aangeneem het nadat Pous Innocentius ’n verpligte wagtyd tussen verlowing en die huwelik afgevaardig het. Die ringe was eers eenvoudige ysterbande en later goud. Die gebruik dat trouringe aan die linkerhand gedra word, kom blykbaar van die Griekse en Romeinse geloof dat ’n spesiale aar, die “Vena Amoris”, direk van die ringvinger na die hart loop.

Diamante is eers later bygevoeg. Aartshertog Maximillian van Oostenryk was volgens die geskiedenis die eerste man wat in 1477 ’n diamant vir sy geliefde gegee het, maar blink stene was nie gewild onder nie-aristokrasie voor ’n groot bemarkingstrategie deur De Beers in die 1930’s nie.

Volgens die tydskrif The Atlantic het De Beers vraag en aanbod gemanipuleer nadat reuse-diamantmyne in die laat 19de eeu in Suid-Afrika ontdek is. “Slegs deur die fiksie voor te hou dat diamante skaars en inherent waardevol is, kon hulle hul beleggings beskerm en diamantpryse dryf,” skryf Uri Friedman. Die maatskappy het ’n kartel geloods om alle aspeke van die diamantbedryf te beheer en het ’n New Yorkse advertensieagentskap gehuur om die diamant as statussimbool te steun.

Laat in die 1940’s het ’n kopieskrywer van die advertensieagentskap NW Ayer & Son die beroemde slagspreuk “A diamond is forever” vir die handelsmerk geskryf. Die advertensieveldtog het verbruikers aangemoedig om diamantringe as familie-erfstukke te beskou. (So ’n diamant, berig The Atlantic, word nie herverkoop nie en “ondermyn dus nie die vertroue in die intrinsieke waarde van diamante nie”.)

Daar het jy dit nou: As ons oupas en oumas nie so vatbaar was vir advertensies nie, sou ons nog met vingerhoedjies op ons vingerpunte rondgeloop het.

Van: Good Housekeeping UK

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die een ding waaroor elke paartjie moet praat

’n Doodgewone gesprek kan jul huwelik versterk – volg dié beproefde wenk, gesels, skinder en raak selfs meer verlief op...

Close