×
Skakel na Engels

Antwoorde op jou lastigste vrae oor maandstondes

Ons het gevra sodat jy dit nie hoef te doen nie. Deur Kara Wahlgren
maandstondes

Maandstondes is uiteraard ’n normale deel van die lewe en niks om oor verleë te wees nie. Die helfte van die bevolking beleef dit immers een of ander tyd. Maar ons verstaan heeltemal dat daar sekere vrae is wat jou ongemaklik laat voel om met selfs jou beste vriendin of jou dokter daaroor te praat.

Hoeveel bloed is te veel bloed?

As jy ’n swaar vloei het, kan dit voel of jy die helfte van jou bloedvoorraad verloor, maar dis waarskynlik nader aan 4 tot 12 teelepels per siklus. As jy jou doekie of tampon elke paar uur vervang en jou maandstonde duur net ’n paar dae, is jy waarskynlik êrens in daardie gebied.

“Dit kom eintlik daarop neer of dit in jou daaglikse aktiwiteit inmeng,” sê Sarah Yamaguchi, ’n verloskundige en ginekoloog by die Good Samaritan-hospitaal in Los Angeles in die VSA. As ’n doekie of tampon elke uur deurweek word, of jy ná sewe dae of langer steeds ’n matige vloei het, skakel jou dokter.

Lees: 8 redes hoekom jou maandstonde ongereeld is

Hoekom is die bloed soms bruin?

Die kleur hang af van hoe swaar jou vloei is. “Dit kan tyd neem voordat die bloed uit die baarmoeder, deur die serviks en uit die vagina beweeg,” sê dr. Yamaguchi. “Rooi bloed is varser, maar namate tyd verloop, sal dit donkerder raak.” Jou bloed is dus meer geneig om bruinerig te raak wanneer jou vloei stadiger raak.

Hoekom werk my maag meer wanneer ek my maandstonde het?

Asof krampe nie ongemaklik genoeg is nie, is dit nie ongewoon om daardie tyd van die maande met diarree te sukkel nie. “Maagdermprobleme is algemeen gedurende jou menstruele siklus,” sê Sherry Ross, besturende direkteur, ’n verloskundige/ginekoloog en kenner van vrouegesondheid by die Providence Saint John’s-gesondheidsentrum in Santa Monica.

Die rede? Prostaglandiene – dieselfde chemikalieë wat krampe veroorsaak – kan jou ingewande laat saamtrek en jou laat voel jy moet nóú gaan.

Lees: Wat jou puisies vir jou probeer sê

As my vloei lig is, kan ek net heeldag ’n supertampon dra sodat ek dit nie hoef te vervang nie?

Nee. “Selfs al het jy ’n ligte dag en minder bloedvloei, moet jy jou tampon elke vier tot agt uur vervang,” sê dr. Ross. Om jou tampon te lank in te los of ’n meer absorberende tampon te gebruik as wat jy regtig nodig het, kan jou risiko verhoog vir toksieseskoksindroom (TSS), ’n skaars maar lewensbedreigende toestand wat deur bakteriële infeksie veroorsaak word.

Dokters dink dis omdat superabsorberende tampons, wanneer dit meestal droog is, klein skeurtjies in die vel in jou vagina kan veroorsaak wanneer jy dit verwyder en dit vir die bakterieë makliker maak om in jou bloedstroom te beland.

Is dit menslik moontlik om ’n menstruasiekoppie in ’n openbare badkamer te vervang sonder om ’n gemors te veroorsaak?

Menstruasiekoppies word al hoe gewilder, maar dit verg beslis ’n praktiese benadering, wat moeilik kan wees in ’n openbare badkamerhokkie. Dis belangrik om vooruit te beplan en benodighede in te pak:

“Jy kan babalappies in jou handsak hou en dit gebruik om die koppie skoon te vee,” sê dr. Yamaguchi. “Of jy kan ’n botteltjie saam met jou dra, dit by die wasbak vol water maak voordat jy in die toilethokkie ingaan en dan die koppie oor die toilet uitspoel.” Te ingewikkeld? Jy kan altyd na ’n doekie of tampon oorskakel wanneer jy uitgaan.

Lees: 5 dinge wat jou vel olierig maak

Wat is dit met die bloedklonte?

Haal asem – daardie klonte is grillerig, maar jy hoef nie paniekerig te raak nie. Wanneer jy jou maandstonde het, stel jou liggaam gewoonlik antikoagulante vry om dinge glad te laat verloop. Soms is jou vloei te swaar vir die antikoagulante om by te hou en dan is daar klonte bloed. “Klein klonte so groot soos rosyntjies is gewoonlik nie iets waaroor jy bekommerd hoef te wees nie,” sê dr. Ross. As jy ’n klont groter as ’n muntstuk kry, laat weet jou ginekoloog. Maar regtig, moenie benoud raak nie – klonte is selde ’n teken van enige iets ernstigs.

Kan ek ’n tampon in my verloor?

Ja en nee. Hoewel dit moontlik is om ’n tampon te ver in te druk of te vergeet dat jy in die eerste plek een gebruik het, raak dit nooit regtig weg nie, want dit kan nie verby jou serviks beweeg nie. Selfs al kan jy dit nie voel is, is dit êrens daar binne. “As jy sagkens daarvoor voel, kan jy die tampon vind,” sê dr. Yamaguchi. “As jy dit nie kan kry nie – of as jy pyn of ’n abnormale afskeiding het of net nie seker is of jy die hele tampon uitgekry het nie – kontak jou ginekoloog vir ’n afspraak.”

Van: www.seventeen.com

LEES OOK:

Maandstonde-verlof kan dalk ’n werklikheid word

Premenstruele disforiese versteuring: Waarom jy voor jou maandstonde neerslagtig kan voel

Maandstonde-bestande onderklere is hier

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief