EERSTEJAARSINDROOM
Ek het in ’n tipiese Suid-Afrikaanse gesin met rys, vleis en aartappels grootgeword. Groente is met suiker en margarien berei. Ek was ’n aktiewe kind en het aan verskeie sporte deelgeneem, maar toe ek universiteit toe is, het my aktiwiteitsvlakke afgeneem en my gewig toegeneem. Ek het verskeie diëte probeer en met die meeste van hulle gewig verloor, maar kon dit nog nooit afhou nie. Nadat my seun, Caleb, gebore is, het ek 44 kg in een jaar aangesit. Op 168 cm, 126 kg en met ’n LMI van 44 was dit moeilik om te loop, wat nog te sê om agter my eenjarige aan te hardloop.
GASTRIESE CHIRURGIE
Ná baie navorsing het ek besluit om ’n gastriese band te kry omdat porsiebeheer my grootste struikelblok is wanneer dit by ’n gesonde leefstyl kom. Dit kan verstel word en ook verwyder word indien daar komplikasies is. Ek was meer as net ’n bietjie angstig, maar ek was nog nooit spyt nie. Om die gastriese band chirurgies te laat insit was die kleinste deel van my verslankingsproses. Daarna moes ek soos ’n baba eet: deursigtige vloeistowwe, toe ligte soppe, toe fyngemaakte stysel, vrugte en groente. Later is sagte kosse en vleise toegelaat.
DIE STIGMA-STRYD
Ek het 58 kg in die afgelope jaar verloor en voel fantasties. Ek het van ’n nommer 24 na ’n nommer 10 verslank. Dis ironies dat ek omtrent 10% eet van wat ek voorheen geëet het, maar baie meer energie het. Ek het twee weke ná die operasie begin oefen en in Augustus my eerste halfmarathon voltooi. Die gastriese band is nog relatief nuut in Suid-Afrika en daar kleef ’n stigma aan chirurgie vir gewigsverlies. Maar dis nie die maklike uitweg nie. In baie gevalle is dit ’n laaste uitweg vir mense met lewensgevaarlike gewigsprobleme. Die band het my die opsie gegee om gesonde keuses te doen, maar dis nie ’n wonderkuur nie. Ek moet steeds elke dag die besluit neem om gesond te eet en te oefen.
Lees: 6 maniere om jou dieet weer op dreef te kry
’N TIPIESE DAG SE KOS
ONTBYT: Een gekookte eier, 50 g sousbone (Een dag per week eet ek vrugte met sade en jogurt vir ontbyt.)
MIDDAGETE: 150 g stokvis en groente
AANDETE: 150 g filetsteak
PEUSELHAPPIES: Gewoonlik niks nie, maar as ek honger raak, peusel ek aan 50 g biltong of vyf neute
DRANKIES: Vyf tot agt koppies koffie per dag en 2 liter water
WENKE
KLEINER HAPPIES: Eet drie maaltye per dag, vat klein happies (omtrent so groot soos ’n R2-munt) en eet altyd die proteïen eerste.
KOU GOED: Kou sowat 20 keer, sit jou vurk tussen happe neer en wag totdat jy gesluk het.
PORSIEBEHEER: Hou jou porsies so groot soos ’n kleinbordjie.