×
Skakel na Engels

Alles wat jy moet weet om jou hare tuis te kleur

Kleur jou hare soos ’n kenner
hare tuis te kleur

Ons almal wil ’n lieflike haarkleur hê, maar om salon toe te gaan kan ’n duur uitstappie wees. En alhoewel daar ’n magdom kleurprodukte te koop aangebied word, kan die verkeerde gebruik daarvan katastrofiese gevolge vir jou haarkleur inhou. Lees hier wat jy moet weet om die perfekte haarkleur in die gerief van jou huis te verkry.

Kies jou kleursel

Wanneer jy ’n kleursel kies, moet jy na die lys bestanddele kyk en seker maak dat die kleursel nie skadelike chemikalieë soos ammonia, koolteer en asetaat bevat nie. Dit is nie net sleg vir jou hare nie, maar ook vir jou algemene gesondheid. Kies ’n kleursel wat so natuurlik en sagwerkend moontlik is.

’n Multidimensionele kleur is die beste keuse vir iemand met dun hare. Aangesien die kleursel effens verskillende nuanses aan jou hare verleen, skep dit die illusie van meer beweging en volume.

Om jou hare donkerder te kleur is nie net makliker nie, maar ook baie veiliger as om te probeer om jou hare tuis te bleik. Om jou hare ligter te kleur kan nogal ’n waagstuk wees en behoort aan die kundiges oorgelaat te word om erge skade en haarverlies te voorkom.

Lees: Kan dit gevaarlik wees om haarkapper toe te gaan?

Wanneer jy kleur

Los jou hare vuil voordat jy dit kleur. ’n Mens sou dink dat silwerskoon lokke die kleur beter sal opneem, maar sodra al die natuurlike olies verwyder is, sal die hare in werklikheid te glad wees en sal die pigmente dit nie penetreer nie.

Voordat jy aan die werk spring, is dit belangrik om eers ’n dik bevogtiger of vaseline op jou gesig aan te wend, veral langs jou haarlyn. Dit voorkom dat enige kleursel jou gesig vlek, wat andersins eers na ’n paar dae se geskrop sal verdwyn!

Lees: Het jy dun hare? Hier is vyf goed wat jy moet vermy

Instandhouding van jou kleur

Dit is maklik om jou wortels tuis op te knap, veral as jy ’n konvensionele haarkleur het. Jy kan ’n opknappakkie of -pen koop en dis beter om hierdie produkte te gebruik as om al jou hare weer te kleur, aangesien dit skade tot die minimum sal beperk.

’n Kleurbeskermende sjampoe en opknapper is nie genoeg om jou haarkleur lewendig te hou nie – dit is net so belangrik om in ’n UV-beskermende haarsproei te belê. Dit verseker dat jou kleur langer hou en nie as gevolg van sonblootstelling verdof nie.

FOTO: iStock/ValuaVitaly

LEES OOK:

Haarkleurskakerings wat jou jonger sal laat lyk

6 wenke en kunsies om jou hare te kleur

Laat jou haarkleur langer hou

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief