Die term “ekseem” se oorspronklik Griekse betekenis is “om oor te kook”, en dié etimologie is heel in die kol. Hierdie groep toestande wat rooi, jeukerige en ’n ontsteekte vel behels, kan heelwat ongemak en verleentheid veroorsaak, maar gelukkig kan dit meestal onder beheer gehou word.
Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.
Alhoewel die verskillende uitslae met die eerste oogopslag dieselfde kan lyk, behandel dermatoloë ses verskillende soorte ekseem: atopiese dermatitis, kontakdermatitis, dishidrotiese ekseem, nummulêre ekseem, seborree-dermatitis en stase-dermatitis.
Ongeag watter soort ekseem teenwoordig is, is dit belangrik dat pasiënte hulle vel sagkens versorg, sê Tina Bhutani, ’n dermatoloog aan die Universiteit van Kalifornië se San Francisco- mediese sentrum. Dit behels gereelde bevogtiging en vinnige, louwarm (nié warm) storte. As jou vingers verrimpeld lyk, was jy waarskynlik te lank in die stort.
Gebruik gewone, geurlose seep en was slegs die sigbare vuil gedeeltes van jou lyf en in voue soos onder jou arms en in jou lieste. “Jou vel produseer natuurlike sepe,” verduidelik dr. Bhutani. “Wanneer ons eksterne seep gebruik, oordoen ons dit.”
Dan kan jy jou hele lyf met room insmeer. Doen dit binne drie minute nadat jy gestort het en gebruik room uit ’n houertjie – dit is dikker as dié wat uit ’n botteltjie gepomp word. Jy gaan dalk nie dieselfde kraakskoon gevoel as gewoonlik hê nie, maar daardie sensasie is eintlik ’n teken dat jy jou vel te veel uitgedroog het, sê sy.
Alhoewel hierdie gewoontes sal help om jou vel gehidreer en gelukkig te hou, vereis ekseem dikwels ’n bietjie ekstra liefdevolle sorg. Lees hier meer oor die ses verskillende tipes en ’n dermatoloog se aanbevelings oor hoe om weer ’n stralende, gloeiende vel te kry.

Getty Images
Die algemeenste vorm van ekseem is ook chronies van aard. “Soms is dit erger, soms beter, maar dit is altyd daar,” sê dr. Bhutani. Dit begin gewoonlik in die kinderjare, maar volwassenes kan dit ook ontwikkel. Pasiënte ontdek skubberige kolle, rooiheid, inflammasie, swelling en soms oop sere, etterigheid of rowe wanneer die area gekrap word. Dele wat algemeen aangetas word, is die elmboë, knieë, hande, voete, ooglede en tepels.
Dermatoloë vermoed die toestand spruit uit ’n ooraktiewe immuunstelsel gekombineer met ’n abnormaliteit in velselle. “Die vel is ook baie droër en allergene en prikkelende middels in die omgewing kan dit makliker binnedring,” verduidelik dr. Bhutani.
Die behandeling
Na gelang van die erns daavan sal ’n dermatoloog ’n topikale, mondelinge of inspuitbare behandeling voorskryf. UVB-ligterapie in ’n dokterspreekkamer ’n paar keer ’n week kan ook help.

Getty Images
Alhoewel mense nie aan skilfers in terme van ekseem dink nie, val dit ook in hierdie kategorie. Buiten op jou kop, kan hierdie olierige skubbe of vlokkies ook op jou wenkbroue, neus, bors of rug aangetref word. In hierdie gevalle blyk dit ’n tipe gis te wees wat normaalweg in die vel voorkom, maar wat oormatig in klierolies groei en tot ’n immuunreaksie lei.
Die behandeling
’n Dokter sal waarskynlik ’n gisbevegtende sjampoe aanbeveel.

Getty Images
Daar is twee tipes kontakdermatitis: een wat met irritasie verband hou en een met allergieë. Die irritasieverwante tipe is die rooiheid wat op die vel se bolaag voorkom nadat jy iets soos byvoorbeeld ’n verband gedra het. In allergiese kontakdermatitis manifesteer die uitslag as ’n immuunreaksie op iets soos byvoorbeeld die giftige klimopplant (poison ivy).
Die behandeling
Jou dermatoloog sal die oorsaak identifiseer – hetsy dit ’n allergie vir ’n kleurstof in grimering, ’n preserveermiddel in klam lappies of selfs die nikkel in jou jeans se knoop is. Aangesien slegs die blootgestelde dele geaffekteer word, kan ’n dokter die deel self gebruik om die oorsaak vas te stel en daarvolgens ’n topikale of mondelinge steroïed voorskryf indien nodig.

Getty Images
Hierdie ekseem word gewoonlik by bejaarde persone op die vel van die onderbene gesien, sê dr. Bhutani. Namate bloedsomloop met die jare verswak, ontstaan daar ’n opbou van vloeistof. Die immuunstelsel probeer die swelling regstel, maar ’n oorreaksie kan ’n korsagtige uitslag bo-op ontsteekte dele veroorsaak.
Die behandeling
Dermatoloë kan rome voorskryf , maar die onderliggende probleem het ook behandeling nodig. Om die bene meer gereeld in die lug te hou en drukkouse te dra kan ook help met swak bloedsomloop.

Getty Images
Net soos stase, is hierdie tipe minder algemeen. Dit verskyn gewoonlik gedurende die winter op hande en voete. Lyers ontwikkel rooi kolle en puisie- of blaasagtige knoppies op hulle vingers en tone.
Die behandeling
Dokters sal waarskynlik aanbeveel dat jy die dele gereeld bevogtig – veral as dit gedurende droë weerstoestande opvlam – en topikale rome aanwend.

Getty Images
Nummulêr beteken “muntvormig” in Latyn, dus maak dit sin dat hierdie tipe as ronde kolle verskyn. Die reaksie kom gewoonlik gedurende die winter op bene voor en alhoewel dit meer algemeen by bejaardes gesien word, kan enige iemand deur nummulêre ekseem geaffekteer word, sê dr. Bhutani.
Die behandeling
’n Topikale room kan ook vir hierdie seisoenale toestand gebruik word.
Van: Good Housekeeping US
FOTO: iStock/bravo1954
LEES OOK:
Wat is gesigsproei en hoe kan jou vel daarby baat?
5 maniere om jou vel te versorg terwyl jy op ’n vliegtuig is