×
Skakel na Engels

Daar is nie iets soos dom vrae oor borskanker nie

Selfs vroue wat al ’n magdom artikels oor borskanker gelees het, het waarskynlik nog onbeantwoorde vrae. Ons kan almal iets uit die antwoorde leer

 

 

V: “Sê nou ek kry ’n knop in my bors. Wat is die kans dat dit kanker is?”

 

Die goeie nuus is dat die moontlikheid nie juis groot is nie. “As jy in jou menopouse is, is die meeste knoppe goedaardig en die gevolg van hormoonskommelings – die kans van kanker is ’n skrale 10%,” sê, dr. Susan Love, voorsitter van die Dr Susan Love Research Foundation. Ná jou menopouse stabiliseer jou hormone egter en raak die kans dat ’n knop iets abornormaals is, groter. Hoe ook al, die kundiges sê vroue van alle ouderdomme moet ’n dokter spreek oor álle knoppe.

 

 

 

V: “Hoe weet jy wat die verskil is tussen ‘verdagte’ knoppe en ‘sommer gewone’ knoppe? Hoe vóél kanker?”

 

Goedaardige siste – “sakkies” met vloeistof wat na gelang van jou menstruele siklus swel of krimp – kan sponserig (squishy) voel. Fibroadenome, wat ook goedaardige knoppe is, voel gewoonlik klein en hard soos albasters, en is rond of ovaalvormig. (Vroue met fibrosistiese borste kan baie sulke knoppe hê.)

Elke vrou se kanker kan egter anders voel, sê die kankervoorkomingspesialis dr. Therese Bevers. Dit kan hard en knoetserig (soos klein stukkies koraal) voel, of soos ’n ertjie in ’n reeks ertjieagtige knoppies, of meer soos ’n vae massa met ’n ander tekstuur as die res van jou borsweefsel.

Daar is ook inflammatoriese borskanker wat nie noodwendig knoppe vorm nie en meer soos ’n veluitslag of insekbyt kan lyk. Ander moontlike tekens is kuiltjies in jou vel, ’n teruggetrekte tepel of ’n afskeiding. “As jy énige veranderings bespeur, moet jy dokter toe gaan,” sê Bevers.

 

 

 

V: “Is dit waar dat ’n hou teen die bors kanker kan veroorsaak?”

 

Nee, daar is geen verband tussen beserings aan jou borste en kanker nie, sê Bevers. Dit kan egter die weefsel plek-plek laat verhard sodat dit vir jou soos ’n probleem lyk of voel. Onthou, dis wys om ieder en elke knop te laat ondersoek.

 

 

 

V: “Borskanker is op 54 by my ma gediagnoseer, en by my ouma op 59. Ek weet dit beteken ek kan dit ook kry, maar maak die feit dat hulle so jonk was dinge erger?”

 

“As die diagnoses op 44 en 49 was, sou ek baie meer bekommerd gewees het,” sê Bevers. “Wanneer sulke jong vroue borskanker kry, raak ons bekommerd oor die moontlikheid van genetiese mutasie soos BRCA. Hiermee sou jy ’n risiko van 50% tot 80% gehad het.” Wanneer jou ma of suster borskanker gehad het, verdubbel dit gewoonlik die moontlikheid dat jy dit ook sal kry. Genetiese abnormaliteite is oorerflik by enige van die twee ouers, en manlike borskanker laat al die gevaarligte flikker.

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die mammogram wat 30% doeltreffender is in die opsporing van kanker

Goeie nuus vir vroue: Nuwe digitale tegno-logie wat landwyd in Suid-Afrika beskikbaar is, maak die mammo-ervaring aangenamer én doeltreffender. Catriona...

Close