×
Skakel na Engels

Bak soos ’n wenner – Resep

Niemand maak wengebak soos jy en Moir’s nie

In April het Moir’s hul vyf weke lange Bake Your Way to Greatness-uitdaging bekendgestel, waar ywerige Moir’s-bakkers genooi is om met hul vernuf te spog. Deelnemers is gevra om elke week hul beste resepte te deel wat twee Moir’s-produkte bevat wat vir daardie week se uitdaging gekies is. Verskeie pryse kon gewen word, waaronder Yuppiechef.com-geskenkbewyse ter waarde van R1 500, R1 000 en R250; Moir’s-geskenkpakke; en intekeninge op Goeie Huishouding. Die groot prys het kombuistoerusting ter waarde van R15 000 en Moir’s-geskenkpakke ingesluit, asook die kans om op Moir’s se webwerf en Facebook-blad en in Goeie Huishouding te verskyn.

Geluk aan Jenna Short, die algehele wenner, en ook aan al die ander pryswenners.

Jenna gesels oor haar liefde vir bak en die inspirasie agter haar Moir’s-sjokolade-en-framboos-stukkieskoek.

 

V: Hoe het jy begin bak?

A: As kind was ek altyd nuuskierig oor wat my ma kook. Ek het ’n besonderse liefde vir kos ontwikkel, en dit is hoekom ek vandag ’n fyngebaksjef is.

 

V: Wat het jou wenresep geïnspireer?

A: Ek het aan ’n geurkombinasie gewerk waar ek soveel moontlik Moir’s-produkte kon gebruik. My gunsteling-eksperiment was om die Moir’s-framboosjellie in tuisgemaakte malvalekkers te omskep. Dit was soveel pret en so maklik danksy Moir’s se fantastiese, gerieflike reeks.

 

V: Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy het die groot prys gewen?

A: Ek kon dit eerlikwaar nie glo nie. Dit het nie werklik gevoel nie en het ’n rukkie geduur om in te sink. Ek is so dankbaar vir die geleentheid en ek het elke oomblik van die kompetisie, van die begin tot die einde, geniet. Dankie, Moir’s, vir die geleentheid en vir die prettige kompetisie wat julle aangebied het.

 

Jenna se Moir’s-sjokolade-en-framboos-stukkieskoek

 

Vir die jellielaag

1 pakkie Moir’s-framboosjellie

3 gelatienblare

 

Vir die malvalekkerlaag

1 pakkie Moir’s-framboosjellie

1 e gelatienpoeier

1 k water

¾ k suiker

2 t mielieblom

Moir’s– gedroogde klapper, om bo-oor te sprinkel

 

Vir die koeke en mousse

1 pakkie Moir’s Soft ’n Moist-vanieljekoekmengsel

1 pakkie Moir’s Soft ’n Moist-sjokoladekoekmengsel

2 pakkies Moir’s Duo-sjokolademousse

 

Vir die meringues

2 groot eierwitte

1½ k versiersuiker

pienk voedselkleursel

 

Vir die karamelskerwe

1 k suiker

½ k water

Moir’s– gedroogde klapper, om bo-oor te sprinkel

 

Vir die vla-botterroom

250g Moir’s-vlapoeier

450 ml melk

500 g botter by kamertemperatuur

100 g versiersuiker

pienk voedselkleursel

 

Vir die ganache

80 g wit sjokolade, gekap

100 g vars room

 

vars frambose, vir versiering

 

Om die framboosjellielaag te maak

  1. Meng die jelliepoeier met 225 ml warm water.
  2. Week die gelatienblare in koue water en voeg dit by die jelliemengsel terwyl warm. Laat dit oplos.
  3. Giet die jellie in ’n liggies gesmeerde 20 cm-silikoonkoekvorm. Verkoel oornag of tot ferm.

 

Om die framboosjellie-malvalekkerlaag te maak

  1. Klits die jellie en gelatienpoeier en ½ k koue water in ’n bak met ’n elektriese menger.
  2. Kook die oorblywende ½ k water in ’n kastrol en voeg die suiker by. Roer totdat die suiker opgelos het en laat die stroop tot 118 ºC kook. Verwyder van die stoof en voeg by die jellie-en-gelatienmengsel.
  3. Klits teen ’n hoë spoed vir 10 minute totdat die mengsel lig en donserig is en in volume verdubbel het. Dit moenie te loperig of te styf wees nie.
  4. Skep dit in ’n spuitsak met ’n ronde tuit.
  5. Bestuif ’n werkoppervlak met die mielieblom en spuit konsentriese sirkels totdat jy ’n 20 cm-deursnit bereik het, Maak twee malvalekkerlae.
  6. Rooster die klapper en sprinkel op die malvalekkerlae.
  7. Plaas vir ’n paar uur of oornag eenkant om te set. Die malvalekker sal steeds sag wees wanneer dit geset het.

