×
Skakel na Engels

Die vyf algemeenste foute wat mense met Banting maak

Ons weet almal dit is aanvanklik opwindend as ons met ’n nuwe dieet begin, maar ons vind gou uit dit verg heelwat meer selfbeheersing as wat ons gedink het.
algemeenste foute

Die voedingsterapeut en Banting-kenner Sally-Ann Creed, die skrywer van The Low-Carb Creed en medeskrywer van The Real Meal Revolution en Die kosrevolusie, deel die vyf algemeenste foute wat mense maak wanneer hulle die Banting-dieet begin volg.

1. Hulle eet te veel vet: “Dit moet nie ’n hoëvetdieet (high-fat diet) genoem word nie, maar ’n gesonde-vet-dieet (healthy-fat diet),” sê Creed. “Wanneer jy te veel vet eet, sal jy jouself nie net ’n bietjie naar maak nie, maar as jy ’n vrou is, kan dalk eerder gewig aansit as afskud.” Creed sê party mense verwar die lae-koolhidraat-gesonde-vet-leefstyl (LCHF, oftewel LKGV) met ’n ketogeniese dieet. “ ’n LKGV-leefstyl behels hoofsaaklik ’n lae koolhidraatinname, ’n matige proteïeninname en ’n matige inname van gesonde vet. Sommige atlete en jonger mans vaar beter met meer vet, maar as ’n reël is dit nie regtig nodig nie. ’n Ketogeniese dieet (wat dikwels gebruik word om epilepsie en, meer onlangs, kanker te behandel) is ’n dieet met ’n ongelooflike hoë gesonde-vet-inhoud met ’n lae proteïen- en lae koolhidraatinhoud wat liefs onder die leiding van ’n opgeleide gesondheidskenner gevolg moet word,” sê Creed.

2. Hulle probeer die verkeerde kosse insluit: “Wanneer jy met ’n LKGV-leefstyl begin, is dit beter om alle peulgroente, grane, bygevoegde gluten, saadolies en ander verboten kosse te vermy,” sê Creed. Sy sê hoewel daar ’n beweging is om al hierdie kosse weer by die dieet in te sluit en dit weer “oukei” te maak, is dit nie deel van die klassieke LKGV-leefstyl nie. “Dit is altyd ’n goeie idee om behoorlik opgevoed te word deur iemand wat opgelei en al lank in die veld is, pleks van jou deur sosiale media te laat lei,” sê Creed.

3. Te veel suiwelprodukte: As enige iets jou kan laat struikel, is dit suiwel, sê Creed. “Dit is my oortuiging dat niemand met ’n gewigsprobleem suiwelprodukte moet inneem terwyl hulle in die gewigsverliesfase is nie, behalwe vir regte botter of ghi,” sê Creed. “Suiwel is hoog aan melksuiker (laktose) en ander hormone wat gewigsverlies belemmer – veral vir vroue. Dis ’n individuele ding; elke persoon moet dus vasstel wat hul toleransievlak is en of suiwel vir hulle werk of nie.”

4. Hulle verwag te gou resultate: “In die eerste week sal iedere een op enige dieet gewig verloor, veral ’n laekoolhidraatdieet!” sê Creed. “Dit beteken nie dit gaan goed vir jou werk nie – die ‘gewig’ wat jy verloor, is net water wat deur die weefsel teruggehou is. Sodra jy ’n laekoolhidraatdieet begin volg, sal jou liggaam minder water terughou en kan gewigsverlies opmerkliker wees as op enige ander gewigsverliesprogram wat ’n klein hoeveelheid koolhidrate insluit.” Creed sê hoewel jy op die LKGV-dieet in die eerste week ooglopende gewigsverlies sal toon, kan dit daarna stadiger raak. Gee jou liggaam dus tyd om aan te pas. “Dit het lank geneem om jou liggaam te misbruik en die ekstra kilo’s aan te sit – dit neem tyd om veilig gewig te verloor sonder om jou gesondheid in gevaar te stel,” sê Creed.

5. Hulle eet te veel neute: Mense eet dikwels heeltemal te veel neute op LKGV-diëte, sê Creed. Wanneer jy te veel neute en sade eet, sal dit gewigsverlies voorkom en kan dit inflammatories wees weens die hoë omega 6-vetsuurvlakke daarin, waarsku Creed. Eet dus neute en sade in matigheid, of jy oorgewig is of nie. “Baie mense wat die LKGV-leefstyl aanpak, bak allerhande soorte brode, muffins, pannekoeke en verskeie ander dinge [wat neute en sade bevat] en wonder dan hoekom hulle gewig aansit of, op die ergste, nie gewig afskud nie,” sê Creed. “Die onderliggende geheim van LKGV is om regte kos te eet – nie gebak of gekoopte, geprosesseerde kos nie. Koop enkel-bestanddeel-kosse en eet eenvoudig. Dis aanvaarbaar om nou en dan ’n klein stukkie gebakte LKGV-koek te eet, maar nie elke dag nie!”

Lees ook:

Banting vir beginners

Tim Noakes se 4 top-Banting-wenke

Banting-beginstel

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 moontlike redes hoekom jy nie gewig verloor nie

Doen en eet jy al die regte dinge, maar verloor steeds nie gewig nie? Hier is ’n paar foute wat...

Close