×
Skakel na Engels

Die GH-leser Rita Fernandes Venter vertel hoe sy 27 kg afgeskud het

Sien, dit ís moontlik!
Rita Fernandes Venter

Ontmoet Rita Fernandes Venter, ’n 53-jarige eiendomsagent wat ’n indrukwekkende 27 kg afgeskud het toe sy Banting ontdek het en mense se ondersteuning begin staatmaak het:

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Gewigstoename

Ek was altyd skraal. Toe ek op 24 getroud is, het ek 48 kg geweeg en ek het dié gewig tot ná my kinders se geboorte gehandhaaf. Maar in my 40’s het ek skielik begin gewig aansit. Ek het nie my eetgewoontes verander nie, maar ek het al hoe meer gewig aangesit, veral rondom my maag. Ek het verskeie diëte probeer, maar die magie wou nie wyk nie. Ek was gedurig siek met verkoues, prikkelbaredermsindroom en hoofpyne. En vetlewersiekte is ook by my gediagnoseer.

Hallo, Banting

Toe my broer en skoonsuster ’n groot hoeveelheid gewig met die “Tim Noakes-dieet” verloor het, het ek besluit om te begin Bant. Ek het aanvanklik gewig aangesit omdat ek te veel geëet het. Om eerlik te wees het ek gekul omdat ek nie die wetenskap verstaan het nie. Ek het besef dat jy dit óf behoorlik moet doen óf glad nie. Toe ek behoorlik begin Bant het, het ek van alle koolhidrate en suikers in my huis ontslae geraak. Dis moeilik wanneer jy begin, want dis so maklik en gerieflik om koolhidrate te eet. Dis baie makliker om ’n toebroodjie vir die pad te gryp as om iets gaar te maak. Die maklikste deel is dat jy kos eet wat jy herken. Eenvoudige, vars kosse.

Hope energie

Ek het begin gewig afskud en gesonder gevoel. Ek was nie meer gedurig siek nie en het meer energie gehad as wat ek in jare ervaar het. Ek weeg nou 27 kg minder en my groot maag is weg. My man het ook 30 kg afgeskud en sy diabetes is vir die eerste keer in 23 jaar onder beheer.

Ondersteun ander

Toe ek met Banting begin het, het ek by elke moontlike Facebook-blad aangesluit. Daar was ’n groep wat maaltydplanne verkoop het, maar ek wou dit deel met mense wat nie kon bekostig om dit te koop nie en ’n ruimte skep waar mense aan die hand gelei kon word op hierdie pad na beter gesondheid. Ek het toe die groep Banting 7 Day Meal Plans gestig. Die groep se etos is vriendelikheid en verdraagsaamheid, en dit het al meer as 1 000 000 lede. Ek sal nooit dié leefstyl laat vaar nie – Banting was ’n lewensredder vir ons familie.

’n Tipiese dag se kos

Ontbyt: Jogurt, bessies, neute, spek en eiers. Ek eet ongeveer 11:00

Peuselhappie: Niks

Middagete: Niks

Peuselhappie: Niks

Aandete: ’n Proteïen, kapokblomkool, broccoli en ’n sampioenroomsous

Drankies: Tee, koffie en (baie) water

Rita se wenke

Niks kammakos nie

Hou dinge eenvoudig deur heel kosse te eet wat in ’n herkenbare vorm is.

Lees etikette

As ’n produk suikers en preserveermiddels bevat, sit dit terug op die rak.

Luister na jou liggaam

Eet slegs wanneer jy regtig honger is. Moenie eet omdat dit etenstyd is nie. Laat jou liggaam jou volgens sy behoeftes lei.

Suksesverhaal

Toe: 89 kg

Nou: 62 kg

Verloor: 27 kg

Tyd wat dit geneem het: 6 maande

LEES OOK:

Dít is hoe die GH-leser Nicola Cafun 54 kg verloor het!

Die GH-leser Galiema Ait ouaala vertel hoe sy 35,6 kg afgeskud het

Banting-vriendelike resepte vir die hele week

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dít is hoe die GH-leser Carol Gajana 38,8 kg verloor het!

Vat dit een dag op ’n slag ...

Close