 

Om die koeke en mousse te maak

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Volg die aanwysings op die koekverpakking en maak die beslag vir die twee koeke.
  3. Smeer die beslag eweredig in twee groot bakplate en bak vir 10 tot 12 minute.
  4. Maak intussen die mousse deur die aanwysings op die pakkies te volg en verkoel vir ’n uur in die yskas.

 

Om die meringues te maak

  1. Voorverhit die oond tot 60 °C.
  2. Klop die eierwitte tot skuimerig.
  3. Sif die versiersuiker en mielieblom saam en voeg dit stadig by die eierwitte. Klits met ’n elektriese klitser teen ’n mediumspoed totdat stywe punte vorm, vir sowat 5 minute.
  4. Gebruik ’n tandestokkie om drie of vier strepe aan die binnekant van ’n skoon versiersak met die voedselkleursel te verf.
  5. Skep die eierwitmengsel in die versiersak en spuit hopies op ’n kleefwerende bakplaat met enige tuit wat jy verkies en bak by 60 ºC vir ± 4 uur tot droog. Bak andersins by 60 ºC vir 4 uur en skakel die oond af en los die meringues binne-in om oornag uit te droog.

 

Om die karamelskerwe te maak

  1. Verhit die suiker en water in ’n kastrol en roer om die suiker te laat oplos voordat die water begin kook. Hou op roer sodra die suiker opgelos het.
  2. Laat kook die mengsel totdat dit in ’n ligte goue stroop verander het.
  3. Giet die karamel op gesmeerde bakpapier of ’n silikoonbakmat.
  4. Sprinkel geroosterde gedroogde klapper oor en laat afkoel en hard word.

 

Om die vla-botterroom te maak

  1. Maak die vla volgens die aanwysings op die verpakking en laat afkoel.
  2. Klop die botter in ’n bak tot sag en voeg dan die versiersuiker by en klop tot glad, lig en donserig.
  3. Voeg die vla by en klits om goed te meng totdat dit lig en donserig is. Skraap die kante van die bak af terwyl jy klits om te verseker dat niks van die mengsel agterbly nie.
  4. Voeg die pienk voedselkleursel druppel vir druppel by totdat die mengsel die skakering van pienk is wat jy wil hê.

 

Om die ganache te maak

  1. Plaas die witsjokoladestukkies in ’n bak.
  2. Bring die room tot kookpunt en giet oor die sjokolade.
  3. Roer met ’n houtlepel totdat al die sjokolade gesmelt het en laat afkoel.

 

Om die koek aanmekaar te sit

  1. Sny twee 20 cm-sirkels uit elkeen van die koeke sodat jy twee ronde sjokolade- en twee ronde vanieljekoeke het.
  2. Begin met ’n sjokoladekoek en smeer ’n laag sjokolademousse eweredig daaroor.
  3. Smeer ’n laag malvalekker bo-op die sjokolademousse en bedek dit met nog ’n laag sjokolademousse.
  4. Plaas een van die vanieljekoeke bo-op en smeer ’n eweredige laag witsjokolademousse bo-oor.
  5. Plaas die sirkel jellie bo-op die mousse en smeer die witsjokolademousse bo-oor.
  6. Plaas die tweede sjokoladesponslaag op die mousse en smeer met sjokolademousse.
  7. Plaas die tweede malvalekkerlaag op die mousse en smeer witsjokolademousse oor.
  8. Eindig met die laaste vanieljesponskoek.
  9. Versier die bokant en kante van die koek met die botterroom.
  10. Verkoel vir 30 minute in die yskas om die versiersel te laat hard word. Sodra dit hard is, plaas die ganache in ’n versiersak en spuit dit al langs die rande van die koek om “strepe” teen die kant af te skep.
  11. Breek die karamel in stukke en rangskik bo-op die koek.
  12. Versier die kante en bokant van die koek met die meringues en vars frambose.
  13. Besprinkel die koek met geroosterde gedroogde klapper.

 

Geborg deur Moir’s.

Webv_Moirs_packshots

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dís wat jy van ons Augustus-uitgawe kan verwag

Ons vars, gelukkige en pragtige voorbladster, Kate Hudson, deel haar voelgoed lewens wyshede, SA bekendes deel hul beste bakresepte, ons...

Close