×
Skakel na Engels

Die slegste en beste somerkos vir gewigsverlies

Wie se idee was dit om braaivleis en Kersetes in dieselfde seisoen as swembroeke te sit?! Lees hier hoe om die somer te geniet en steeds in jou swembroek te pas

1. BY ’N BRAAI

 

Eet dít:

Maer proteïen is die slim keuse: Geroosterde hoenderborsies, garnaalkebabs en groenteburgers is alles goeie opsies. Wanneer jy lus is vir ’n regte hamburger, verwyder die broodrolletjie en eet dit op ’n slaai. En vir bykosse, hou by groenterepies, groen slaaie of vars vrugte.

 

Maar los dít:

Vermy mayonnaise- en oliedeurdrenkte bykosse. Selfs ’n klein porsie tradisionele aartappelslaai kan meer as 15 g vet bevat!

 

 

2. OP DIE STRAND

 

Eet dít:

Wil jy krakerige happies hê wat in die hitte gaan hou? Jy kan tot 5 g vet spaar deur ’n pakkie gebakte pleks van gebraaide skyfies te eet. Voel jy dors? Voeg vars bessies, ment of suurlemoenwiggies by kraanwater. Vries die bottels die vorige aand sodat dit lekker koud bly.

 

Maar los dít:

Slaptjips! Daar’s sowat 10 g vet in 30 g tjips. En daai Slush Puppies wat almal so op die strand geniet: Dis basies net ys en suikerstroop.

 

 

3. BY ’N MARK

 

Eet dít:

Hoe varser, hoe beter. Probeer ’n wrap of ’n slaai en soek stalletjies wat organiese en/of glutenvrye produkte verkoop. Kies vars uitgedrukte sappe eerder as smoothies, wat dalk vetmakende roomys of jogurt kan bevat.

 

Maar los dít:

Enige iets wat gebraai is (ja, ongelukkig beteken dit geen samoesas of slaptjips nie) of met strooiversiersel (hundreds and thousands) bedek is. As jy absoluut iets móét eet, probeer die vrugte-en-neute-stalletjie.

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om reg te eet

Daar is eet, en dan is daar éét! Voedingkundiges by die Harvard-skool van openbare gesondheid in die VSA het met...

Close