×
Skakel na Engels

Dís hoe die GH-leser Chantelle Coetzee 41,2 kg verloor het!

Hierdie transformasie slaan ons asem weg!
Chantelle Coetzee

Ontmoet Chantelle Coetzee, ’n 46-jarige klantediens-spanleier wat ’n ongelooflike 41,2 kg afgeskud het deur die regte ingesteldheid in te neem, haarself beheer te leer, en die komplimente wat sy begin kry het as motivering te gebruik:

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

Emosionele eter

My gewig het in my middel-30’s begin toeneem. Ek het ’n trooseter geword nadat my huwelik verbrokkel het. Ek het beheer verloor, nie ontbyt geëet nie, nie dopgehou wat ek eet nie en reuse-porsies geëet. Toe ek ’n nr. 20 begin dra, het ek besef ek moet iets doen. Ek het 20 kg verloor, maar dit alles – en meer – weer aangesit en as ’n nr. 24 opgeëindig.

Die regte ingesteldheid

Toe het ’n vriendin my van Weigh-Less vertel. Dié keer was my ingesteldheid reg en ek was suksesvol. By Weigh-Less eet jy in matigheid van al die voedselgroepe. Dis ’n leefstylverandering, nie ’n dieet nie. Naweke kan jy die formule ’n bietjie ontspan en bederfies geniet. Ek is dol oor koolhidrate en dié eetplan het dus by my leefstyl gepas, want ek kon steeds brood en aartappels in matigheid eet. Ek het dit geleidelik gedoen en dit het twee jaar geneem.

Leer beheer

Die moeilikste deel was om dit by my gesin se maaltydvoorbereiding te inkorporeer, maar toe ek eers die beplanning reggekry het, het dit goed gewerk. Die beste deel is dat ek steeds kan bak. Ek is dol oor bak en ek het geleer hoe om myself te beheer.

Die krag van komplimente

Ek het nooit gedink dat ek nié my doelwit sal bereik nie. Ek het soveel ondersteuning van my familie, vriende en kollegas gehad. Dit was wonderlik. Elke kompliment het so baie vir my beteken en ek het van krag tot krag gegaan. Ek is van ’n nr. 24 af na ’n nr. 14. Ek voel ligter en kan die klere koop wat ek wil hê. Ek het ander mense geïnspireer, wat my gemotiveerd gehou het, en het besluit om ’n Weigh-Less-groepleier te word. Ek wil aanhou om ander te inspireer en hulle help om te besef dat dit moontlik is.

’n Tipiese dag se kos

Ontbyt: All-Bran Flakes, rosyntjies en melk, of jogurt en muesli of vrugte, of omelet en roosterbrood (naweke)

Peuselhappie: Jogurt, vrugte of neute

Middagete: Slaai, toebroodjie, pitabrood of oorskiet van die vorige aand

Peuselhappie: Jogurt, vrugte of neute

Aandete: Altyd ’n proteïen, groente en ’n koolhidraat

Drankies: Tee, 2 ℓ water, 2 tot 3 koppies koffie, groen tee of vrugtetee

Chantelle se wenke

Slim peuselhappie

Eet ’n appel terwyl jy aandete maak – dit keer dat jy aan die kos peusel.

Fokus op nóú

Moenie dink aan hoe lank dit gaan neem om die gewig af te skud nie. Vat dit een dag op ’n slag.

Kry ’n mantra

Hou by hierdie drie woorde: volharding, konsekwentheid en toewyding. Jy sal die vrugte van jou harde werk pluk.

Suksesverhaal

Toe: 117,2 kg

Nou: 76 kg

Verloor: 41,2 kg

Tyd wat dit geneem het: Twee jaar

LEES OOK:

Huisstof kan die rede wees dat jy nie gewig verloor nie, so sê wetenskaplikes

8 foute wat jy met smoothies kan maak

13 kosse om te vermy wanneer jy ontbyt eet

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief