Ruik jou melk na uie? En raak jou blaarslaai binne ’n week pap? Moet jy kouevleis weggooi voordat jy ’n kans gekry het om toebroodjies te maak? Vermy dié algemene yskasfoute en jy sal agterkom jy vermors minder kos.
1. Jy bêre melk en suiwelprodukte in die deurrakke
Die temperatuur is daar die warmste en dit kan jou melk, jogurt en botter gouer laat sleg raak. Sit dit liewer op die yskas se rakke.
2. Jy hou nie vleis in die vleislaai nie
Indie meeste modelle is dié kompartement ontwerp om kos kouer te hou as in die res van die yskas. Dit is dus ideaal vir rou vleis, pluimvee en kouevleise. Dié laaie het dikwels verskeie verstellings. Kies die koudste een en dit sal vleis effens onder vriespunt hou, wat dit beduidend lang vars sal hou. Onthou om rou vleis in houers of sakkies te sit sodat die vleissappe nie uitlek en ander kos bederf nie.
3. Jy maak nie die kondensater se spoel skoon nie
As jy oplet dat jou yskas warmer as gewoonlik is, moet jou kondensatorspoel dalk skoongemaak word. Dis maklik, maar jy moet dit ’n paar keer per jaar doen, en selfs meer as jy katte of honde het wat verhaar. Prop die eenheid uit, haal die rooster af en maak dit skoon met ’n spoelborsel (coil-cleaning brush). Dis goedkoop en jy kan dit by ’n hardewarewinkel kry. Jy kan ook jou stofsuier se smal tuit gebruik. Skoon spoele help ook dat jou yskas meer doeltreffend werk en dit sal jou elektrisiteit help spaar.
4. Jy draai nie kos styf toe voordat jy dit vries nie
Ongeag of jy toerits-vriessakkies, foelie of kleefplastiek gebruik, maak seker jy verwyder die lug deur die omhulsel om die kos glad te stryk. As jy plastiekhouers gebruik, maak dit tot amper bo vol. Jy sal die kos teen vriesbrand beskerm, maar steeds genoeg ruimte laat vir wanneer dit uitsit terwyl dit vries.
Verwant: 5 fantastiese vrieskasfeite
5. Jy bêre nie vrugte en groente in die groentelaai nie
Die groentelaaie hou jou groente kraakvars. Hou blaarslaai, broccoli en ander groente in een van dié laaie met die humiditeitsvlak op hoog en jy sal verbaas wees oor hoe lank dit vars bly. Gebruik die ander laai vir vrugte met die humiditeitsvlak op laag. Bêre jy ’n gesnyde ui? Draai dit in plastiek toe en sit dit in die groentelaai sodat dit geur nie aan ander kos soos melk afgee nie.
Sharon Franke is die direkteur van die kombuistoerusting-en-tegnologielaboratorium van die Goeie Huishouding-navorsingsinstituut.