×
Skakel na Engels

Dís wat jy moet weet wanneer jy besluit om die pil te los

Dit blyk dat jou roetines van voordat jy die pil begin gebruik het, kan terugkeer.
die pil

Die idee om die pil te los nadat jy dit jaar in, jaar uit, klokslag elke dag gedrink het en aan ligter maandstondes gewoond geraak het, kan wees soos om ‘n vriendin te verloor. En dit opper meer as net ‘n paar vrae oor jou lewe ná die pil, soos: Hoe gaan ek ná die tyd voel? Gaan my vel daaronder ly? Gaan ek ‘n emosionele monster wees? Gaan my maandstondes weer so aaklig soos voor die tyd wees?

Die beste aanwyser, volgens dr. Lauren Streicher – ‘n mede- kliniese professor in obstetrie en ginekologie aan die Northwestern-universiteit se Feinberg-medisyneskool – is hoe jou liggaam voor die tyd gereageer het. As jou maandstondes ‘n nagmerrie was en jy simptome soos krampe, PMS, en hoofpyne gehad het voordat jy die pil gebruik het, is daar ‘n goeie kans dat dit weer gaan inskop wanneer jy die pil los. Aknee en gemoedskommelings rondom jou maandstondes sal waarskynlik ook opduik as jy ‘n genadetyd beleef het terwyl jy op die pil was. Die rede hiervoor is dat jou liggaam stabiele estrogeen- en progesteroonvlakke handhaaf wanneer jy op die pil is, sê sy, en dit sal weer begin wissel wanneer jy dit ophou gebruik.

Hoe lank neem dit voordat jou maandstonde na normaal terugkeer? Volgens Streicher is dit hoogs onvoorspelbaar. “Sommige vroue los die pil en begin ‘n maand later met hulle gewone, spontane menstruasie, of nie. Soms neem dit ‘n paar maande voordat alles weer normaal is.” En tensy jy probeer swanger raak, is dit belangrik om ‘n ander vorm van geboortebeperking te gebruik wanneer jy van die pil afgaan.  Die meeste vroue ovuleer gewoonlik binne een of twee maande nadat hulle die pil gelos het, maar dit is moontlik om onmiddellik swanger te raak.

Nog ‘n belangrike faktor waarop gelet moet word, is die feit dat iemand van 25 of 30 se liggaam anders gaan reageer as dié van ‘n post-menopousale vrou. Streicher sê dat die pil ‘n magdom simptome, soos gloede, kan onderdruk; vroue moet hulle dus op ingrypende fisieke veranderinge voorberei wanneer hulle die pil los.

“En iewers is daar steeds ‘n gerug in omloop dat jy die pil van tyd tot tyd moet los om jou liggaam ‘n ruskans te gee. Daar is geen wetenskaplike gronde hiervoor nie,” sê Streicher. Tensy jy ‘n persoonlike of ‘n mediese rede het om op te hou, soos die risiko van bloedklonte of ‘n estrogeen-afhanklike kanker soos borskanker, sê sy daar is geen rede om die pil te los as dit vir jou werk nie.

Trouens, volgens haar is daar ‘n lang lys gesondheidsvoordele wat aan langtermyngebruik van die pil verbonde is, soos ‘n verlaagde risiko van baarmoeder- en eierstokkanker, endometriose en anemie. Met ander woorde, terwyl jy nog nie ander opsies oorweeg nie, is daar oorgenoeg redes waarom jy jou lewe op die pil kan bly geniet.

Via: Marie Claire

 

Lees ook:

Die ideale ouderdomsgaping tussen kinders

Blykbaar is dít die belangrikste gesinswaarde om jou kinders te leer

Angelina Jolie praat oor hoe dit was om in Namibië geboorte te gee

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 wonderlike maniere om ’n nuwe ma te help

Blomme is altyd ’n welkome geskenk, maar hierdie gawe gebare sal meer as net die lewe ophelder van iemand wat...

Close