×
Skakel na Engels

Agt maklike kunsies wat jou vandag nog jonger sal laat lyk!

Maak gereed om die wysers terug te draai
jonger

Ons moes altyd hoor dat ons ’n daaglikse skoonheidsroetine en ’n hele versameling teenverouderingsprodukte nodig het om ons jeugdige voorkoms te behou, en hoewel daar ’n mate van waarheid in steek, is daar ook ’n paar vinnige en maklike kunsies wat jou in ’n kits jare jonger kan laat lyk. Hier is ons agt topwenke:

1. Poets daai tande 

Ons tande verkleur namate ons ouer word en dit is ’n duur storie om jou tande professioneel te laat bleik. Maak jou tandeborsel nat, steek dit in ’n bietjie koeksoda en borsel jou tande soos altyd. Die koeksoda sal met oppervlakkige vlekke klaarspeel en jou tande ’n paar skakerings witter maak. 

2. Skep volume 

Veroudering kan ook maak dat jou hare hul volheid verloor. ’n Maklike manier om meer volume te skep is om ’n hoëgehalte-mousse in klam hare in te werk nadat jy dit gewas het, jou kop dan vorentoe te laat hang en jou hare van onder af droog te blaas. Dit sal help om jou hare voller en gesonder te laat lyk. 

Lees: 5 foute met ooggrimering wat jou ouer laat lyk

3. Vertroetel jou voete 

Nes ons hande, kan ons voete ook ons ouderdom verklap – hulle werk immers baie hard! Laat jou voete jonger lyk deur hulle in water te week, met ’n puimsteen te skuur, ’n voedende room in te masseer en jouself ’n mooi pedikuur te gee.

4. Belê in ’n nuwe oogomlyner 

Wat oogomlyner betref, is die meeste van ons geneig om by basiese swart te hou, want dit is waarmee ons vertroud en gemaklik is. Probeer eerder ’n donker- of vlootblou oogomlyner, aangesien dit die wit van ons oë, wat met die jare geler raak, witter en helderder sal laat vertoon.

5. Probeer ’n nuwe geur 

Die meeste vroue het een of twee fyngeure wat hulle regdeur die jaar aanspuit, maar as jy jonger wil voorkom, is dit dalk tyd om jou repertoire uit te brei. Daar is wetenskaplik bewys dat mense wat sitrusgebaseerde geure aanwend, veral dié met pomelo, tot 10 jaar jonger voorkom. 

Lees: 5 sakpas wenke teen veroudering

6. Kam jou hare in ’n nuwe paadjie 

Lê jou paadjie altyd aan dieselfde kant? Dié gedeelte is meer blootgestel aan die son en raak gevolglik vinniger grys. Voorkom dit deur jou paadjie gereeld te verander en ’n beskermende middel op jou hare te spuit om UV-skade te voorkom. 

7. Laat jou oë die praatwerk doen 

Jou oë sal groter vertoon as jy ’n wimperkruller gebruik om vorm aan jou wimpers te verleen. Laat jou oë selfs meer uitstaan deur ’n titseltjie neutrale oogskadu soos brons, koper of bruin te gebruik wat nie te blink of te mat is nie. 

8. Skep voller lippe 

Namate ons ouer word, raak ons eens plomp lippe kleiner en aansienlik dunner. ’n Maklike manier om dit voller te laat vertoon, is om van jou donker lipstiffie ontslae te raak en eerder ’n ligpienk lipglans te gebruik. Dit sal net genoeg glans verleen om jou lippe plomper te laat lyk. 

FOTO: iStock/kupicoo

LEES OOK:

Goed wat jou ouer maak, van binne en buite

5 mites oor velveroudering ontbloot!

Die waarheid agter 10 teenverouderingsmites

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die skoonheidsvoordele van heuning

Jy sal goed genoeg lyk om te eet!

Close