×
Skakel na Engels

Die waarheid agter 10 teenverouderingsmites

Ons is nou weer terug, ons gaan net gou sonskermmiddel koop!

Daar is deesdae ’n magdom inligting oor velsorg en dit kan oorweldigend, verwarrend en boonop teenstrydig wees. Ons het die dermatoloog Emma Wedgeworth gevra wat die waarheid is, en om tussen feit en fiksie te onderskei …

 

  1. Jy hoef nie op ’n bewolkte dag ’n SBF te dra nie – VALS

“Wolke bied baie min beskerming vir jou vel. Tot en met 80% van UV-strale kan steeds deur wolke skyn en jou vel beskadig. Maak ’n gewoonte daarvan om daagliks ’n sonskermmiddel te dra. Baie van die ligspektrum wat veroudering veroorsaak, soos UVA, is heeljaar teenwoordig. Ons het dus steeds sonbeskerming nodig, selfs al skyn die son nie.”

  1. Om grimering met ’n SBF te dra is net so goed soos om ’n aparte sonskerm aan te wend – VALS

“Sonbeskerming behoort een van die belangrikste stappe in jou velsorgroetine te wees. ’n Goeie sonskerm moet UVA- en UVB-beskerming bied. Hoewel ’n SBF jou teen UVB-strale beskerm, bied baie grimeerprodukte nie voldoende beskerming teen UVA-strale nie. Boonop wend ons nie genoeg grimering aan of knap dit gereeld genoeg deur die dag op om by die SBF-getal op die bottel uit te kom nie.”

  1. Jy sal minder geneig wees om plooie te kry as jy nie glimlag nie – WAAR

“Herhaalde gesigsuitdrukkings veroorsaak plooie omdat die gesigspiere aan jou vel trek. As dié plooie slegs sigbaar is wanneer jy jou gesigsuitdrukking verander, staan dit as dinamiese lyne bekend. Dit kan egter mettertyd permanent sigbaar word. Maar daar is baie beter maniere om jou vel teen veroudering te beskerm as om heeltyd nors te lyk!”

  1. Hoe vroeër jy in ’n roetine kom, hoe beter sal jou vel lyk namate jy ouer word – WAAR

“Dit geld veral voorsorgmiddels soos sonskerm en antioksidante. Minstens ’n kwart van die sonskade wat jy in jou lewe sal opdoen, word in jou kinder- en tienerjare opgedoen. Dit is dus nooit te vroeg om jou vel te begin beskerm nie.”

  1. Hoe duurder ’n produk is, hoe beter sal dit werk – VALS

“ ’n Produk se uitwerking word deur die konsentrasie aktiewe bestanddele bepaal. Pleks van produkte op grond van hul prys of verpakking te kies, kyk eerder uit na hoë konsentrasies van klinies bewese bestanddele, soos retinol, retinaldehied of niasienamied.”

  1. Afgesien van velsorg bepaal jou gene meestal hoe vinnig jou vel sal verouder – WAAR

“Jou verouderingsproses hang af van hoe jou gene op jou leefstyl en omgewing reageer. Maar hoewel gene ’n rol speel, is jou leefstyl selfs belangriker. Ongeag hoe goed jou gene is, as jy jouself oormatig aan die son blootstel, rook, baie alkohol drink en sleg eet, sal jou vel heel moontlik vinniger verouder.”

  1. Jou dieet beïnvloed die tekens van velveroudering – WAAR

“Kosse met ’n hoë glisemiese inhoud is geneig om jou vel te verouder. Hoë-GI-kosse (soos suikerryke kos en eenvoudige koolhidrate) word deur jou liggaam in glukose omskep. Sirkulerende glukose kan aan proteïene in jou vel soos kollageen en elastiese vesels vasheg, wat kan maak dat jou vel van sy plompheid verloor en dat jy plooie kry.”

  1. Dit maak nie saak in watter volgorde jy velprodukte aanwend nie – VALS

“Produkte met aktiewe bestanddele, soos teenverouderingsprodukte, moet dieper in jou vel kan intrek. Dit is dus beter om dié produkte voor ’n ryker een, soos ’n bevogtiger, aan te wend.”

  1. Hoe voller jou gesig is, hoe minder geneig sal jy wees om plooie te kry – WAAR

“Namate ons ouer word, verloor ons volume in ons gesig. As jy skraal is, sal dié verlies waarskynlik meer opvallend wees omdat jou plooie dieper sal lyk. Dis egter nie ’n verskoning om gewig aan te sit nie! ’n Gesonde LMI is baie belangrik vir jou algehele gesondheid.”

  1. Jy sal makliker plooie rondom jou oë kry as jy aan jou vel trek wanneer jy produkte aanwend – VALS

“Die vel om jou oë is baie delikaat. Werk dus saggies wanneer jy produkte hiér aanwend. Daar is egter geen grondige bewyse dat jou aanwendingstegnieke velveroudering kan beïnvloed nie.”

 

Hierdie artikel het oorspronklik op www.goodhousekeeping.co.uk verskyn.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
9 goed wat jou stoelgang oor jou gesondheid onthul

Ja, ons praat sowaar daaroor

Close