×
Skakel na Engels

Dís wat jy moet weet voordat jy ’n motorlening aangaan

Is jy seker jy het al die inligting? Deur Juliet McGuire
motorlening

Jy staan op die punt om ’n lang en gelukkige reis met jou nuwe ryding aan te pak. Maar voordat jy by die motorhandelaar om ’n lening aansoek doen, moet jy doodseker maak dat jy alles weet wat daar van hierdie onderneming te wete is.

Voordat jy die ja-woord vir jou motorlening gee, moet jy seker maak of jy vir hierdie verbintenis kans sien. Die motor sal in jou naam wees en die lening jou verantwoordelikheid totdat die volle bedrag wat jy die bank skuld, afbetaal is. Gelukkig het ons die kattebak vol foute wat onervare kopers maak, netjies uitgepak sodat jy nie in dieselfde skuldsiklus vasgevang sal word nie. 

Wat is sommige van die moets en moenies waarvan jy bewus moet wees voordat jy om ʼn motorlening aansoek doen?

Moets:

1. Doen aansoek om ’n motorlening wat binne jou begroting is en maak voorsiening vir al die rykoste (brandstof, onderhoud, omvattende versekering en motorwasse).

2. Maak seker dat jy genoeg gespaar het om ’n behoorlike deposito te betaal. ’n Groot deposito bring die verkoopprys af, wat beteken dat jy minder by die bank leen en jou motorlening vinniger kan afbetaal.

3. Handhaaf ’n goeie kredietgeskiedenis. Betaal jou lenings en rekeninge altyd betyds. Die bank sal op jou kredietgeskiedenis ingaan om seker te maak dat jy ’n goeie lener is.

4. As jy in ’n tweedehandse motor belangstel, behoort jy dit te oorweeg om die waarborg of diensplan te verleng om seker te maak dat jy gedek is wanneer die huidige plan verstryk.

Moenies:

1. Moenie voor die versoeking swig om bo jou motorbegroting te koop nie. Daar is ’n groter kans dat jou lening afgekeur gaan word as die bank sou vasstel dat jy nie die maandelikse motorpaaiement kan bekostig nie.

2. Moenie verleë voel om na ’n goedkoper of tweedehandse motor te kyk nie. ’n Klein motortjie is die eerste stap in die rigting van jou droomkar.

3. Moenie om ’n motorlening aansoek doen pas nadat jy by ’n nuwe werk begin het nie. Wag eerder ’n paar maande, want dit sal jou stabiliteitstatus verhoog en in jou guns tel wanneer jy ’n motorlening aanvra.

4. Moenie die tydperk van jou motorlening verleng tensy jy jou in ’n finansiële verknorsing bevind nie. Hoe gouer jy die lening terugbetaal, hoe minder hoef jy aan rente te betaal.

Afgesien van die foute wat onervare kopers maak, is dit ’n goeie idee om dalk nog ’n laaste keer na jou begroting kyk voordat jy om jou lening aansoek doen. Maak eerder dubbel seker as om met ’n lening te sit wat jou kaal uittrek.

Onthou om die motorhandelaar elke moontlike vraag te vra voordat jy teken. Hierdie band met jou motor kan die reis van ’n leeftyd wees, en as jy reg begroot het, behoort daar baie min klippe op jou pad te wees.

Lees ook: Wat om te doen wanneer jy padwoede het

Die basiese riglyne van motorfinansiering

Om ’n nuwe motor te koop is ’n proses wat by pen en papier moet begin. Sodoende het jy ’n geleentheid om elke noodsaaklike uitgawe noukeurig aan te teken, en uiteindelik te bereken hoeveel van jou besteebare inkomste jy aan ’n motor en die gepaardgaande lopende koste kan afstaan, waaronder brandstof en omvattende versekering. Dit help jou nie net om behoorlik te begroot nie; ’n volledige bekostigbaarheidsassessering van al hierdie syfers is verpligtend wanneer jy om ’n motorlening aansoek doen.

“Banke vereis presies dieselfde begroting wat jy opgestel het toe jy besluit het om ’n motor te koop,” sê Rudolph Mahoney, Wesbank se handelsmerk-en-kommunikasiehoof. “Wanneer jy ’n motorfinansieringsaansoek invul, sê jy wat jy verdien en wat jou uitgawes is om sodoende by ’n besteebare inkomstesyfer uit te kom. Dit voorkom dat banke krediet verleen wat jy nie kan bekostig nie – sodat jou kredietrekord ongeskonde bly.”

’n Persoonlike begroting is die eerste stap van die aansoekproses, en moet van ondersteunende dokumentasie vergesel word. Dit sluit in drie onlangse salarisstrokies en bankstate, ’n bewys van adres, rybewys en ’n afskrif van jou identiteitsdokument of paspoort. Hierdie dokumente word deur banke gebruik om jou identiteit te verifieer – en dus bedrog te voorkom. Sonder hierdie deeglike kontrole kan enige misdadiger wat oor net ’n paar van jou besonderhede beskik, in jou naam finansiering aanvra.

Sodra al jou dokumentasie in orde is, kan jy by die handelaar om motorfinansiering gaan aansoek doen. Daar sal jy deur ’n finansiering-en-versekering-verteenwoordiger (F&I-verteenwoordiger) bygestaan word wat verplig is om jou van goeie, onpartydige raad te voorsien soos bepaal deur die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (FAIS).  Die handelaar sal jou finansieringsaansoek en ondersteunende dokumentasie dan aan al die banke voorlê.

Jy sal verskeie kwotasies ontvang vir die voertuig wat jy wil finansier, een van elke bank. Nadat jy die koerse vergelyk het, kan jy die aanbod kies wat jou begroting pas. As jy nie vir finansiering vir ’n sekere bedrag kwalifiseer nie, sal die F&I-verteenwoordiger jou deur die proses begelei en jou help om by ’n meer geskikte begroting uit te kom.

Let ook daarop dat hierdie kwotasies nie finaal nie. Jy kan die ooreenkoms steeds na goeddunke struktureer – die Wesbank-webwerf beskik oor berekenaars waarmee jy berekeninge kan doen om te bepaal watter struktuur die beste by jou begroting sal pas. Opsies sluit in dat jy ’n groter deposito betaal, of die kontraktydperk kan verleng of verkort. In sommige gevale kan julle ook oor die rentekoers onderhandel – dit berus egter steeds by die bank.

Laastens, net soos by soos die akkurate uiteensetting van jou bekostigbaarheid tydens jou finansieringsaansoek, moet jy doodseker van jou keuse wees wanneer jy op die struktuur van jou ooreenkoms besluit. Nadat jy dit geteken het en jou motor in ontvangs geneem het, kan jy nie aan die voorwaardes verander nie.

“Om met jouself sowel as met die bank eerlik te wees, sal jou help om die regte keuse te maak,” sê Mahoney. “Vra jouself af of jy gelukkig én in staat is om vir die volgende drie tot vyf jaar so ’n groot maandelikse betaling te doen. Jy kan altyd uit ’n aansoek kop uittrek; moet dus nie oorhaastig wees om jou aan ’n motor te bind wat jy nie kan bekostig nie.”

Uit: WOW

FOTO: iStock/Photobuay

LEES OOK:

Hoe werk ballonbetalings nou eintlik?

5 wenke om dié maand geld te spaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Wat sê jou motor se kleur van jou?

Die kleur van jou motor sê baie van jou … Deur Juliet McGuire

Close