×
Skakel na Engels

Die mammogram wat 30% doeltreffender is in die opsporing van kanker

Goeie nuus vir vroue: Nuwe digitale tegno-logie wat landwyd in Suid-Afrika beskikbaar is, maak die mammo-ervaring aangenamer én doeltreffender. Catriona Ross het haar laat toets

Ek het nog nooit ’n probleem met my borste gehad nie (behalwe dat hulle so te sê verdwyn het nadat ek my dogter tien maande lank geborsvoed het). Maar aangesien ek vanjaar 40 geword het, val ek in die ouderdomsgroep waar dit raadsaam is om jaarliks vir ’n mammogram te gaan.

Wanneer ek die woord “mammogram” hoor, dink ek onmiddellik aan my ma se angswekkende beskrywings van hoe jou borste tussen koue, onbuigsame plate vasgeklamp word en dan vir wat na ’n ewigheid voel daarin vasgeknyp word.

Gelukkig het tye en tegnologie verander. Vandag is digitale 3D-mammogramme ook ’n opsie en daarom het ek besluit om my te laat ondersoek. Daar’s ’n praktyk in Kaapstad, waar ek woon, wat spog met ’n Amerikaans vervaardigde Hologic Selenia Dimensions 3D Digital Mammography System. “Die Selenia Dimensions-toestel is die enigste eenheid wat ’n 2D- én 3D- stereotaktiese biopsie, ’n samevattende 2D-rekonstruksie – wat die bestralingsdosis drasties verminder – asook kontrasverhoogde beeldmateriaal in 2D én 3D kan bied,” sê dr. Sumi Padayachee, ’n spesialis-borsradioloog en die stigter van Arya Stana Bone & Breast Care in die Kaapse woonbuurt Constantia. Dié toestel is ook vir gemak ontwerp.

“Vir party pasiënte sal dit steeds nie heeltemal pynloos wees nie,” verduidelik Padayachee. “Almal reageer anders op die kompressie.”

“Kompressie sprei die borsweefsel uit sodat jy kan sien wat binne-in is,” sê die mammograaf Lauren Anthony. Sy verduidelik dat elke bors twee keer besigtig word – van bo en van die kant af. “As jy nie kompressie gebruik nie, sal jy nie duidelike, leesbare beelde kry nie en kan jy iets miskyk.” Maar sy sê ook met die ouer masjien was ’n mammogram baie seer. “Die kompressie het langer geduur en die metaalplate was ongemaklik. Dis hoekom baie vroue vandag nog bang is en nie wil terugkom nie.”

Die toestel wat aan my borste geklamp word (dis vir enige borsmaat geskik), het groter plate en is van perspeks gemaak en die kompressie duur net ’n paar sekondes per besigtiging. Die besigtiging van bo af is kinderspeletjies: Dit voel bloot of iemand my borste hard druk en dan is dit verby. Wanneer elke bors van die kante af gedruk word, is dit tog effens ongemaklik. Ek word verseker dat dit steeds minder pynlik is as met die ouer toestelle wat blykbaar ook baie minder as die 3D-eenhede optel.

Soos ek ná die tyd gewys word, stel 3D-beeldsagteware ’n radioloog in staat om na afbeeldings van 1 mm-“skywe” van my borste te kyk. Indien daar afwykings is, kan hulle die presiese skyfie besigtig waarin die probleem lê. Dis eenvoudig nie moontlik met 2D-afbeelding nie. Ander voordele van die nuwe toestel is dat dit ’n tungsten- pleks van ’n molibdeenbuis gebruik wat jou blootstelling aan bestraling met 30% verminder.

