×
Skakel na Engels

Dieredinge

Al jou troeteldier kopsere sal hier beantwoord word:

 

 

V: “My poolhond (husky) verloor hare onder haar maag. Sy byt en krap daaraan. Wat veroorsaak dit en wat kan ek doen?”

 

A: “Vlooie is die algemeenste oorsaak, maar daar kan ook baie ander redes wees, soos myte, ’n kosallergie, irritasie van beddegoed of matte, of selfs infeksie,” sê dr. Jimmy Symmonds van Riverside Vets in Kaapstad. Die eerste stap is om jou veearts vir ’n akkurate diagnose te gaan spreek. “Hopelik is dit net vlooie, en dit kan maklik behandel word met ’n vloeibare insektemiddel wat jy agterop jou hond se nek uitdruk. Jou huis, veral die gedeeltes waar jou poolhond slaap, behoort vir twee tot drie weke lank daagliks deeglik gestofsuig te word om die eiers en larwe-ontwikkeling te vernietig,” voeg hy by.

 

 

 

 

 

V: Ek het ’n mediumgrootte hond en ’n klein tuin agterin my erf. Is dit belangrik om elke dag met my hond te gaan stap, en vir hoe lank?”

 

A: “Ja, jou hond sal dit regtig geniet as julle elke dag, indien moontlik, kan gaan stap,” sê dr. Rick Pryce, ’n voormalige president van die Suid-Afrikaanse Veeartsenyvereniging. “Honde raas nes mense verveeld as hulle nie kan sien wat buite die ‘vier mure’ van hul bestaan aangaan nie.” Selfs ’n kort stappie is goed, want dit beteken jou hond kry jou onverdeelde aandag vir ’n ruk, iets waarvan hy baie hou. Dr. Pryce sê dit is ook belangrik om ’n leiband te gebruik, want dit is die enigste beheer wat jy oor jou hond het, tensy hy uitermate gehoorsaam is. “Dit kan ’n hondegeveg én veeartsrekenings voorkom. Sommige leibande kan verleng word; dit gee jou hond meer vryheid.” Onthou, in sommige gebiede is ’n leiband verpligtend.

 

 

 

 

 

V. “My babahondjie hou nie op om homself te krap nie. Ek het al verskeie bosluis- en vlooimiddels probeer, maar sonder sukses. Wat kan ek doen?”

 

A. Dit kan ’n kosallergie wees of hy is dalk allergies vir sy sjampoe, maar allergieë weens goed wat hulle inasem, is meer algemeen, sê dr. Liam Bebbington van die Blue Cross-veeartsenyhospitaal in Kaapstad. Probeer jou troeteldier buite hou wanneer jy stofsuig en probeer ook sy pote afvee wanneer hy buite was. Twee goeie natuurlike voorkomingsmaatreëls vir vlooie en bosluise is kakiebos en malva-ekstrak. Let ook op wat jou hond eet. ’n Graanvrye dieet vir ’n paar dae kan ook die gekrap stopsit. Honde kan ook stres ervaar en hulself lek en krap as hulle nie genoeg aandag of oefening kry nie.

 

 

 

 

“My hond hou nie op blaf nie! Hy blaf vir almal en alles. Hoe kan ek ’n einde hieraan maak?”

 

“Die hoofrede waarom honde heeltyd blaf, is verveling,” sê Karis Bryen, ’n kenner op die gebied van dieregedrag en honde-afrigter by Happy Dogs in Knysna en Kaapstad. “Mense moet besef dat hulle die stryd teen ’n geblaf nét kan wen as hul hond genoeg gereelde en gesonde oefening kry. En, voeg sy by, as jy op jou hond gil om stil te bly, dink hy jy blaf saam!

“Wanneer jou hond blaf, gaan staan buite met ’n speelding wat ’n hoë piepgeluid maak en ’n paar lekker peuselhappies in die hand. Sê dan: ‘Rex, bly stil’ in jou gewone stemtoon en laat dan die speelding onmiddellik piep. Jou hond sal ophou blaf en kom ondersoek instel na waar die geluid vandaan kom. Gee dan dadelik vir hom van die lekker kossies as beloning vir sy stilte.

