×
Skakel na Engels

Die beste oefening vir jou liggaamsvorm

Oefen reg vir jou lyf!
liggaamsvorm

Ons almal het verskillende liggaamsvorms en daarom behoort ons oefenprogramme te verskil. Sommige mense vind meer baat by oefeninge met gewigte terwyl ander groter voordeel uit ’n sessie op die trapmeul of in ’n Pilates-klas put. Lees hiér watter oefeninge jy vir jou liggaamsvorm behoort te doen:

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Peervormige lyf

iStock/Irina Kit

JOU LYF: Vroue met ’n peervormige lyf is in verhouding kleiner bolangs terwyl hulle onderste helfte aan die vorm van ’n peer herinner, vandaar die naam. Hulle gewig gaan sit gewoonlik op die onderste helfte van hulle lyf en hulle vind dit moeilik om hulle arms en skouers definisie te gee.

DIE PROBLEEM: Vroue met hierdie liggaamsbou maak dikwels die fout om net op hulle onderste helfte te fokus en daarom slegs oefeninge soos hurke en beenoefeninge te doen. 

OEFEN-OPLOSSING: Doen oefeninge wat op die boonste helfte van jou lyf fokus. Sodoende sal jy ’n meer gebalanseerde prentjie skep. Die beste oefening vir ’n peervormige vrou wat van vetjies onder haar middel wil ontslae raak, is enige soort aërobiese oefening. Oefeninge wat jou hartklop opjaag, soos hardloop, fietsry, roei en oefeninge op die elliptiese oefenmasjien sal jou metabolisme in vetverbrandingsrat bring, wat goed is!

Uurglasfiguur

iStock/Irina Kit

JOU LYF: Hierdie liggaamsvorm het gewoonlik meer kurwes, met groter borste en heupe terwyl die middel die kleinste deel van die lyf is.

DIE PROBLEEM: Wanneer ’n uurglasfiguur gewig aansit, gebeur dit gewoonlik oor haar hele lyf. Nes pere met groter borste, is die kurwes in posisie, maar wat hulle gewoonlik kort, is spierdefinisie regoor hulle lyf. 

OEFEN-OPLOSSING: Vroue met ’n uurglasfiguur behoort op oefeninge te fokus wat die hele liggaam teiken, anders loop hulle die gevaar om gewig in hulle dye en boarms op te tel. “Jou doel is om die spiere en kurwes in jou bo-, middel- en onderlyf te balanseer,” verduidelik die Amerikaanse afrigter en dieetkundige Jenny Champion. Roteer tussen kragoefeninge (gewigte wat op jou middellyf fokus of gewigmasjiene), kardio (enige iets van hardloop tot aërobiese klasse) en dans (byvoorbeeld buikdans of klasse wat op dans fokus). 

Appelvormige figuur

iStock/Irina Kit

JOU LYF: Die appelvormige lyf is breed oor die rug en skouers en smaller oor die heupe. Met ’n laer verhouding van vet tot spiere as peervormige of uurglasfigure, is hierdie liggaamsvorm geneig om ’n vierkantige silhoeët te hê.

DIE PROBLEEM: Dit is soms moeilik om ’n swembroek vir ’n appelvormige figuur te kry, want iets wat onder pas, is dikwels bolangs te klein. 

OEFEN-OPLOSSOING: Om meer van ʼn balans te skep en kurwes te aksentueer, behoort hierdie liggaamstipe op kernoefeninge te fokus wat maagspiere versterk, en onderlyfoefeninge wat die boudspiere en dye vorm. As jy ’n appelvormige figuur het, sal jy op aërobiese oefeninge wil fokus om te verslank en vet te verloor. Jy kan kardiovaskulêre aktiwiteite soos roei, swem of fietsry doen wat sag op jou knieë en enkels is. Joga en Pilates is ook uitstekende oefen-opsies vir appelvormige vroue wat hulle middellyfspiere wil ontwikkel en ’n ferm maag wil hê.

Reghoekige figuur

iStock/Irina Kit

JOU LYF: Die reghoekige liggaamsvorm het gewoonlik ’n liniaalreguit lyf en kan enige iets dra, maar hulle het ’n tekort aan kurwes. 

DIE PROBLEEM: Enige gewig wat aangesit word, gaan sit in die vorm van ’n magie, en vroue met ’n reghoekige figuur vind dit moeilik om spierdefinisie te kry.

OEFEN-OPLOSSING: Vir meer kurwes moet dié liggaamsvorm op oefeninge fokus wat die middel en kantmaagspiere (obliques) versterk. Staan ook meer tyd af aan oefeninge met gewigte om lenige spiermassa oor die boude te ontwikkel. As jy lang, lenige arms en bene, en ’n seunsagtige bolyf het, is dit veral belangrik om ’n kardioprogram te kies wat been- en armspiere bou, soos spinklasse en skopboks.

FOTO: iStock/fizkes

LEES OOK:

Die 4 liggaamsvorms en die klere wat dit vlei

Die voordele van 20 minute se vroegoggend-oefening

7 stappe vir ’n gesonde hart en brein, volgens ’n studie-ontleding

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Trek só vir jou liggaamsvorm aan, sê GH se modespan

Steel hul stylgeheime!

Close