Volgens Padayachee is ’n mammogram steeds die doeltreffendste, bekostigbaarste middel vir die vroeë opsporing van borskanker. Sy sê dit is bewys dat 3D-mammografie die opsporing van borskanker met 30% verhoog én dit hou verband met ’n 41%-verhoging in die opsporing van verspreidende borskanker. Dit kan afwykings van slegs 3 mm in grootte bespeur en “wanneer afwykings kleiner as 1 cm opgespoor word, is daar volgens statistieke ’n 98%-kans op genesing,” sê sy. Skrikwekkend genoeg is ’n knop gewoonlik reeds sowat 1,5 cm groot voordat dit met die hand gevoel kan word. Mammografie kan ’n afwyking opspoor tot twee jaar voordat jy ’n knop sal voel.

“[Medici] weet nie wat borskanker veroorsaak nie en weet nie hoe om dit te voorkom nie. Al wat ons kan doen, is om dit so vroeg moontlik op te tel,” sê sy. Vroeë opsporing beteken minder ingrypende en aggressiewe behandeling sal nodig wees om van die kanker ontslae te raak: ’n Afwyking kan maklik deur gelokaliseerde chirurgie verwyder word sonder dat dit vir ’n mastektomie nodig is en dit sal minder noodsaaklik vir chemoterapie wees. “Hoe groter en meer verspreid die kanker is, hoe moeiliker is dit om te behandel.”

Ongelukkig neem baie vroue aan dat as daar nie borskanker in hul familie is nie, hulle nie in gevaar is nie, sê Pada-yachee. “Die waarheid is dat 85% tot 90% van vroue by wie borskanker gediagnoseer word nié ’n familiegeskiedenis van dié siekte het nie. Trouens, 75% van vroue met borskanker het hoegenaamd geen risikofaktore nie.”

Die meeste mediese fondse dek ’n jaarlikse mammogram en Papsmeer. Dit blyk dat siftingstoetse nie net jou borste nie, maar ook jou lewe kan red.

 

 

Beskerm jou bors

 

• Skeduleer ’n mammogram vir sewe tot tien dae ná jou maandstonde om sensitiwiteit in jou borste te vermy.

• Ondersoek jou borste tot by jou sleutelbeen een maal per maand. Bevoel ook jou armholtes en die deel onder jou borste.

• Leer ken die sikliese veranderinge in jou borste. As jy iets vreemds voel, raadpleeg ’n kenner.

 

Vir ander mediese praktyke in Suid-Afrika wat digitale 3D-mammogramme aanbied, bel Vertec SA by 011 789 7177.

 

 

Die groot siftingstoetsdebat

 

• Daar heers tans hewige omstredenheid in ontwikkelde lande oor die voordele van mammografie. Hoewel siftingstoetse beslis lewens red, moet die risiko vir “oordiagnosering” en onnodige ingryping ook in ag geneem word. Omdat dokters nie weet watter kankers en afwykings mense sal doodmaak en watter nie, lei siftingstoetse daartoe dat talle vroue jaarliks onnodig kankerbehandeling ontvang, waaronder ’n tilektomie (knopverwydering), mastektomie, radiografie en moontlik chemoterapie – alles behandelings met ernstige langtermyn-newe-effekte.

• In Brittanje, byvoorbeeld, vir elke vrou wie se lewe danksy siftingstoetse van borskanker gered word, word daar by sowat drie ander ’n kanker gediagnoseer wat nooit lewensgevaarlik sou word nie omdat dit te stadig groei of nie aggressief is nie. Borskanker-eksperts is nogtans bekommerd dat die beklemtoning hiervan vroue van siftingstoetse kan afsit en dat borskanker wat maklik in ’n vroeë stadium opgespoor kon word, dan oorgeslaan sal word.

• Hoewel mediese kenners die bevindings betwis van ’n Kanadese langtermynstudie, naamlik dat borskankertoetse nie sterftesyfers beduidend verminder nie, sê dr. Padayachee, ’n radioloog en die stigter van Arya Stana Bone & Breast Care in Kaapstad: “Al word net een lewe gered, maak dit alles die moeite werd.”

 

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
14 gesondheidswebwerwe wat jy kan vertrou

Tik iets soos “abdominal pain” in Google en skielik staar jy na 3 800 000 resultate. Waar begin ’n mens...

Close