×
Skakel na Engels

Die 10 beste dinge van ma-wees

Die voordele van ouerskap waarvan hulle jou nie in die voorgeboorteklas vertel nie. Deur Emily-Jane Clark

Jou kinders is sonder twyfel die béste ding van ma-wees, maar daar is nog talle ander voordele van ouerskap waarvan hulle jou nie in die voorgeboorteklas vertel nie!

Hier is net ’n paar:

1. Jy kry weer kans om te speel
Speel is prét! Sedert ek kinders gehad het, het ek weer my liefde vir wegkruipertjie en speeldeeg ontdek!

2. Dit is snaaks
Ek het nog nooit so baie gelag as sedert ek ’n ma geword het nie. Die belaglike hárde wind wat jy nie kan glo pas uit jou klein baba gekom het nie, en die manier waarop hulle soms net binne-in hul aandete aan die slaap raak; en kleuters wat maar net kleuters is, waarborg dat jou huis altyd ’n plek is waar gelag word!

3. Jy het ’n verskoning om sekere goed nie te doen nie
Wanneer jy kinders het, het jy altyd ’n goeie rede om dinge te vermy wat jy nie wil doen nie! Die baba-oppasser kan nie meer kom nie, die kleuter kry tande, die baba was heelnag op, die kinders is siek … Die moontlike verskonings is eindeloos!

4. Gemaklike onderklere
Sodra jy ontdek hoe gemaklik katoenbikinibroekies is, sal jy wonder hoekom jy óóit deurtrekkertjies gedra het!

5. Ander ma’s

Ek kan jou nie vertel hoeveel keer ander ma’s onwetend my lewe gered het nie!

Die ma in die speelgoedwinkel wat my normaal laat voel het omdat ek ’n baba het wat nie slaap nie. Die ma wat na my uitgereik het nadat sy gesien het hoe ek sukkel om my huilende kleuter die eerste keer by die kleuterskool te los. Die ma wat my oortuig het ek is nie ’n mislukking omdat ek antidepressante nodig het nie.

Dan is daar die ma’s wat ek nog nooit eens ontmoet het nie wat goedhartigheid en ondersteuning via Facebook-groepe of ander aanlyn forums gebied het.

My ma.

Die ma’s by die skoolhek en die kindersentrum.

Hulle was almal daar met ’n begrypende glimlag wanneer jy ’n slegte dag het. Daar is ’n ware gevoel dat ons “saam in hierdie ding” is en as jy uitreik wanneer jy sukkel, sal jy altyd ’n hand kry wat jou optrek!

6. Jy raak taai
Ouerskap is nie altyd maklik nie. Maar gelukkig kry jy die vermoë om uitdagings te hanteer wat jy nooit sou kon voordat jy kinders gehad het nie!

Jy kry krag wat jy nooit geweet het jy het nie. Jy kan siek wees, te min slaap, gestres of blou voel, en tog kry jy dit reg om op te staan, aan te trek en vir jou gesin te sorg.

7. Jy bly fiks sonder om eens te probeer
Vergeet die gim. Sodra jy kinders het, sal enige oortollige vet gou verdwyn omdat jy nóóit weer sit nie.

Van babas aan die slaap sus, kleuters jaag en in die park speel tot stootwaentjies stoot en al die wasgoed doen – jy is waarskynlik fikser as wat jy al ooit was!

8. Koffie
Jy het dalk van koffie gehou voordat jy ’n ma geword het, maar nou is jy dol daaroor, droom daarvan, lééf daarvoor.

Naas my gesin (en moontlik wyn), is koffie die beste ding in my lewe. Dit gee my nie net ’n gevoel van suiwer geluksaligheid nie, dit oortuig my ek kan Al Die Goed doen. Dat ek tot enige iets in staat is!

Koffie is vir ma’s wat spinasie vir Popeye is.

9. Vertroeteling
Daar is net niks beters as om jou baba op jou bors te voel lê nie, jou kleuter wat in jou arms in hardloop of jou kind wat op die rusbank by jou lê nie!

Jy voel warm met liefde en ’n gevoel dat jy presies is waar jy moet wees.

10. Jy verander nie, jy ewolueer
Jy verloor jouself nie wanneer jy kinders het nie; jy kry ’n sterker en wyser weergawe van jouself.

Wanneer ons ouers word, word al die beste en slegste dele van onsself groter. Ons wil beter wees. Ons is so vasbeslote om ’n goeie voorbeeld vir ons kinders te stel dat ons daarna streef om die beste mens te wees wat ons kan wees.

Uit: Good Housekeeping UK

Lees ook:

10 goed waaroor jy met jou maat sal stry wanneer julle eers ’n baba het

Die gewildste babaname van 2016

Die baie goeie rede om jou kinders se tande te hou

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
16 ongelooflike wenke vir Ma

Hierdie briljante idees sal jou lewe heelwat makliker maak

Close