×
Skakel na Engels

Die waarheid agter aartappel-mites

Aartappels word wêreldwyd as een van die veelsydigste groentes erken en dis boonop ook die gewas wat op die meeste plekke oor die wêreld heen verbou word. Aartappels Suid-Afrika onthul die waarheid agter ’n paar mites oor dié gewilde groente

 

 

Volgens Aartappels Suid-Afrika word sowat 2 miljoen ton aartappels jaarliks in Suid-Afrika geproduseer op ’n totale oppervlak van sowat 50 000 hektaar. Met sulke hoë volumes wat opgelewer en eindelik deur Suid-Afrikaners verbruik word (slegs 8% van ons aartappels word uitgevoer), is dit hoog tyd dat ’n paar algemene wanbegrippe omtrent aartappels opgeklaar word:

 

MITE: Aartappels bevat nie so baie voedingstowwe soos ander groentes nie.

Dié mite is in die wiele gery deur die dieetkundige Claire Julsing-Strydom se feite oor die voedingswaarde van aartappels. “Aartappels word dikwels onderskat wat voedingswaarde betref wanneer hulle met hul kleurryke eweknieë vergelyk word en tog is aartappels propvol verskeie belangrike voedingstowwe,” sê Julsing-Strydom. Aartappels is bekend daarvoor dat dit jou van jou daaglikse kalium-inname voorsien en bied trouens meer kalium per porsie as piesangs. Saam met die hoë kaliumvlakke maak die lae natriuminhoud van aartappels dit ook ’n goeie maaltydopsie vir mense met hoë bloeddruk.

 

MITE: Aartappels is ’n koolhidraat en moet dus vermy word.

Tydens die onlangse bohaai oor Tim Noakes se Banting-dieet is aartappels as “vetmaakkos” verklaar en word mense nou aangeraai om dit heeltemal uit hul dieet te sny. Dié aanbeveling word gegrond daarop dat die oormatige inname van hoogsverfynde koolhidrate en kosse wat suiker bevat jou algemene gesondheid kan benadeel. Dié bestanddele lei tot ’n skerp toename in insulienafskeiding, wat moontlik ’n inflammatoriese kettingreaksies tot gevolg kan hê. Julsing-Strydom bestry hierdie mite deur te sê: “Aartappels val egter nie in dié kategorie nie. Ja, aartappels is ’n koolhidraat, maar dis ’n onverwerkte kos wat verskeie voedingstowwe verskaf. Dis belangrik om jou porsie te beheer, want die geheim van koolhidrate eet, lê in die handhawing van die gehalte en hoeveelheid wat jy inneem.”

 

MITE: Aartappels maak vet en moet dus nie by ’n gewigsverliesdieet ingesluit word nie.

Is jy bang dat die skaal dit sal wys wanneer jy ’n aartappel met middagete eet? Dink weer! ’n Middelslag-aartappel (100 g) bevat slegs sowat 330 kJ. Die probleem kom in by alles wat ons gedurende die verskillende gaarmaakmetodes bý die aartappel voeg! Hoe jy die aartappel gaarmaak sal ook beduidend tot die totale energiewaarde bydra. Bevrore aartappelskyfies wat in die oond gebak word kan tot dubbel soveel kilojoules (dus 720 kJ) per 100 g bevat. ’n Tipiese slaptjip-weergawe wat in olie gebraai word laat die energiewaarde tot ’n skokkende 1 225 kJ per 100 g styg. Kook of bak eerder jou aartappel heel om nie in dié algemene strik gevang te word nie.

 

 

Pesto-en-olyf-aartappels

 

Genoeg vir 12

Tyd: 20 minute

6 middelslag-aartappels, gekook

125 ml (½ k) laevetmelk

½ skyf laevetfeta

20 swart olywe, ontpit en in skyfies gesny

60 ml (¼ k) klaarbereide pesto

aartappelspeserye

 

1. Voorverhit die oond tot 190 °C.

2. Sny die aartappels oorlangs middeldeur. Skep die die vlees met ’n lepel uit – oppas dat jy nie die skil skeur nie.

3. Druk die uitgeskepte aartappel saam met melk in ’n kastrol fyn. Voeg die feta, olywe en pesto by en roer om te meng.

4. Skep die aartappelmengsel in die skille en sprinkel ’n bietjie aartappelspeserye oor. Bak vir 10 minute.

 

Vir meer inligting en smullekker resepte, besoek www.potatoes.co.za.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Smaaktoets: Oondgebakte tjips

Ons proepaneel het vyf verskillende handelsmerke se reguit gesnyde skyfies beoordeel

Close