×
Skakel na Engels

Dis maklik om ’n gesonde middagete vir jou kinders in te pak

Die geheim is verskeidenheid!
gesonde middagete discovery

Die belonings van gesond eet lê in konsekwente gesonde keuses vir elke daaglikse maaltyd. Om goeie maniere te kry om gesonde kosblikkos vir jou kinders in te pak is nie altyd maklik nie. Die meeste kinders moet aangemoedig word om gesond te eet en dit plaas druk op ouers om al hul maaltye aanloklik te maak. “Gesonde kosblikkos is belangrik vir kinders sodat hulle al die voedingstowwe kry wat hulle nodig het en genoeg energie vir ’n besige skooldag en naskoolse aktiwiteite het,” sê Candice Smith, hoof van Discovery Vitality se voedingstrategie. “Middagetes by die skool is dikwels ryk aan vet en sout, of propvol suiker. Dit kan baie leë kilojoules by die kind se dieet voeg en bydra tot ’n hoër risiko vir oorgewig, belemmerde konsentrasie, swak ontwikkeling en lae energievlakke.”

Ons het die vyf belangrikste elemente opgesom wat kosblikkos gesond maak, met wenke om jou te help om die nodige verskeidenheid te verskaf sodat hulle nie verveeld met hul kos raak nie:

  1. Koolhidrate

Probeer om altyd volgraanbrood, kraakbeskuitjies, rys of pasta met ’n hoë veselinhoud te gebruik. Hierdie koolhidrate verskaf meer vitamiene en minerale, en die ekstra vesel beteken dat energie stadiger vrygestel word.

  1. Vrugte en groente

Sluit ’n porsie groente of slaai, asook vrugte in. Vars vrugte is die beste, maar geblikte vrugte (in natuurlike sappe) of droëvrugte (sonder bygevoegde suiker) kan by geleentheid as alternatief gebruik word. Vermy liefs geblikte groente omdat dit dikwels baie sout bevat.

  1. Laevet- of vetvrye suiwelprodukte

Sluit ongegeurde laevet- of vetvrye suiwelprodukte soos maaskaas, jogurt of ’n houertjie melk in.

  1. Proteïen

Hoender sonder die vel, olierige vis, eiers en peulplante is gesonde proteïenopsies. Grondboontjie- of neutbotters (sonder bygevoegde suiker of sout) verskaf ook proteïene, asook gesonde vette.

  1. Water

Water is die gesondste drinkding en kinders behoort aangemoedig te word om dit te drink. Probeer gegeurde water as ’n alternatief.

 

Hier is ’n paar idees vir gesonde toebroodjies wat jou kind sal geniet:

  • Verruil polonie, salami en ander verwerkte kouevleise, wat ryk aan versadigde vet en sout is, vir gesonder keuses soos tuna, maer kalkoen of hoenderborsies.
  • Gebruik suiker- en soutvrye grondboontjie- of neutbotters op ’n toebroodjie. As jy gewoonlik konfyt by die toebroodjie voeg, vervang dit deur piesangskyfies.
  • Vervang mayonnaise deur matige mosterd, wat smaaklik is en veel minder kilojoules bevat.
  • Eiers is ’n bron van goeie proteïen en kan op baie maniere op toebroodjies gebruik word.

 

Pleks van elke dag toebroodjies te maak, probeer hierdie alternatiewe. Maak net seker jy plaas dit in lekvrye houers en onthou om ’n vurk in te pak:

  • Ongewone slaaie: Tamatie-aarbei-en-suurlemoenslaai met basilie en dennepitte; groen-olyf-okkerneut-en-appelkoosslaai; en waatlemoen-olyf-en-fetaslaai.
  • Oorskietpasta van aandete kan in ’n heerlike slaai omskep word. Meng dit met fyngekapte groente, gesnipperde hoender sonder die vel of tuna en ’n tuisgemaakte slaaisous met jogurt, suurlemoen en kruie of ’n matige mosterd.
  • Meng oorskiet-bruinrys met geblikte bone, tuna of gekapte, vellose hoender vir ’n hoëvesel- en proteïenryke maaltyd.
  • Meng maaskaas met bessies of stukkies vrugte vir ’n hoë-proteïen- en kalsiumryke versnapering.

 

Vir nog goeie idees vir heerlike, voedsame maaltye, besoek die Discovery Vitality HealthyFood Studio. Hierdie kookskool, wat in Sandton geleë is, bied kursusse aan om jou te help om die beste keuses vir jou gesin se voedingsbehoeftes te doen. Hulle het onlangs ’n kursus vir kinders bekendgestel wat kinders lewenslange vaardighede leer en ’n liefde vir gesonde kos kweek – ’n gewoonte wat hulle as volwassenes sal voortsit.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 smullekker resepte vir flesslaaie

Hierdie flesslaaie vir middagete wat jy vooraf kan maak, is ideaal om die vorige aand se oorskiet te benut

Close