×
Skakel na Engels

Die 5 beginsels van vroeë kinderontwikkeling wat ouers moet bemeester

Dís wat kinderspesialiste sê. Deur Caroline Picard
vroeë kinderontwikkeling

Almal weet lees, skryf en syfers is belangrik (in Engels staan dit bekend as die drie R’e – reading, ‘riting en ‘rithmetic), maar daar’s meer. Wanneer dit by vroeë opvoeding kom, beveel kinderspesialiste ’n ander geheuehulpmiddel aan om kinders te help om die gereedskap te kry wat hulle nodig het.

Die vyf R’e kom van die Amerikaanse pediatriese akademie (APA) se ontwikkelingsprogram vir vroeë brein- en kinderontwikkeling. Hul standpunt is dat ingeligte ouerskap gedurende die eerste paar jaar van ’n kind se lewe ’n klomp potensiële probleme later kan voorkom. Om kinders met sosiale, emosionele en taalvaardighede toe te rus wanneer hulle nog jonk is, help hulle om uitdagings en stres later beter te hanteer.

Lees: Blykbaar is dít die belangrikste gesinswaarde om jou kinders te leer

Gelukkig beteken dit nie dat ouers hul kleuters álles moet leer voordat hulle graad O toe gaan nie. Die vyf R’e is almal eenvoudige, intuïtiewe gewoontes wat breinontwikkeling aanhelp en die skadelike stres wat dit kan laat ontspoor, minimaliseer. Hier is dit: 

  • Lees (read) elke dag saam met jou kind.
  • Maak rympies (rhyme), en speel en vertroetel jou kind elke dag.
  • Ontwikkel roetines (routines), veral rondom maaltye, slaap en gesinspret.
  • Beloon (reward) jou kind met lof vir suksesse om ’n gevoel van eiewaarde te bou en positiewe gedrag te bevorder.
  • Ontwikkel ’n sterk en koesterende verhouding (relationship) met jou kind as die grondslag vir hul gesonde ontwikkeling.

Hoewel die APA die lys geskep het om mediese praktisyns te help, hoef ma’s en pa’s nie te wag totdat dokters vir hulle sê wat om te doen voordat hulle hierdie taktieke inspan nie. Al vyf hierdie voorstelle kan tegelyk in werking gestel word deur iets so eenvoudig soos gereelde storietyd.

Lees: Om te kan lees is ’n geskenk

“Boeklees saam met jong kinders is ’n prettige manier om ’n sterk, gesonde ouer-kindverhouding te bou en vroeë taalontwikkeling te stimuleer,” het dr. Pamela High, ’n kinderspesialis van Rhode Island in die VSA, ná die bekendstelling van die studie aan Huffington Post gesê.

Die aanbevelings klink dalk soos gesonde verstand, maar soms is dit te maklik om vir jou kind ’n tablet te gee pleks van ’n boek op te tel. Die APA beveel trouens aan dat kinders tussen twee en vyf jaar oud nie meer as ’n uur skermtyd per dag behoort te hê nie, en kinders jonger as 18 maande behoort geen skermtyd te hê nie.

Om meer van die vyf R’e by jou daaglikse roetine in te sluit, probeer om jou gesin se biblioteek aan te vul of kom in die gewoonte om jou kinders daagliks te prys en aan te moedig. Sukkel jy om ’n konsekwente slaaptyd toe te pas? Die Amerikaanse kinderspesialis dr. Marc Weissbluth beveel aan dat jy aandete vroeër in die dag regkry sodat jou kinders kan eet sodra jy by die huis kom. ’n Paar klein veranderinge kan jou kinders nie net vir die toekoms toerus nie, maar sal jou ook help om sommer nou al meer gehaltetyd saam deur te bring.

Van: goodhousekeeping.com

Foto: iStock/SolStock

LEES OOK:

Hoe om jou kinders soggens uit die bed te kry

Meditasie: die nuwe detensie?

Maak gesonde kinders groot

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief