×

Die beste maniere om jou bonus te bestee

Dertien is vir party mense ’n ongelukkige getal, maar nie vir hulle wat ’n dertiende tjek aan die einde van die jaar kry nie, en beslis nie vir mense wat die impuls kan weerstaan om die hele bonus op een slag uit te gee nie
bonus

 

“Daar is verskeie wonderlike dinge wat jy met ’n bonus kan doen wat jou sal help om heeljaar ryker te voel,” sê Shaun Rademeyer, uitvoerende hoof van BetterLife Home Loans. “Die belangrikste daarvan is om jou skuld te verminder, veral enige skuld wat aan ’n hoë rentekoers gekoppel is.”

Ander maniere om ’n bonus te gebruik om jou geldelike toekoms te verbeter, sê hy, sluit die volgende in:

Gebruik die “koevertstrategie” om by jou begroting vir feestyduitgawes te hou

Besluit wat jy aan geskenke en vermaak gaan bestee, en ken ’n presiese bedrag of “koevert” toe vir elke geleentheid of familielid. Dis natuurlik nie prakties om met regte koeverte vol kontant te gaan inkopies doe nie, maar om ’n gedetailleerde lys te hê sal jou help om op koers te bly. Jy kan ook jou feestydgeld van die res van jou geld skei deur dit in ’n spesiale debietkaartrekening te plaas. Los dan jou krediet- en winkelkaarte by die huis.

Spaar vir Januarie

Jy kan keer dat dit die langste, armsaligste maand van die jaar is deur van jou bonus eenkant te hou om ekstra koste te dek. Dit kan skoolgeld, mediesefonds- en versekeringspremieverhogings, jaarlikse lisensiegelde en enige bykomende kredietkaartfooie insluit wat jy oor die feestyd aangegaan het.

Maak ’n spaarrekening oop

As jou begroting nie onder hoërenteskuld gebuk gaan nie, gebruik ten minste ’n deel van jou bonus om ’n rekening vir noodgevalle oop te maak – en stel ’n debietorder op om elke maand daartoe by te dra. Dit is die rekening wat jou sal help as daar onverwagse huis- en motorherstelkoste is, asook mediese of familienoodgevalle en bybetalings op versekering, sodat jou huishoudelike begroting nie ontspoor of jou kredietkaartskuld ophoop nie.

Dra by tot jou huiseienaarskapplan

As jy jou eie huis wil koop, gee jou depositospaargeld ’n hupstoot met ’n deel van jou bonus. Hoe groter die deposito wat jy betaal, hoe waarskynliker is dit dat jy vir ’n huislening sal kwalifiseer – en hoe kleiner sal jou maandelikse terugbetalings wees.

As jy reeds ’n huiseienaar is …

… is dit ’n goeie opsie om jou bonus – of minstens ’n deel daarvan – te gebruik om die kapitaalporsie van jou huislening te verminder. Dit kan die voordeel hê dat jy heeljaar ’n laer maandelikse paaiement hoef te betaal. Anders kan jy jou paaiemente dieselfde hou, en sodoende jou huis vinniger afbetaal en verskeie jare se rente spaar.

LEES OOK

3 geheime wat net ryk mense ken
Laat jou geld soos bossies groei
4 maniere om die rente op jou huislening te verminder

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Woorde wat jy nooit moet gebruik wanneer jy ’n verhoging vra nie

Vermy hierdie woorde selfs al verdien jy dit

Close