×
Skakel na Engels

Die wetenskap van geluk

Om mooi te lyk behels dikwels dat jy mooi voel. Ons glo dit beteken ook dat jy gelukkig voel. Positiewe sielkunde kan jou leer hoe om “mooi” te leef Deur Clinique

 

 

Ons het op hierdie YouTube-video van ’n TED-toespraak van Martin Seligman, ’n Amerikaanse sielkundige, afgekom. Daarin praat hy oor ’n veld van die sielkunde wat vir ons nuut was. Seligman is ’n onderskrywer van positiewe sielkunde. Hy verduidelik dit het ontstaan uit ’n behoefte om die lewe van normale mense meer vervuld te maak deur positiewe ingrypings om hulle gelukkiger te maak.

 

“Gelukkig” was ’n te breë onderwerp. Daarom het Seligman en medewerkers dit afgebreek in die drie gelukkige maniere waarop gelukkige mense skynbaar leef – ’n opgeruimde lewe, ’n betrokke lewe en ’n betekenisvolle lewe.

 

’n Opgeruimde lewe

Dit word gedryf deur plesier; waar jy soveel positiewe emosie uit ondervindings kry as wat jy kan en vaardighede (soos waardering en oplettendheid) aanleer om dit te versterk. Maar dit kan beïnvloed word deur die manier waarop ons positiewe emosies verwerk. Dis 50% oorerflik (van ons ouers geleer) en kan nie regtig verander word nie, plus plesier raak minder intens as jy dit weer en weer doen (die eerste Lindt-sjokolade kan verruklik wees, maar die sesde een nie meer so baie nie).

 

’n Betrokke lewe

Die tweede gelukkige “lewe” is een van inskakeling – dis jou werk, ouerskap, liefde, stokperdjies – die plek waar tyd vir jou stilstaan. Positiewe sielkundiges noem dit “vloei” – waar plesier gedefinieerde perke het en gevoelens, “vloei”, het nie perke nie. Wanneer jy “in vloei” is, kan jy niks voel nie – jy is gefokus en konsentreer intens. Dit, sê Seligman, is die goeie lewe, en daar’s ’n resep daarvoor: Jy moet vasstel wat jou vyf sterkste punte is en dan moet jy herbesin oor jou lewe, jou werk, jou liefde, jou vriendskappe om vas te stel hoe jy daardie sterk punte ten beste kan inspan. Wat jy daaruit kry, is meer absorpsie (dus nie net plesier nie, maar die bevrediging dat jy iets doen waarmee jy goed is).

 

’n Betekenisvolle lewe

Die derde “lewe” wat gelukkige mense lei, loop parallel met die tweede, en jy het waarskynlik geraai wat kort … ja, betekenis. In hierdie gelukkige “lewe” weet jy wat jou sterkte punte is en jy gebruik dit om deel van en in diens van iets groters as jy te wees.

 

Lewensbevrediging

Seligman en sy navorsers het die drie “gelukkige” lewens geneem en gevra: “Watter een is die belangrikste vir lewenstevredenheid: die nastrewing van plesier (die nastrewing van positiewe emosie), die nastrewing van betrokkenheid (tyd staan stil terwyl jy besig is met iets waarmee jy goed is) of die nastrewing van betekenis? Duisende mense het aan hul navorsing deelgeneem en hulle het dit 15 keer gerepliseer sodat hulle heeltemal seker van hul resultate kon wees. Hulle het regtig verwag dat die antwoord die nastrewing van plesier sou wees. Dit was nie. Seligman het bevind dat “plesier amper geen invloed op tevredenheid het nie”. “Die nastrewing van betekenis is die belangrikste en die nastrewing van betrokkenheid is ook baie sterk. Waar plesier saak maak, is waar jy eers betekenis en betrokkenheid het, dán is plesier die geklopte room en die kersie,” grap Seligman. “Die som is groter as die dele.”

 

Positiewe ingrypings wat tot geluk gelei het

Toe hulle eers dié inligting gehad het, het die “positiewe sielkundiges” gekyk na raad oor hoe om gelukkig te word. Hulle het bevind dat opleiding in lewensvaardighede oor dié onderwerp, uit die raad van Tony Robbins en die onderrig van Boeddha, verdeel kon word in 120 ingrypings wat dié “lewens” kan verander en verbeter.

 

Hulle het bewys dat mense gelukkiger is as hulle die volgende eenvoudige take verrig en die moeite doen om dit deur te voer:

 

1. Beplan een naweek per maand vir jouself ’n pragtige dag – en terwyl jy dit geniet, waardeer die ervaring.

2. Dink terug aan ’n tyd toe iemand se hulp ’n groot verskil in jou lewe gemaak het. Miskien was dit iemand wat jy nie op daardie tydstip behoorlik bedank het nie omdat die uitwerking van hul daad nog nie vir jou duidelik was nie. “Skryf ’n getuigskrif van 300 woorde, besoek die persoon en lees die getuigskrif … Drie maande later sal julle albei steeds gelukkiger wees as wat julle was,” sê Seligman. Hou ’n dankbaarheidsdagboek, maar skryf net een keer ’n week daarin. Hou een aand eenkant daarvoor.

3. Sit elke week een aand opsy waarop jy en jou maat iets aanleer of bestaande vaardighede oefen (begin saam ’n skilderkursus, speel ’n rondte gholf …) Dit is bewys dat dit julle nader aan mekaar sal bring en jul verhouding gelukkiger sal maak.

4. Doen iets onselfsugtigs én iets prettigs en weeg die resultate teen mekaar op. Jy sal sien dat die pret jou net vir ’n kort rukkie gelukkig laat voel, maar goeie dade sal jou vir veel langer laat goed voel.

 

V: Wat is die een ding wat alle gelukkige mense het?

A: Vriende

Behalwe vir punt 3 kan jy dalk dink die ingrypings hier bo behoort net op jouself van toepassing te wees. Jy’s verkeerd … Ja, natuurlik is van dit privaat, maar waar dit ook al moontlik is, probeer om vriende te betrek. Toe Seligman en sy span nagevors het hoe uitermate gelukkige mense van die res van ons verskil, het hulle bevind rykdom het nie in gelyke mate ’n invloed nie, en oefening ook nie. Daar was een ding wat hulle almal gemeen gehad het: Hulle was “uitermate sosiaal”. Betrek dus vriende in jou pragtig ontwerpte dag, doen ’n kookkursus saam met ander paartjies, begin ’n filantropieklub … Gaan uit en geniet die pragtige lewe!

 

As jy vergenoegd, vervul en waardevol voel, sal dit jou selfvertroue verbeter en jou gelukkiger maak. En daar’s niks so mooi soos ’n gelukkige, selfversekerde vrou nie. Maar al is Seligman die kenner van die wetenskap van geluk, is Clinique die kenner van die wetenskap van skoonheid.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dinge wat slim vroue reg doen

Hier is van die strategieë waarvolgens suksesvolle vroue leef DEUR CLINIQUE

Close