×
Skakel na Engels

Die 10 gebooie van vakansiegewigbeheer

Ons betree die “fiksheidgevaarsone” waar daar oral om ons versoeking is – kantoorpartytjies, familievieringe en ander jaarlikse byeenkomste. Vanjaar gaan egter anders wees, want jy sal voorbereid wees

 

 

Deur Jim Karas

 

I. Jy sal een keer ’n week op die skaal klim.

Dit sal vir jou sê of jy nog op die regte pad is of nie. Basiese reël: Dieselfde skaal, dieselfde tyd, dieselfde dag van die week. As jy sien jy het opgetel, gebruik dit as motivering om die volgende paar dae harder te probeer.

II. Jy sal by jou oefenprogram hou.

Oefening verbrand kilojoules en help jou om jou gewig te beheer – maar net as jy gereeld oefen. Gedurende stresvolle vakansietye is dit verloklik om jou roetine te ignoreer, maar die waarheid is dat dit die ergste tyd van die jaar is om jou oefenprogram af te skeep.

 

III. Eer jou behoefte aan soetgoed.

Komaan, eet ’n happie. Hou dit net klein. Neem ’n paar happies van die pasteitjie of tertvulsel en los die hoëkilojoule-kors. Peusel aan twee of drie Kerskoekies of geniet ’n klein bakkie bessies. Eet stadig en maak seker jy geniet dit.

 

IV. Jy mag nie sê “Ek het met middagete oortree en daarom kan ek net so wel met aandete eet wat ek wil” nie.

Nou ja, jy het oor middagete saam met ’n paar vriende iets gevier. Jy het wyn gedrink, brood geëet en ’n nagereg gedeel. Pleks van dubbel die hoeveelheid kilojoules in te neem, vergewe jouself vir die glips en gaan terug na jou plan van matige, gesonde eetgewoontes.

 

V. Jy sal jouself vir ’n partytjie voorberei deur te sorg dat jy nie honger is nie.

Voordat jy die huis verlaat, eet ’n klein bietjie maer proteïen – soos jogurt, maaskaas, kalkoen, hoender, salm of tuna in water. Só sal jy nie deur al daardie ongelooflike ryk, kilojoulebelaaide hors d’oeuvres verlei word nie. Wanneer jy by die partytjie aankom, bly weg van die doopsous.

 

VI. Jy sal jou inhou by die buffettafel. Gaan kyk eers wat daar alles is.

Skep jou bord vol vars vrugte of groente en kies dan klein happies van jou gunstelingkosse. Probeer om nie naby die buffet aan die gesels te raak nie sodat jy nie in die versoeking kom om te peusel sonder dat jy dit besef nie.

 

VII. Jy sal jou liggaam behoorlik gehidreer hou.

Soutige vakansiekos, die lugdruk in vliegtuie en lugversorging droog jou uit. Bly weg van die koeldrank en sap (wat propvol kilojoules is) en drink goeie ou H2O.

 

VIII. Jy sal verstandige plaasvervangers vir jou gunsteling-vakansiekosse kies.

Bak ongegeurde patats en los die botter. Probeer laevetsop in plaas van vetterige mengsels om vleis mee te bedruip. Gebruik gekapte groente (uie, seldery, wortels, vinkel) pleks van botter of worsvleis om vulsels te bevog, en maak dit buite die pluimvee gaar.

 

IX. Jy sal altyd ’n gestoomde groente saam met vakansiekos eet.

Selfs al is dit net vir jou (maar ek kan jou wed baie van jou gaste sal saam eet), stoom ’n groot kop broccoli of blomkool. Groenboontjies is ook ’n goeie plan, net soos babawortels, wat jou sal volmaak.

 

X. Jy sal nie oorskiet opgaar nie.

Hou die vleis, gebakte patats, groente en slaai, maar stuur die hoëkilojoule-kosse saam met jou gaste huis toe of gaan laai dit by ’n skuiling vir haweloses af.

 

 

Dié artikel het oorspronklik op GoodHousekeeping.com verskyn.

 

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 gesondheidskeuses wat jy voor middagete kan maak

Om gesond te eet en te leef hoef nie ingewikkeld te wees nie. Die Brits-Nigeriese aktrise, TV-persoonlikheid en stylikoon Eku...

Close