×
Skakel na Engels

Afrika-pikkewynbewustheidsdag

Kom vier op 17 Oktober 2015 fees en maak mense van die Afrika-pikkewyn bewus.

Eerskomende Saterdag, 17 Oktober 2015, bied die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sanccob) en SANParke die jaarlikse Pikkewynfees aan. Dié geleentheid word daaraan gewy om mense van die lot van die Afrika-pikkewyn (die enigste pikkewyn wat endemies aan Afrika is) bewus te maak. Daar is vandag minder as 2% van die Afrika-pikkewynbevolking oor en Sanccob, SANParke en hul bewaringsvennote staan aan die voorpunt van pogings om die spesie te red.

Die fees sal om 10:00 met die jaarlikse pikkewynvrylating by Seaforth-strand in Simonstad afskop. Na die vrylating kan besoekers met Boulders-strand se plankpaadjie langs na die parkeerterrein voor Boulders Beach Lodge en Restaurant stap waar verskeie aktiwiteite vir die hele gesin aangebied sal word. Dit sluit in kinderspeletjies, gesigverf, ’n skattejag, springkasteel, praatjies oor diere en kosstalletjies wat vir almal se smaak voorsiening maak. Daar sal ook uitstallings van die Stad Kaapstad, SANParke, Sanccob en die Kaapstadse Omgewingsopvoedingtrust (CTEET) te sien wees.

Toegang is gratis en die geleentheid sal teen 14:00 ten einde loop. Die opbrengs sal aan Sanccob geskenk word.

Wat jy kan doen om Afrika-pikkewyne te help red:

  • Neem ’n Afrika-pikkewyn aan en gee hom ’n naam (sanccob.co.za).
  • Meld beseerde en/of oliebesmeerde voëls by Sanccob (021 557 6155 – kantoorure; 078 638 3731 – na-uurs en naweke) aan.
  • Skenk geld aan Sanccob.
  • Doen as vrywilliger by Sanccob diens.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Kos-en-whiskykombinasies vir ’n Vrydagaand

Jy hoef nie net wyn met kos voor te sit nie; probeer gerus hierdie whisky-en-kos-kombinasies. Deur Leah van Deventer

Close