×
Skakel na Engels

Die maklikste manier om ’n gebrande pot skoon te maak

Jy hoef nie te skrop nie. Hier is die vinnigste en maklikste manier om jou gebrande pot te red.
gebrande pot

Ons het dit beslis al almal gedoen: ’n pot op die stoof gesit en met iets anders besig geraak en daarvan vergeet, totdat ’n nare, skerp reuk ons daaraan herinner het dat daar iets op die stoof brand. Die resultaat is nie net ’n geruïneerde maaltyd nie, maar ’n swartgebrande pot wat skynbaar onmoontlik is om skoon te kry.

Moenie stres nie! Dié eenvoudige truuk maak dit so maklik en eenvoudig om gebrande kos te verwyder dat jy sal wonder hoekom jy nog nie voorheen daarvan gehoor het nie.

Lees ook: Hoe om smerige oondrakke skoon te maak

WAT JY NODIG HET:

Asyn, water, skottelgoedseep en ’n kombuissponsie.

HOE OM DIT TE DOEN:

STAP EEN: Meng gelyke hoeveelhede asyn en water sodat die bodem van die pot en die gebrande deel (as dit aan die kante van die pot ook is) bedek is.

STAP TWEE: Stel jou stoofplaat op matige hitte, plaas die pot op die warm plaat en verhit dit liggies. Moet dit nie laat kook nie.

Lees ook: Hou só jou mikrogolfoond silwerskoon

STAP DRIE: Terwyl die water-en-asynmengsel warm word, roer en skraap die bodem liggies met ’n houtlepel of spatel. Sien jy hoe maklik die swartgebrande kos van die bodem van die pot af lig? Hou aan om dit te doen totdat die meeste van die gebrande stukkies sag geraak het en loskom.

STAP VIER: Verwyer die pot en spoel dit uit. Voeg nou gewone skottelgoedseep by en vryf die oorblywende swart merke met ’n kombuissponsie af.

STAP VYF: Spoel dit ’n laaste keer uit en daar het jy dit: glimmende vlekvrye staal wat so goed soos nuut lyk!

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
30-dag-organiseeruitdaging

Gebruik die dae in maand om jou huis netjies te maak en orde te skep!

Close