Die piepgeluid sal die blafsiklus onderbreek en jou hond leer om vinniger te kalmeer.”

 

 

 

 

 

“Hoe leer ek my kat om ’n sandbak te gebruik?”

 

Maak seker die sandbak is op ’n stil plek weg van verkeersgeraas, want katte verkies om privaatheid te hê wanneer hulle hul blasies en magies ledig. Dis ook belangrik om agter te kom van watter soort katsand jou kattekind hou.

“As jou volwasse kat daaraan gewoond is om vir dié takie tuin toe te gaan, kan jy gewone tuingrond in die sandbak gooi,” sê Karin Landsberg, ’n dieregedragskenner by Thinking Pets in Johannesburg.

Konsekwentheid is die wagwoord wanneer jy jou kat wil leer om sy sandbak te gebruik. “Sodra jy sien hy beweeg in die rigting van ’n stil plekkie, moet jy hom dadelik na sy sandbak neem,” sê Landsberg. Prys jou kat en gee hom ’n bederfie nadat hy die sandbak gebruik het – hy sal gou verstaan wat jy van hom verwag.

 

Geweeg en … te swaar bevind: ’n Oorgewig troeteldier is ’n ongesonde troeteldier. Na watter kant toe laat jóú vierpoot die skaal oorhel?

Byna die helfte van die diere wat veeartse behandel, weeg meer as wat hulle behoort te weeg, sê dr. Guy Fyvie, ’n Johannesburgse veearts, kundige op die gebied van troeteldier-vetsugtigheid en ’n adviseur vir Hill’s-troeteldierkos.

Oorgewig troeteldiere is geneig om meer kortasem te wees, warm te kry en met styfheid te sukkel, sê Fyvie. Vetsugtigheid kan ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak, soos fisieke stremming wat op die gewrigte, ruggraat, hart en ander interne organe geplaas word. Dit kan ook tot diabetes lei en selfs hul risiko vir kanker verhoog.

Hy beveel die volgende toetse aan om te kontroleer of jou hart se punt dalk oorgewig is:

1. Streel jou troeteldier se sye – as jy nog die ribbes kan voel, is die dier in ’n goeie kondisie.

2. Ondersoek ’n bietjie jou hond se middellyf; ’n duidelik onderskeibare middellyf behoort aan die voorkant van sy heupe sigbaar te wees.

“ ’n Gebalanseerde dieet sluit nie soetgoed en kos van die tafel af in nie,” sê Fyvie. As jy vir jou hond een gewone klein beskuitjie gee, is dit net so goed jy gee vir hom ’n hamburger. Een koppie melk vir jou kat is gelykstaande aan 250 g sjokolade. Fyvie stel voor dat jy by die aanbevole troeteldierbederfies hou of gesonde peuselhappies soos wortels, springmielies of komkommer probeer.

 

“Hoe kan ek seker maak dat my kat van die regte tandheelkundige higiëne voorsien word?”

“Die beste manier om jou troeteldier se tandgesondheid te verseker is om jou kat se tande gereeld te borsel,” sê dr. Guy Fyvie, ’n veearts in Johannesburg en raadgewer vir Hill’s Pet Nutrition. Maak jou kat van kleins af gewoond aan tande skoonmaak om enige moeilikheid met ’n volwasse kat in die toekoms te vermy. “Daar is spesiale troeteldiertandeborsels by veeartse en in troeteldierwinkels beskikbaar,” sê Fyvie. Tandepasta wat vir mense bedoel is, is nie gesond vir jou dier nie.

Fyvie se raad is om jou veearts te vra om spesifieke kos voor te stel wat plaak en tandsteen sal bekamp. Jy sal steeds jou kat vir gereelde, vaste afsprake vee- arts toe moet neem om tandsteen te laat afskraap en om die tandjies te laat poleer.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om jou goudvis gelukkig te hou

’n Leë vistenk of -bak sal jou goudvis sommer miserabel maak. Só kan jy sy vinne van blydskap laat klap

Close